JESAJA 51:9-23
JESAJA 51:9-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Word wakker! Word wakker, HERE! Beklee Uself met mag, sterk arm van die HERE! Word wakker soos vroeër soos in tye lank gelede. Is dit dan nie U wat Rahab aan stukke gekap het, die seemonster deurboor het nie? Is U nie die Een wat die see, die diepwaters, laat opdroog het, wat ’n pad gemaak het op die bodem van die see sodat dié wat verlos is, kon deurtrek nie? Almal vir wie die HERE losgekoop het, sal met vreugde terugkeer na Sion. Blydskap sal die kroon op hulle koppe wees. Hulle sal vol vreugde en blydskap wees. Hartseer en smart sal verdwyn. “Ek, ja, Ek is die Een wat julle troos. Hoekom is julle dan bang vir gewone mense, vir mense wat soos gras vergaan en verdwyn? Julle het vergeet van die HERE, julle Skepper wat die hemel oopgespan het, wat die fondamente van die aarde gelê het. Jy was altyd vol vrees vir die woede van jou verdrukkers wat uit is daarop om jou te vernietig. Maar waar is die toorn van jou verdrukker nou? Een van die dae word al jou gevangenes vrygelaat! Hulle sal nie doodgaan in die tronk nie en hulle sal ook nie honger ly nie. Want Ek is die HERE jou God wat die see onstuimig maak sodat sy golwe dreun. Die HERE, die Almagtige, is my Naam! Ek het my woorde in jou mond gesit. Ek het jou beskerm met die skadu van my hand. Dis Ek wat die sterre op hulle plek sit, en die aarde gevestig het. Dis Ek wat vir Sion sê: ‘Jy is Myne!’” HERE Word wakker, word wakker! Staan op, Jerusalem! Jy wat die beker van toorn uit die hand van die HERE gedrink het. Jy wat dit leeggedrink het sodat dit jou laat steier het. Nie een van jou kinders was daar om jou te lei nie. Daar was nie een van jou kinders wat jou hand gevat het om te sê wat jy moet doen nie. ’n Dubbele ramp het jou getref. Wie is daar om jou te troos? Daar is net verwoesting en vernietiging, hongersnood en oorlog. Wie is daar om jou te bemoedig? Jou kinders het flou geword. Hulle lê in die strate, hulpeloos soos wild wat in ’n vangnet gevang is. Die HERE het sy wraak oor hulle uitgestort. God het hulle gestraf. Daarom, luister nou hierna, jy met soveel ellende, jy wat dronk is, maar nie van wyn nie. So sê jou oppermagtige HERE, jou God en jou Beskermer: “Kyk, Ek vat uit jou hand die beker wat jou laat steier. Uit die beker van my woede hoef jy nooit weer te drink nie. Ek sit daardie beker in jou verdrukkers se hand, hulle wat vir jou gesê het: ‘Gaan lê op die grond sodat ons oor jou kan loop!’ En jy het jou rug gemaak soos die grond, soos ’n straat vir hulle wat oor jou geloop het.”
JESAJA 51:9-23 Bybel vir almal (ABA)
Here, U moet wakker word, U moet wakker word. U moet weer sterk wees. U moet wakker word soos in die tyd toe alles begin het, lank, lank gelede. Dit is U wat vir Rahab stukkend gekap het, dit is U wat vir Tannin doodgesteek het. Dit is U wat die see droog gemaak het, die water van die groot see. Dit is U wat deur die diep see 'n pad gemaak het sodat die Israeliete daar kon deurgaan toe U hulle vrygemaak het. So sal die Israeliete nou terugkom wanneer U hulle vrymaak. Hulle sal juig en aanhou om bly te wees wanneer hulle in Sion kom. Hulle sal vrolik wees en lag, hulle sal nie meer bekommerd wees en nie meer sug nie. Die Here sê: “Dit is Ek wat dit weer goed sal laat gaan met julle. Hoekom is julle bang vir mense wat kan sterf? Hoekom is julle bang vir mense wat soos gras is en gou doodgaan? Julle het My vergeet, Ek is die Here wat julle gemaak het. Ek het die hemeldak gemaak en Ek het die aarde op sy plek gesit. Nou hou julle aan om te bewe vir die mense wat kwaad is vir julle, die mense wat vir julle verdruk en wat vir julle wil doodmaak. Maar waar is daardie mense nou, die mense wat kwaad was en wat vir julle verdruk het? Hulle verdruk julle nie meer nie. Wanneer iemand 'n gevangene is, dan is hy haastig om vry te word. Hy wil nie sterf en afgaan na die doderyk nie, hy wil nie altyd honger wees nie. Ek is julle God die Here wat die water in die see roer sodat die branders wild word. My Naam is die Here wat oor alles regeer. Ek het my woorde in jou mond gesit en Ek het jou toegemaak in die skaduwee van my hand. Ek het die hemeldak gemaak en Ek het die aarde op sy plek gesit. Ek het vir die mense van Sion gesê: Julle is my volk.” Jerusalem, jy moet wakker word, jy moet wakker word en opstaan. Die Here was kwaad vir jou. Hy het jou laat drink uit die beker, die beker van swaarkry wat jou dronk gemaak het. Jy moes die beker leegdrink. Die Here sê: “Jerusalem, jy was soos 'n vrou wat baie kinders gekry het, maar nie een kind het later haar hand geneem en haar gelei nie. Twee dinge het met jou gebeur, en niemand was jammer vir jou nie. Die vyande het jou seergemaak en stukkend geslaan. Die vyande het jou mense laat honger word en het hulle doodgemaak. Wat moet Ek doen sodat dit weer goed kan gaan met jou? Jou seuns het flou geval. Hulle het gelê waar die strate teen die stad se mure kom, soos wildsbokke wat in 'n vangnet gevang is. Dit het gebeur omdat die Here kwaad was, omdat jou God jou wou laat swaarkry. Jy kan jouself nie help nie, daarom moet jy luister. Jy is dronk, maar nie van wyn nie. Jou Here, jou God die Here, praat. Hy sal sy volk help. Hy sê: Kyk, Ek neem die beker uit jou hand, die beker wat jou dronk gemaak het omdat Ek kwaad was vir jou. Jy moenie dit drink nie, jy mag dit los. Maar Ek gee die beker vir die mense wat jou laat swaarkry het, die mense wat vir jou gesê het: ‘Gaan lê, ons wil oor jou loop.’ Jy moes word soos die grond, soos die strate waar die mense loop.”
JESAJA 51:9-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die HERE! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie? Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see 'n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie? So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg. Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? — dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker? Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie. Maar Ek is die HERE jou God wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis; HERE van die leërskare is sy Naam! En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk is jy! ONTWAAK, ontwaak, staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die HERE die beker van sy grimmigheid gedrink het; die kelk van bedwelming het jy uitgedrink, uitgesuig. Nie een van al die seuns wat sy gebaar het, het haar gelei nie; en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gegryp nie. Hierdie twee dinge het jou oorgekom — wie het medelyde met jou? — verwoesting en verbreking, hongersnood en swaard. Hoe sou ek jou kan troos? Jou kinders het onmagtig gelê by al die straathoeke soos 'n eland in 'n vangkuil, vol van die grimmigheid van die HERE, van die dreiging van jou God. Daarom, hoor tog dit, ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie! So sê jou Here, die HERE, en jou God wat die saak van sy volk verdedig: Kyk, Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, die kelk van my grimmigheid; jy sal dit verder nie meer drink nie. Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen, wat vir jou gesê het: Buig, dat ons oor kan gaan; en jy moes jou rug maak soos die grond en soos 'n straat vir die wat daaroor gaan.
JESAJA 51:9-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Gryp in, Here, gryp in! Toon u mag, u krag! Gryp in soos in die ou tyd, soos in tye lank gelede. Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het nie, wat die seemonster deurboor het nie? Is dit nie U wat die see, die groot diep waters laat opdroog het nie, U wat op die seebodem 'n pad gemaak het sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie? Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees, ellende en smart sal verdwyn. Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle. Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens, vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras? Jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel oopgespan het, wat die aarde se fondamente gelê het. Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker, vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig, maar waar is die woede van jou verdrukker nou? Binnekort sal dié wat nog gevange gehou word, vrygelaat word, die ballingskap sal nie hulle graf word nie, en hulle sal nie honger ly nie. Ek is die Here jou God, Ek laat die see onstuimig word, Ek laat sy golwe druis. Sy Naam is die Here die Almagtige! Ek het vir jou gesê wat jy moet sê, en jou beskerm in die skaduwee van my hand, want Ek het die hemel oopgespan en die aarde se fondamente gelê en vir Sion gesê: Jy is my volk. Word wakker, word wakker! Staan op, Jerusalem! Jy wat die oordeelsbeker uit die hand van die Here gedrink het, wat die beker gedrink het wat jou laat steier het, dit leeggedrink het! Onder al die seuns wat jy in die wêreld gebring het, was daar nie een wat jou gelei het nie, onder almal wat jy grootgemaak het, was daar nie een wat jou aan die hand gevat het nie. Kyk wat het jou alles getref. Wie het nog medelye met jou? Daar is net verwoesting en vernietiging, hongersnood en bloedvergieting. Wie kan vir jou uitkoms gee? Soos wild wat in 'n vangnet gevang is, lê jou seuns magteloos op die hoeke van die strate, voluit getref deur die toorn van die Here, deur die straf van jou God. Luister dan tog hierna, jy wat in soveel ellende verkeer, jy wat dronk is, maar nie van wyn nie. So sê die Here, jou Here en jou God wat die saak van sy volk behartig: Ek gaan die beker wat jou laat steier het, uit jou hand wegvat, die beker van my toorn. Jy hoef nie verder daaruit te drink nie. Inteendeel, Ek sit dit in die hand van jou verdrukkers, hulle wat vir jou gesê het: “Gaan lê dat ons oor jou kan loop.”
JESAJA 51:9-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Word wakker, word wakker, beklee U met krag, arm van die HERE! Word wakker, soos in die verre verlede, in die tyd van vergange geslagte! Is dit nie U wat Rahab aan stukke gekap het, die seemonster deurboor het nie? Is dit nie U wat die see drooggelê het, die water van die groot oervloed, wat in die dieptes van die see 'n pad gemaak het, sodat dié wat losgekoop is, kon deurtrek nie? Wie deur die HERE vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete; met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig; verdriet en gesug sal wegvlug. “Ek, ja, Ek is die Een wat julle troos. Wie is jy dan dat jy bang is vir gewone mense wat sal sterf, vir mensekinders wat bestem is om soos gras te sterf, dat jy die HERE wat jou gemaak het, vergeet – Hy wat die hemel oopgespan en die aarde gegrondves het – dat jy voortdurend, daglank, bewe vir die woede van die verdrukker wanneer hy daarop uit is om te verwoes? Waar is die woede van die verdrukker? Wie in boeie vooroor geboë sit, sal binnekort losgelaat word; hy sal nie sterf nie, nie na die grafkuil gaan nie; aan brood sal dit hom nie ontbreek nie. Want Ek is die HERE jou God, wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun.” Die HERE, Heerser oor alle magte is sy Naam. “Ek gee my woorde in jou mond; met die skadu van my hand bedek Ek jou, om so die hemel oop te span en die aarde te grondves, en om vir Sion te sê, ‘Jy is my volk.’ ” Skud jouself wakker! Skud jouself wakker! Staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die HERE die beker van sy woede gedrink het! Die beker wat 'n mens laat steier, het jy gedrink, leeg geslurp. Daar is niemand wat haar lei nie, nie een van al die kinders waaraan sy geboorte gegee het nie. Daar is niemand wat haar hand vashou nie, nie een van al die kinders wat sy grootgemaak het nie. Hierdie dubbele rampe het jou getref – wie sal jou jammer kry? – verwoesting en ineenstorting, hongersnood en swaard. Wie sal jou troos? Jou kinders – hulle is in 'n beswyming, hulle lê op die hoek van elke straat, soos 'n gemsbok in 'n vangnet. Hulle het oorgenoeg gehad van die HERE se woede, van die dreiging van jou God. Daarom, luister tog hierna, magtelose, jy wat dronk is, maar nie van wyn nie. So sê jou Heer, die HERE, jou God, wat sy volk se saak behartig: “Kyk, Ek het die beker wat 'n mens laat steier uit jou hand geneem, die beker van my woede. Jy sal dit nie nog 'n keer hoef te drink nie. Ek sal dit plaas in die hand van hulle wat jou geteister het, hulle wat oor jou lewe gesê het, ‘Lê plat, sodat ons oor jou kan loop!’ Jy het jou rug gehou asof dit grond is, asof dit 'n straat is vir hulle wat verbygaan.”
JESAJA 51:9-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ontwaak, ontwaak, beklee met sterkte, arm van die HERE! wakker, soos in die ou dae, in die geslagte van ouds. Is dit nie jy wat Ragab afgekap en die draak geslaan het nie? Is dit nie U wat die see laat droogmaak het nie, die waters van die groot dieptes; wat die dieptes van die see 'n weg gemaak het vir die losgekooptes om deur te trek? Daarom sal die verlostes van die HERE terugkeer en na Sion kom met gejubel; en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; blydskap en blydskap sal hulle verkry; en droefheid en rou sal wegvlug. Ek is dit wat julle troos: wie is jy, dat jy bang sou wees vir 'n man wat sal sterwe en vir die mensekind wat soos gras gemaak word; En vergeet die HERE, jou Skepper, wat die hemel uitgespan en die aarde gegrondves het; en het jy gedurigdeur elke dag gevrees vanweë die grimmigheid van die verdrukker, asof hy gereed was om te vernietig? en waar is die grimmigheid van die verdrukker? Die gevangene haas hom om losgelaat te word en nie in die kuil te sterwe nie en ook nie dat sy brood ophou nie. Maar Ek is die HERE jou God wat die see gekloof het, wie se golwe gedreun het: HERE van die leërskare is sy Naam. En Ek het my woorde in jou mond gelê, en Ek het jou bedek in die skaduwee van my hand, dat Ek die hemele kan plant en die fondamente van die aarde kan lê en vir Sion kan sê: Jy is my volk. Ontwaak, ontwaak, staan op, Jerusalem, wat uit die hand van die HERE die beker van sy grimmigheid gedrink het; U het die slyk van die beker van bewing gedrink en dit uitgewring. Daar is niemand om haar te lei onder al die seuns wat sy gebaar het nie; en daar is niemand wat haar aan die hand neem van al die seuns wat sy grootgemaak het nie. Hierdie twee dinge het oor jou gekom; wie sal vir jou jammer wees? verwoesting en verwoesting en hongersnood en swaard; deur wie sal ek jou troos? U seuns is beswyk, hulle lê aan die hoof van al die strate, soos 'n wilde bul in 'n net; hulle is vol van die grimmigheid van die HERE, die bestraffing van u God. Daarom, hoor nou dit, jy ellendige en dronk, maar nie van wyn nie! So sê jou HERE die HERE en jou God wat die saak van sy volk verdedig: Kyk, Ek het die beker van bewing uit jou hand geneem, die slyk van die beker van my grimmigheid; jy mag dit nie meer drink nie. Maar Ek sal dit gee in die hand van die wat jou verdruk; wat vir jou siel gesê het: Buig neer, dat ons kan oortrek; en jy het jou liggaam neergelê soos die grond en soos die straat vir die wat oorgegaan het.
JESAJA 51:9-23 Die Boodskap (DB)
Staan tog op, Here. Gryp in met u krag. Veg weer soos U in die ou tyd lank gelede geveg het. Dit was mos U wat die seemonster Rahab verslaan het. U het die seemonster vernietig. Dit was U wat die water laat wegdroog het. U het onder op die bodem van die see ’n pad gemaak sodat dié wat U bevry het, deur die see kon gaan. Dié wat die Here vrygemaak het, sal weer terugkom na Jerusalem. Hulle sal baie bly wees as hulle in Sion aankom. Die gesigte sal straal van vreugde. Hulle sal vol blydskap wees. Hulle hartseer en swaarkry sal verby wees. Ek self praat jou moed in. Hoekom is jy dan bang vir ’n mens wat ook maar kan doodgaan? ’n Mens is mos maar soos gras wat ook kan verbygaan. Jy vergeet dat die Here jou gemaak het. Hy het die lug daar bo oopgespan. Hy het die grond hier onder vasgemaak. Nogtans is jy die hele dag lank bang vir jou onderdrukker wat so wreed is om alles te verwoes. Hy kan jou niks meer maak nie. Binnekort sal almal wat in tronke aangehou word, weer vrygelaat word. Hulle sal nie in die tronk doodgaan nie. Hulle sal nie langer honger ly nie. Ek is die Here jou God. Ek laat storms op die see kom. Ek laat die branders bruis. My Naam is Here van die hemelse leërmag. Ek het die lug oor die aarde gespan. Ek het die aarde stewig op sy plek neergesit. Ek het vir Jerusalem se inwoners gesê: “Julle is my volk.” Ek sê vir jou wat jy moet sê. Ek beskerm jou. Skrik wakker, Jerusalem. Staan op! Jy het die beker van die Here se woede leeggedrink. Dit het jou laat steier. Van almal wat jy in die wêreld gebring het, is daar nie ’n enkele een wat vir jou die pad kan wys nie. Van almal wat jy grootgemaak het, is daar nie een wat jou kan ondersteun nie. Wie sal sê dat hulle meegevoel het met wat met jou gebeur het? Jou land is verwoes. Die oorlog het hongersnood vir jou gebring. Wie kan jou troos? Jou seuns lê magteloos op die hoeke van die strate. Hulle is soos wilde diere wat in ’n strik gevang is. Die Here het hulle met sy woede getref. Hy het hulle gestraf. Hoor ’n bietjie hier, julle wat so swaargekry het. Julle loop en steier, maar dit is nie omdat julle dronk is nie. Die Here jou God sal sy volk se lot verander. Hy sê: Ek gaan die beker wat jou so laat steier het, by jou wegvat. Jy hoef nie langer die beker van my woede te drink nie. Ek gaan daardie beker gee vir hulle wat julle verdruk het. Hulle sal dit drink. Hulle het vir julle gesê: “Gaan lê op die grond dat ons oor julle kan loop.” Jy moes op die grond gaan lê dat hulle op jou kon trap en bo-oor jou kon loop asof jy ’n pad is.
JESAJA 51:9-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Word wakker! Word wakker, HERE! Beklee Uself met mag, sterk arm van die HERE! Word wakker soos vroeër soos in tye lank gelede. Is dit dan nie U wat Rahab aan stukke gekap het, die seemonster deurboor het nie? Is U nie die Een wat die see, die diepwaters, laat opdroog het, wat ’n pad gemaak het op die bodem van die see sodat dié wat verlos is, kon deurtrek nie? Almal vir wie die HERE losgekoop het, sal met vreugde terugkeer na Sion. Blydskap sal die kroon op hulle koppe wees. Hulle sal vol vreugde en blydskap wees. Hartseer en smart sal verdwyn. “Ek, ja, Ek is die Een wat julle troos. Hoekom is julle dan bang vir gewone mense, vir mense wat soos gras vergaan en verdwyn? Julle het vergeet van die HERE, julle Skepper wat die hemel oopgespan het, wat die fondamente van die aarde gelê het. Jy was altyd vol vrees vir die woede van jou verdrukkers wat uit is daarop om jou te vernietig. Maar waar is die toorn van jou verdrukker nou? Een van die dae word al jou gevangenes vrygelaat! Hulle sal nie doodgaan in die tronk nie en hulle sal ook nie honger ly nie. Want Ek is die HERE jou God wat die see onstuimig maak sodat sy golwe dreun. Die HERE, die Almagtige, is my Naam! Ek het my woorde in jou mond gesit. Ek het jou beskerm met die skadu van my hand. Dis Ek wat die sterre op hulle plek sit, en die aarde gevestig het. Dis Ek wat vir Sion sê: ‘Jy is Myne!’” HERE Word wakker, word wakker! Staan op, Jerusalem! Jy wat die beker van toorn uit die hand van die HERE gedrink het. Jy wat dit leeggedrink het sodat dit jou laat steier het. Nie een van jou kinders was daar om jou te lei nie. Daar was nie een van jou kinders wat jou hand gevat het om te sê wat jy moet doen nie. ’n Dubbele ramp het jou getref. Wie is daar om jou te troos? Daar is net verwoesting en vernietiging, hongersnood en oorlog. Wie is daar om jou te bemoedig? Jou kinders het flou geword. Hulle lê in die strate, hulpeloos soos wild wat in ’n vangnet gevang is. Die HERE het sy wraak oor hulle uitgestort. God het hulle gestraf. Daarom, luister nou hierna, jy met soveel ellende, jy wat dronk is, maar nie van wyn nie. So sê jou oppermagtige HERE, jou God en jou Beskermer: “Kyk, Ek vat uit jou hand die beker wat jou laat steier. Uit die beker van my woede hoef jy nooit weer te drink nie. Ek sit daardie beker in jou verdrukkers se hand, hulle wat vir jou gesê het: ‘Gaan lê op die grond sodat ons oor jou kan loop!’ En jy het jou rug gemaak soos die grond, soos ’n straat vir hulle wat oor jou geloop het.”