JESAJA 2:1-5
JESAJA 2:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Jesaja gewys wat sal gebeur met Juda en Jerusalem. Jesaja was die seun van Amos. Eendag sal die berg waarop die Here se tempel staan, hoër wees en vaster staan as die ander berge en heuwels. Baie volke sal na hierdie berg kom. Die mense van baie volke sal kom en hulle sal sê: “Kom ons gaan op teen die berg van die Here, na die tempel van die God van Jakob. Dan sal Hy vir ons leer wat ons moet doen, en dan kan ons so lewe. Ons moet na Jerusalem gaan, dan sal ons weet wat die Here wil hê ons moet doen en wat Hy vir ons wil sê.” Die Here sal die regter wees tussen die volke, Hy sal die baie volke vrede laat maak met mekaar. Dan sal die volke hulle swaarde en spiese smelt en hulle sal daarvan skerp ysters maak om te ploeg en messe om bome se takke af te sny. Die volke sal nie weer oorlog maak teen mekaar nie en hulle sal ook nie leer om oorlog te maak nie. Kom, nageslag van Jakob, kom ons lewe soos die Here vir ons sê.
JESAJA 2:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!
JESAJA 2:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem. Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.
JESAJA 2:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woord wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is in verband met Juda en Jerusalem. In die laaste dae sal die berg van die HERE se huis stewig staan as die hoogste van die berge; hy sal bo die heuwels uittroon. Al die nasies sal daarheen stroom; baie volke sal gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy paaie kan leer, en ons sy weë kan volg.” Ja, uit Sion sal daar onderrig kom, en die woord van die HERE uit Jerusalem. Hy sal regspreek tussen die nasies, die reg handhaaf vir talryke volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie; hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Huis van Jakob, kom, laat ons leef in die lig van die HERE.
JESAJA 2:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, aangaande Juda en Jerusalem gesien het. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels; en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie mense sal gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob; en Hy sal ons sy weë leer, en ons sal in sy paaie wandel; want uit Sion sal die wet en die woord van die HERE uit Jerusalem uitgaan. En Hy sal oordeel onder die nasies en baie volke bestraf, en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse: nasie sal nie teen nasie swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. O huis van Jakob, kom en laat ons wandel in die lig van die HERE.
JESAJA 2:1-5 Die Boodskap (DB)
Hierdie is die boodskap wat die Here vir Jesaja, Amos se seun, gegee het oor Juda en Jerusalem. In die laaste dae sal die tempel van die Here in Jerusalem die belangrikste plek op aarde word. Mense van oor die hele aarde sal daarheen stroom om daar te kom aanbid. Volke sal daarnatoe kom en vir mekaar sê: “Kom ons gaan na die berg van die Here toe, waar die tempel van Israel se God is, sodat Hy ons kan leer wat Hy van ons verwag en ons dan daarvolgens kan lewe. Want die woord van die Here kom uit Jerusalem uit en Hy maak sy wil bekend van Sion af.” Die Here sal geskille tussen lande en volke oplos. Die gevolg hiervan sal wees dat hulle hulle swaarde sal smelt en eerder ploegskare daarvan sal maak. Van hulle spiese sal hulle snoeiskêre maak. Daar sal ’n einde kom aan oorlog en niemand sal meer opgelei word om te gaan veg nie. Kom, afstammelinge van Jakob, kom ons leef soos die Here van ons verwag om te leef.
JESAJA 2:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier is nog ’n visioen wat Jesaja seun van Amos gesien het oor Juda en Jerusalem: In die laaste dae sal die berg van die tempel van die HERE die belangrikste plek op aarde word. Nasies sal daarheen stroom. Baie volke sal kom en sê: “Kom, laat ons na die berg van die HERE gaan, na die tempel van die God van Israel. Daar sal Hy ons sy weë leer sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees.” Want uit Sion kom die instruksies, en die woord van die HERE uit Jerusalem. Die HERE sal regspreek tussen nasies en dispute tussen hulle oplos. Hulle sal ploegskare maak van hulle swaarde en snoeiskêre van hulle spiese. Tussen nasies sal daar geen oorloë meer wees nie, en militêre opleiding sal nie bestaan nie. Kom, mense van Israel, laat ons lewe in die lig wat van die HERE af kom!