JESAJA 2:1-15
JESAJA 2:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Jesaja gewys wat sal gebeur met Juda en Jerusalem. Jesaja was die seun van Amos. Eendag sal die berg waarop die Here se tempel staan, hoër wees en vaster staan as die ander berge en heuwels. Baie volke sal na hierdie berg kom. Die mense van baie volke sal kom en hulle sal sê: “Kom ons gaan op teen die berg van die Here, na die tempel van die God van Jakob. Dan sal Hy vir ons leer wat ons moet doen, en dan kan ons so lewe. Ons moet na Jerusalem gaan, dan sal ons weet wat die Here wil hê ons moet doen en wat Hy vir ons wil sê.” Die Here sal die regter wees tussen die volke, Hy sal die baie volke vrede laat maak met mekaar. Dan sal die volke hulle swaarde en spiese smelt en hulle sal daarvan skerp ysters maak om te ploeg en messe om bome se takke af te sny. Die volke sal nie weer oorlog maak teen mekaar nie en hulle sal ook nie leer om oorlog te maak nie. Kom, nageslag van Jakob, kom ons lewe soos die Here vir ons sê. Waarlik, U het u volk gelos, die nageslag van Jakob want hulle probeer om waarsêers te wees soos die mense in die ooste en soos die Filistyne. Hulle klap hulle hande en probeer om die bose geeste weg te jaag, soos die mense van ander lande. Die land Juda is vol silwer en goud, die mense is baie ryk. Daar is baie perde in die land en die mense het baie oorlogkarre. Die land is vol afgode. Die mense buig voor goed wat hulle self gemaak het. Here, daarom moet U die mense laat buig en U moet hulle verneder. U moet hulle nie vergewe nie. Julle moet wegkruip agter rotse en in gate in die grond, want die Here kom. Wanneer Hy kom, dan sal julle bewe, want Hy is die Koning. Die hoogmoedige mense sal nie weer trots kan wees nie, hulle sal moet buig voor Hom. Net die Here sal op daardie dag belangrik wees. Ja, die dag van die Here sal kom, die Here wat oor alles regeer. Hy sal téén al die hoogmoedige mense wees, teen almal wat dink hulle is belangrik. Hy sal téén al die hoë bome op Libanon-berg en in die land Basan wees, ook teen al die hoë berge en heuwels, teen elke hoë toring en elke sterk muur
JESAJA 2:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE! Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel. En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie. Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het. So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit nie vergewe nie. Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil. Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees. Want 'n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan; en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure
JESAJA 2:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem. Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom. U het u volk Jakob verstoot: hulle gee hulle oor aan die waarsêery van die ooste, beoefen towery soos die Filistyne en hou saam met vreemdes vas aan bygeloof; hulle land lê vol silwer en goud, daar is geen einde aan hulle skatte nie; hulle land loop vol perde, daar is geen einde aan die getal van hulle strydwaens nie; hulle land is vol afgode, hulle buig voor die maaksel van hulle hande, voor wat hulle vingers gemaak het. So het mense hulleself verneder en tot 'n val gekom. U moet hulle dit nie vergewe nie. Vlug die rotse in, kruip weg in die grond vir die verskrikking wat van die Here kom en vir die glans van sy majesteit. Die hoogmoediges sal tot 'n val kom, die selfversekerdes sal verneder word. Op dié dag sal net die Here hoog wees. Die Here die Almagtige het 'n dag bepaal teen al wat trots en hoog is, teen alles, hoog en laag, teen al die hoë en verhewe seders van die Libanon en teen al die groot bome van Basan; teen al die hoë berge en teen al die steil rante; teen elke hoë toring en teen elke skansmuur
JESAJA 2:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woord wat aan Jesaja, seun van Amos, geopenbaar is in verband met Juda en Jerusalem. In die laaste dae sal die berg van die HERE se huis stewig staan as die hoogste van die berge; hy sal bo die heuwels uittroon. Al die nasies sal daarheen stroom; baie volke sal gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy paaie kan leer, en ons sy weë kan volg.” Ja, uit Sion sal daar onderrig kom, en die woord van die HERE uit Jerusalem. Hy sal regspreek tussen die nasies, die reg handhaaf vir talryke volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie; hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Huis van Jakob, kom, laat ons leef in die lig van die HERE. Ja, U het u volk, die huis van Jakob, verlaat omdat daar soveel voorspellers uit die Ooste by hulle is, en soveel mense wat voortekens lees soos by die Filistyne; en van die nageslag van vreemdes het hulle 'n oorvloed. Hulle land is vol silwer en goud – daar is geen einde aan hulle skatte nie. Hulle land is vol perde – daar is geen einde aan hulle strydwaens nie. Hulle land is vol nuttelose afgode; voor hulle handewerk buig hulle in aanbidding, voor dit wat hulle vingers gemaak het. Mense het neergebuig, manne het hulleself verneder. U moet hulle nie vergewe nie! Gaan skuil tussen die rotse, kruip weg in die grond uit vrees vir die HERE, vanweë sy verhewe glansrykheid! Die trotse oë van mense word verneder, die hoogmoed van manne word neergeslaan. Die HERE alleen sal verhewe wees op daardie dag. Die HERE, Heerser oor alle magte, hou immers 'n dag gereed teen alles wat verwaand en hoog is, teen alles wat verhewe is – dit sal neergeslaan word – teen al die hoë en verhewe seders van die Libanon, en teen al die eikebome van Basan, teen al die hoë berge en al die verhewe heuwels, teen elke hoë toring en elke versterkte stadsmuur
JESAJA 2:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, aangaande Juda en Jerusalem gesien het. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels; en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie mense sal gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob; en Hy sal ons sy weë leer, en ons sal in sy paaie wandel; want uit Sion sal die wet en die woord van die HERE uit Jerusalem uitgaan. En Hy sal oordeel onder die nasies en baie volke bestraf, en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse: nasie sal nie teen nasie swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. O huis van Jakob, kom en laat ons wandel in die lig van die HERE. Daarom het U u volk, die huis van Jakob, verlaat, omdat hulle van die ooste af gevul is en waarsêers is soos die Filistyne, en hulle behaag in die kinders van vreemdelinge. En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen einde aan hulle skatte nie; hulle land is ook vol perde, en daar is geen einde aan hulle strydwaens nie. En hulle land is vol afgode; hulle aanbid die werk van hulle eie hande, wat hulle eie vingers gemaak het; En die gemene man buig neer, en die groot man verootmoedig homself; vergewe hulle daarom nie. Gaan in die rots in en verberg jou in die stof uit vrees vir die HERE en ter wille van sy majesteit. Die hoë oë van die mens sal verneder word, en die hoogmoedigheid van die mense sal neergebuig word, en die HERE alleen sal in dié dag hoog wees. Want die dag van die HERE van die leërskare sal wees oor elkeen wat trots en hoog is, en oor elkeen wat verhewe is; en hy sal verneder word. En oor al die seders van die Líbanon wat hoog en verhewe is, en op al die eikebome van Basan, En op al die hoë berge en op al die heuwels wat verhewe is, En op elke hoë toring en op elke omheinde muur
JESAJA 2:1-15 Die Boodskap (DB)
Hierdie is die boodskap wat die Here vir Jesaja, Amos se seun, gegee het oor Juda en Jerusalem. In die laaste dae sal die tempel van die Here in Jerusalem die belangrikste plek op aarde word. Mense van oor die hele aarde sal daarheen stroom om daar te kom aanbid. Volke sal daarnatoe kom en vir mekaar sê: “Kom ons gaan na die berg van die Here toe, waar die tempel van Israel se God is, sodat Hy ons kan leer wat Hy van ons verwag en ons dan daarvolgens kan lewe. Want die woord van die Here kom uit Jerusalem uit en Hy maak sy wil bekend van Sion af.” Die Here sal geskille tussen lande en volke oplos. Die gevolg hiervan sal wees dat hulle hulle swaarde sal smelt en eerder ploegskare daarvan sal maak. Van hulle spiese sal hulle snoeiskêre maak. Daar sal ’n einde kom aan oorlog en niemand sal meer opgelei word om te gaan veg nie. Kom, afstammelinge van Jakob, kom ons leef soos die Here van ons verwag om te leef. Here, U het die afstammelinge van Jakob verwerp omdat hulle hulle oorgegee het aan Mesopotamiese bygelowe en net soos die Filistyne hulle met toordery besig hou. Hulle is al net so bygelowig soos hulle nuwe vriende met wie hulle omgaan. Hulle is skatryk en baie magtig met al die perde en strydwaens wat hulle besit. Maar hulle land is vol afgode en hulle aanbid hierdie nikswerd goed wat hulle met hulle eie hande gemaak het. So laag het die mense al gedaal. Here, moenie hulle hiermee laat wegkom nie! Gaan kruip weg in die grotte of in gate in die grond uit vrees vir die Here en die heerlikheid van sy Goddelike majesteit wat saam met Hom kom. Daar kom ’n dag waarop die hoogmoediges tot ’n val kom en die verwaandes op hulle plek gesit sal word. Op dié dag sal dit net die Here wees wat geëer word. Op daardie dag sal die Here almal wat verwaand en hoogmoedig is, op hulle plek sit. Hy sal al die hoë sederbome van die Libanon en die groot akkerbome van Basan tot teen die grond afkap. Hy sal al die berge en heuwels met die grond gelykmaak. En die versterkte mure met hulle wagtorings sal Hy omgooi en vernietig.
JESAJA 2:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier is nog ’n visioen wat Jesaja seun van Amos gesien het oor Juda en Jerusalem: In die laaste dae sal die berg van die tempel van die HERE die belangrikste plek op aarde word. Nasies sal daarheen stroom. Baie volke sal kom en sê: “Kom, laat ons na die berg van die HERE gaan, na die tempel van die God van Israel. Daar sal Hy ons sy weë leer sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees.” Want uit Sion kom die instruksies, en die woord van die HERE uit Jerusalem. Die HERE sal regspreek tussen nasies en dispute tussen hulle oplos. Hulle sal ploegskare maak van hulle swaarde en snoeiskêre van hulle spiese. Tussen nasies sal daar geen oorloë meer wees nie, en militêre opleiding sal nie bestaan nie. Kom, mense van Israel, laat ons lewe in die lig wat van die HERE af kom! HERE, U het die volk van Israel verwerp, want hulle is beïnvloed deur die mense van die ooste. Hulle het hulle fortuin laat vertel soos die Filistyne, en bondgenootskappe gesluit met heidene. Israel is ryk aan silwer en goud, daar is geen einde aan hulle skatte nie, en so ook nie aan hulle perde en strydwaens nie. Maar die land is vol afgode. Die mense buig neer en aanbid hierdie dinge wat hulle self gemaak het. Daarom sal elkeen verneder word en laag moet buig. Moet hulle tog nie vergewe nie! Gaan skuil in grotte, kruip weg in die grond weens die verskrikking van die HERE en die glans van sy majesteit! Die dag kom dat jou hoogmoedigheid en trots jou op die grond sal laat val en die HERE alleen verhoog sal word. Op daardie dag sal die HERE, die Almagtige, die hoogmoediges straf, en hulle in die stof neergooi. Op die Libanonberg sal Hy elke hoë seder afkap en elke groot boom van Basan. Elke hoë berg en heuwel sal Hy gelyk maak. Elke hoë toring en versterkte muur sal Hy afbreek.