JESAJA 44

44
Israel, die uitverkorene
1“Maar luister nou mooi,
my dienaar Jakob,
Israel wat Ek gekies het.
2Dit is wat die Here sê,
Hy wat jou gemaak het,
wat jou gevorm het
in jou moeder se skoot,
en jou steeds help:
Moenie bang wees nie,
my dienaar Jakob,
Jesurun#44:2 ’n Troetelnaam vir Israel. wat Ek gekies het.
3Want Ek sal jou water gee,
genoeg om jou dors te les
en jou droë lande nat te lei.
Ek sal my Gees
op jou kinders uitstort,
en my seëninge
op jou nageslag.
4Hulle sal uitspruit soos gras
in die veld,
soos wilgerbome
langs strome water.
5Party sal trots sê:
‘Ek behoort aan die Here.’
Ander sal sê:
‘Ek is ’n afstammeling
van Jakob.’
Sommige sal die Here se Naam
op hulle hande skryf
en die naam van Israel aanneem.”
Vertroue op afgode is dwaasheid
6So sê die Here,
Israel se Koning en Verlosser,
die Here, die Almagtige:
“Ek is die Eerste en die Laaste.
Daar is geen ander God nie.
7Wie is daar wat kan vertel
wat in die toekoms gaan gebeur?
Laat hulle dit verklaar.
Laat hulle verduidelik
wat gebeur het
vandat Ek my volk gevestig het.
En laat hulle verduidelik
wat nog gaan gebeur.
8Moenie bewe nie,
moenie bang wees nie!
Het Ek nie lankal gesê
wat my doel met julle is nie?
Julle is my getuies.
Is daar enige ander God?
Nee, daar is geen ander Rots nie.
Ek weet van geeneen nie.”
9Mense wat beelde
van hulle gode vervaardig,
is niks!
En die duur beelde
wat hulle maak, is niks!
Hulle is getuies dat dit so is,
want hulle beelde sien niks
en weet niks.
Geen wonder mense wat gode aanbid,
kom in die skande nie!
10Wie anders as ’n dwaas
maak sy eie god,
’n afgod wat met net mooi niks
kan help?
11Almal wat so ’n god vereer,
kom in die skande.
Die mense wat die gode maak,
dink hulle maak ’n god.
Hulle sal almal saam verleë staan
en ontsteld en skaam wees.
12Die ystersmid vat gereedskap
en werk daarmee in die kole.
Hy vorm ’n beeld
met hamers
en smee ’n beeld
met die krag van sy arm.
Hy word honger
en sy krag word minder.
Hy drink nie water nie
en word uitgeput.
13Die timmerman
wat hout gebruik,
meet met ’n maatlyn
en merk die buitelyne
van die beeld.
Hy gebruik beitels
en merk dit met passers.
Hy vorm die beeld van ’n mens,
’n pragtige beeld,
geskik om in ’n tempel te staan!
14Die ambagsman kap seders af.
Hy kies ’n sipres of eik.
Hy laat dit groei
tussen die bome in die bos.
Of hy plant ’n lourier,
en die reën laat dit groei.
15’n Deel van die hout
gebruik hy
om vuur te maak
sodat hy warm kan word
en sy brood kan bak.
Met die ander deel maak hy
– kan jy glo? –
’n god wat mense aanbid!
Hy maak ’n beeld
en buig daarvoor neer.
16Die helfte van die hout
verbrand hy in die vuur.
Hierop berei hy sy kos voor,
en eet genoeg daarvan.
Hy verwarm hom en sê:
“Hoe lekker warm kry ek
as ek na die vuur kyk!”
17Dit wat oorbly van die hout
gebruik hy vir ’n afgodsbeeld.
Hy buig voor dit en aanbid dit.
Hy bid tot dit en sê:
“Red my tog,
want jy is my god!”
18Kan mense so onnosel wees!
Hulle verstaan niks!
Dis asof hulle oë en verstand
toegepleister is
sodat hulle niks kan sien
of verstaan nie.
19Die mens wat die afgode
gemaak het,
gaan sit nie en dink ’n bietjie na nie:
“Die helfte van die hout
het ek verbrand.
Op die kole het ek brood gebak,
ek het vleis gebraai en geëet.
Hoe kan die res daarvan
’n god wees?
Moet ek dan
voor ’n stuk hout neerbuig
en dit aanbid?”
20So ’n persoon
bou sy lewe op as.
Hy laat hom verlei
en kan homself nie red nie.
En tog kom hy nie sover
om te besef nie:
“Wat ek in my hand vashou,
is niks anders nie as ’n leuen!”
Herstel vir Jerusalem
21“Onthou hierdie dinge, Jakob,
want jy is my dienaar, Israel.
Ek het jou gemaak.
Jy is my dienaar.
Ek sal nie vergeet
om jou te red nie, Israel.
22Ek het jou sondes weggevee
soos wolke verdwyn.
Ek het jou oortredings
soos wolke laat verdwyn.
Keer terug na My toe,
want Ek het die prys betaal
om jou vry te koop.”
23Sing van blydskap, hemel,
want die Here het dit gedoen.
Roep hard, dieptes van die aarde!
Breek uit in sang, berge,
en elke boom en bos!
Want die Here het Jakob gered.
Hy vertoon sy heerlikheid in Israel.
24So sê die Here, jou Redder
wat jou in die moederskoot
gevorm het:
“Ek is die Here
wat alles geskep het.
Ek alleen het die hemel oopgespan.
Ek alleen het die aarde gevorm.
25Ek stel vals profete
as leuenaars aan die kaak,
Ek ontbloot waarsêery
as gekheid,
Ek onthul kennis van wyses
as dwaasheid.
26Maar Ek bevestig die woorde
van my profete
en vervul die voorspellings
van my boodskappers
wanneer hulle van Jerusalem sê:
‘Dit sal herbou word,’
en van die stede van Juda:
‘Hulle sal opgebou word.’
Van hulle ruïnes sê Ek:
‘Ek sal hulle herstel.’
27Wanneer Ek vir die see sê:
‘Droog op!’
sal dit opdroog.
28En wanneer Ek van Kores sê:
‘Hy sal my herder wees,’
sal hy alles doen wat Ek sê.
Van Jerusalem sal hy sê:
‘Dit moet herbou word!’
Van die tempel sal hy sê:
‘Die fondamente moet herstel
word.’”

Tans Gekies:

JESAJA 44: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid