JESAJA 5:15-16 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JESAJA 5:15-16 AFR83 (Afrikaans 1983)

So word mense verneder en kom hulle tot 'n val. So kom hoogmoed tot 'n val. Die Here die Almagtige is verhewe, Hy laat reg geskied; die heilige God laat Hom ken as die Heilige, Hy oordeel regverdig.

JESAJA 5:15-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder. Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.

JESAJA 5:15-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Dan sal mense verneder word en in die stof beland, die trotses sal tot ’n val kom. Die HERE, die Almagtige, sal verhoog word. Hy sal geregtigheid laat geskied. Die heiligheid van God sal in sy regverdigheid uitgestal word.

JESAJA 5:15-16 DB (Die Boodskap)

Op daardie dag sal die verwaandes tot ’n val kom en die hoogmoediges verneder word. Maar die Here die Almagtige sal sy grootheid bewys in die beslissings wat Hy gee. Hy is die heilige God wat sy heiligheid deur sy regverdige oordeel bewys.

JESAJA 5:15-16 ABA (Bybel vir almal)

Dan sal die hoogmoedige mense nie meer belangrik wees nie. Die Here wat oor alles regeer, die heilige God, Hy alleen sal belangrik en heilig wees, want Hy doen reg aan mense, Hy is regverdig.

JESAJA 5:15-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Mense sal neergebuig word, manne sal verneder word, hovaardiges sal hulle oë moet neerslaan. Die HERE, Heerser oor alle magte, is verhewe in sy regspraak; die heilige God betoon Hom heilig deur geregtigheid.

JESAJA 5:15-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die gemene man sal neergevel word, en die held sal verneder word, en die oë van die verhewe sal verneder word. Maar die HERE van die leërskare sal verhoog word in die oordeel, en God wat heilig is, sal in geregtigheid geheilig word.