JESAJA 44:1-3 - Compare All Versions

JESAJA 44:1-3 ABA (Bybel vir almal)

“Maar nou moet julle luister, nageslag van Jakob, my dienaars, Israeliete, Ek het julle gekies.” Dit is die Here wat praat, Hy wat vir julle gemaak het, wat vir julle liggame gegee het voordat julle gebore is, dit is Hy wat vir julle help. Die Here sê: “Nageslag van Jakob, my dienaars, nageslag van Jesurun, Ek het julle gekies, julle moenie bang wees nie, want Ek sal dit laat reën op die droë grond, daar sal strome water vloei. Ek sal my Gees na julle nageslag toe stuur en Ek sal hulle seën.

JESAJA 44:1-3 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

MAAR luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het! So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het! Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.

JESAJA 44:1-3 AFR83 (Afrikaans 1983)

Maar luister nou, my dienaar Jakob, Israel wat Ek uitverkies het: So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek uitverkies het. Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge.

JESAJA 44:1-3 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Maar luister nou, Jakob, my dienaar, Israel, wat Ek uitgekies het.” So sê die HERE, wat jou gemaak, jou in die moederskoot al gevorm het, wat jou help: “Moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob, ja, Jesurun, wat Ek uitgekies het. Want Ek sal water uitgiet op dorre aarde, waterstrome op droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou nageslag, en my seën op jou nakomelinge.

JESAJA 44:1-3 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar luister nou, o my kneg Jakob! en Israel wat Ek uitverkies het: So sê die HERE, wat jou gemaak en jou gevorm het van die moederskoot af, wat jou sal help; Wees nie bevrees nie, o Jakob, my kneg; en jy, Jesurun, wat Ek uitverkies het. Want Ek sal water giet op hom wat dors het, en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou nageslag giet en my seën op jou nageslag.

JESAJA 44:1-3 DB (Die Boodskap)

Jakob behoort aan My. Ek het Israel gekies om Myne te wees. Luister na wat Ek vir jou sê, Jakob-Israel. Die Here het jou gemaak. Hy het jou nog altyd gehelp vandat Hy jou in die lewe gebring het. Hy sê vir jou: Jy moenie bang wees nie, Jakob. My liewe Jesurun wat Ek gekies het om aan My te behoort, jy hoef nie te vrees nie. Ek sal water gee in die plekke waar dit baie droog is. Daar sal waterstrome loop waar die grond uitgedroog is. Ek sal my Gees in jou kinders laat kom. Ek sal krag gee vir jou nageslag.

JESAJA 44:1-3 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Maar luister nou mooi, my dienaar Jakob, Israel wat Ek gekies het. Dit is wat die HERE sê, Hy wat jou gemaak het, wat jou gevorm het in jou moeder se skoot, en jou steeds help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek gekies het. Want Ek sal jou water gee, genoeg om jou dors te les en jou droë lande nat te lei. Ek sal my Gees op jou kinders uitstort, en my seëninge op jou nageslag.