JESAJA 26:19-21
JESAJA 26:19-21 Bybel vir almal (ABA)
Maar die mense wat aan U behoort en wat gesterf het, sal weer lewe. Ja, julle wat nou dood is, wat in die stof van die aarde lê, julle wat daar in die doderyk is, julle moet wakker word en juig, want soos die dou uit die lug die plante laat groei, so sal die aarde die mense wat gesterf het, weer laat lewe. My volk, julle moet in julle kamers ingaan en julle moet die deure agter julle toesluit. Julle moet wegkruip totdat die Here die ander mense klaar gestraf het. Want die Here kom uit sy woonplek, Hy sal nou die mense op die aarde straf omdat hulle baie sonde gedoen het. Die mense sal moet sê dat hulle ander mense vermoor het, hulle sal nie daaroor kan stilbly nie.
JESAJA 26:19-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk. Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir 'n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.
JESAJA 26:19-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee. Gaan in julle slaapkamers in, my volk, sluit die deure agter julle toe. Kruip 'n rukkie weg totdat God klaar is met straf. Die Here kom uit sy woonplek te voorskyn om die bewoners van die aarde te straf oor hulle ongeregtighede. Die aarde sal vertel van die bloed wat daarop vergiet is en sal nie meer die mense wat vermoor is, wegsteek nie.
JESAJA 26:19-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jou dooies sal leef, Israel; hulle lyke sal opstaan. Word wakker en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n hemelse dou, en die aarde sal aan skimme geboorte gee. Gaan, my volk, gaan in jou binnekamers in, en sluit jou deure agter jou toe! Kruip 'n kort rukkie weg, totdat die vervloeking verbygegaan het! Want kyk, die HERE gaan uit sy woonplek kom om van die bewoners van die aarde rekenskap te eis oor sondeskuld. Die grond sal die bloed daarop onthul, en nie langer hulle wat daarop gedood is, bedek nie.
JESAJA 26:19-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jou dooies sal lewe, saam met my dooie liggaam sal hulle opstaan. Ontwaak en sing, julle wat in die stof woon, want julle dou is soos die dou van kruie, en die aarde sal die dooies uitdryf. Kom, my volk, gaan in jou kamers en sluit jou deure om jou; verberg jou soos 'n oomblik, totdat die grimmigheid verby is. Want kyk, die HERE gaan uit sy plek om te besoeking oor die bewoners van die aarde oor hulle ongeregtigheid
JESAJA 26:19-21 Die Boodskap (DB)
Maar ons het darem hierdie troos: dié wat aan die Here behoort, sal opstaan en weer lewe. Die dooies sal opgewek word en van vreugde oor U jubel. Net soos die dou elke oggend nuwe lewe aan die aarde gee, so sal die Here dié wat lank reeds dood is, nuwe lewe gee. Gaan huis toe, my volk, en sluit julle deure toe. Kruip daar weg totdat die Here se woede teen julle vyande afgekoel het. Kyk, die Here kom uit die hemel uit om die mense van die aarde te straf oor hulle sonde. Dan sal niks meer geheim bly nie, elke moord wat gepleeg is, sal aan die lig kom, alles sal bekendgemaak word.
JESAJA 26:19-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Tog het ons dié versekering: Dié wat aan God behoort, sal lewe. Hulle liggame sal weer opstaan! Dié wat in die aarde slaap, staan op en sing van vreugde! Soos die dou lewe gee, so gee U krag tot lewe. Die aarde sal hulle wat gesterf het weer lewend teruggee.” Gaan huis toe, my volk, en sluit die deure agter julle. Kruip weg vir ’n kort rukkie tot sy toorn bedaar het. Kyk, die HERE kom van die hemel af om die mense van die aarde te straf oor hulle sondes. Die aarde sal nie meer dié wegsteek wat vermoor is nie. Hulle sal uitgebring word sodat almal hulle kan sien.