JESAJA 51:1-8

JESAJA 51:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Die Here sê: “Julle wat wil reg doen, julle moet luister na My. Julle wat My wil dien, julle moet onthou van waar julle kom. Julle moet dink aan julle voorvader Abraham en aan Sara, julle is uit haar gebore. Abraham was alleen toe Ek hom geroep het, en Ek het hom geseën, Ek het vir hom 'n groot nageslag gegee. Regtig, Ek sal dit weer goed laat gaan met Sion. Die stad is nou net hope klippe, maar Ek sal dit weer daar goed laat gaan. Dit lyk nou soos 'n woestyn, maar Ek sal dit laat word soos die tuin in Eden. Dit lyk nou soos 'n droë stuk grond, maar dit sal word soos die tuin van die Here. Die mense in die stad sal vrolik en bly wees. Hulle sal sing en hulle sal vir My dankie sê.” “My volk, julle moet luister na My. Al die mense wat aan My behoort, julle moet hoor wat Ek sê. Ek wil vir julle leer wat julle moet doen en Ek wil hê al die volke moet weet dat Ek reg besluit. Dit moet vir hulle die lig wees. Dit is nou die tyd wanneer Ek wil doen wat reg is, Ek wil julle nou red. Ek regeer oor al die volke. Die mense in die lande langs die see wag ook dat Ek oor hulle moet regeer. Kyk na die lug daarbo en na die aarde hier onder. Die lug sal verdwyn soos rook, die aarde sal word soos ou klere, en die mense op die aarde sal sterf soos muggies. Maar Ek sal julle red, julle sal altyd Myne wees. Ek sal nooit ophou om reg te doen nie. “My volk, julle weet wat reg is, julle weet wat Ek wil hê, julle moet luister na My. Julle moenie bang wees wanneer mense julle spot nie, julle moenie skrik wanneer mense sleg praat van julle nie. Dit sal met hulle gaan soos met ou klere en wol wanneer motte dit vreet. Maar Ek sal altyd reg doen, en Ek sal mense red, die mense van elke geslag.”

JESAJA 51:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

Luister na My, julle wat wil reg doen, julle wat na die wil van die Here vra: Dink aan die rots waaruit julle gekap is, aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is. Dink aan Abraham, julle voorvader, aan Sara wat vir julle in die wêreld gebring het. Ek het Abraham geroep toe hy kinderloos was en Ek het hom geseën en hom 'n groot nageslag gegee. Nou gaan die Here Hom oor Sion ontferm, Hy gaan Hom oor al die puinhope daar ontferm. Hy gaan die woestyngedeeltes maak soos Eden, die barre wêreld soos die tuin van die Here. Daar sal vreugde en blydskap in Sion wees, daar sal gedank en gesing word. Luister na My, my volk, my volk, gee aandag aan wat Ek sê: My onderrig sal uitgaan na die volke toe, my wil sal vir die nasies die koers aanwys. Die redding wat Ek bring, kom baie gou, die verlossing wat Ek bewerk, is op pad, Ek self regeer oor die nasies. Die eilande wag op My, hulle wag dat Ek My laat geld. Kyk op na die hemel, kyk na die aarde hier onder: die hemel sal soos rook verdwyn, die aarde sal word soos ou klere, en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos muggies, maar die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees, die redding wat Ek bring, sal altyd bly. Luister na My, julle wat doen wat reg is, volk in wie se hart my wet is, moenie bang wees vir die spot van mense nie, moenie skrik as hulle julle beledig nie. Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word, soos wol wat deur vismotte verniel word. Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees, die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.

JESAJA 51:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Luister na My, julle wat geregtigheid nastreef, julle wat die HERE soek! Kyk na die rots waaruit julle gekap is, na die steengroef waaruit julle gegrawe is. Kyk na Abraham, julle vader, en na Sara, wat julle met pyn in die wêreld gebring het. Ja, as een persoon het Ek hom geroep, maar Ek het hom geseën en hom talryk gemaak.” Ja, die HERE het Sion getroos, Hy het al haar puinhope getroos. Hy het haar woestyn soos Eden gemaak, haar Araba soos die tuin van die HERE. Vreugde en blydskap word in haar gevind, dankliedere en die klank van begeleiding. “ Luister mooi na My, my volk, my nasie, hoor My aan! Want onderrig sal van My uitgaan, en my beslissing sal 'n lig vir die volke wees. Binnekort bring Ek my geregtigheid nader. My verlossing is op pad; my arms sal reg verskaf aan die volke. Op My wag die eilande, op my arm is hulle hoop gevestig. Kyk op na die hemel, bekyk die aarde daaronder, want die hemel – soos rook sal dit uitmekaar dryf, en die aarde – soos 'n kleed sal dit verslyt. Wie daarop woon – soos muggies sal hulle sterf. My verlossing duur vir altyd, en my geregtigheid sal nie verbreek word nie. Luister na My, julle wat geregtigheid ken – volk met my wet in hulle harte! Moenie bang wees vir die bespotting deur mense nie; vir hulle beledigings moet julle nie skrik nie. Want soos 'n kleed sal motte hulle wegvreet; soos wol sal kleremotte hulle wegvreet. My geregtigheid sal vir altyd duur, my verlossing van geslag tot geslag.”

JESAJA 51:1-8 Die Boodskap (DB)

Julle wat probeer om reg te doen moet na My luister. Julle wat na die wil van die Here soek, moet luister. Onthou uit watter soort rots julle gekap is. Onthou uit watter steengroef julle kom. Dink aan julle stamvader Abraham. Roep Sara, julle stammoeder, in herinnering. Ek het Abraham geroep toe hy nog nie kinders gehad het nie. Ek het hom voorspoedig gemaak. Hy het ’n groot nageslag gekry. Die Here is jammer vir Sion. Hy gaan die puinhope van Jerusalem herstel. Hy gaan Juda se woestyn soos die tuin van Eden laat word. Die Here gaan die droë dele in tuine verander. Daar sal vreugde en vrolikheid in die stad wees. Hulle sal sing en vir die Here dankie sê. My volk, julle moet na My luister. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal die nasies leer hoe hulle moet lewe. Ek sal vir hulle met my reëls die koers aanwys. Binnekort sal Ek hulle verlos. Ek is Koning oor die nasies. Die lande oorsee wag vir My. Hulle is gretig dat Ek oor hulle sal regeer. Kyk op in die lug. Kyk af na die grond. Die lug sal soos rook verdwyn. Die aarde sal word soos ou klere wat uitmekaarskeur. Dié wat op die aarde woon, sal doodgaan soos muskiete. Die bevryding wat Ek bring, sal vir altyd hou. My redding het geen einde nie. Julle wat weet wat reg is, moet na My luister. Julle is mos ’n volk wat die wil van die Here met julle hele hart soek. Julle moenie bang wees vir mense wat julle spot nie. Julle moenie skrik as hulle julle slegsê nie. Hulle sal wees soos klere waaraan die motte vreet. Hulle is soos materiaal waarin daar vismotte is. Hulle hou nie vir altyd nie. Maar wat reg is, sal vir altyd hou. Wanneer Ek julle red, hou dit geslag op geslag.