HOSEA 6:4-10
HOSEA 6:4-10 Bybel vir almal (ABA)
Maar die Here sê ook: “Wat moet Ek met julle doen, mense van Israel en Juda? Julle liefde is soos 'n wolk of soos dou. Dit is vroeg in die oggend daar, maar dit verdwyn gou. Dit is hoekom Ek die profete gestuur het om hard te praat met julle en vir julle te sê dat julle sal sterf. Ek wou julle straf, so seker soos die son elke dag opkom. Ek wou julle straf, want offers en brand-offers is nie vir My belangrik nie. Ek wil hê julle moet lief wees vir My en julle moet naby My wees. Julle het die verbond met My gebreek soos julle gedoen het in die stad Adam. Julle was toe ontrou aan My. Al die mense in die land Gilead het verkeerde dinge gedoen, hulle was skelm en hulle het mense vermoor. Die klomp priesters het soos diewe gelê en wag langs die pad na die stad Sigem en hulle het mense vermoor. Hulle het verkeerde dinge gedoen. Die dinge wat Ek in die volk Israel sien, is baie verkeerd. Die mense van Israel is ontrou aan My, hulle het hulleself onrein gemaak.”
HOSEA 6:4-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos 'n môrewolk en soos 'n dou wat vroeg weer verdwyn. Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete, hulle gedood deur die woorde van my mond, en die oordele oor jou kom te voorskyn soos 'n ligstraal. Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers. Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel. Gílead is 'n stad van kwaaddoeners, vol bloedspore. En soos 'n rower op die loer lê, loer 'n priesterbende; hulle pleeg moord op die pad na Sigem, ja, hulle het skandelike dade gedoen. In die huis van Israel het Ek 'n afskuwelike ding gesien: Efraim het daar tot hoerery verval, Israel is verontreinig.
HOSEA 6:4-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos 'n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou. Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig, want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers. Julle het weer die verbond met My verbreek soos destyds by die dorp Adam; daar was julle ontrou aan My. Gilead is 'n dorp vol mense wat onreg doen, 'n plek met bloed bevlek. Die klomp priesters is niks anders as 'n rowerbende nie: hulle pleeg moord op die Sigempad, hulle tree soos skurke op. Ek het iets afstootliks in die koningshuis van Israel gesien: daar vind die hoerery van Efraim plaas, daar word Israel verontreinig.
HOSEA 6:4-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle trou is soos 'n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn. Daarom het Ek hulle neergevel deur die profete, hulle omgebring met die woorde van my mond. My oordele verskyn soos die lig; want Ek verwag troue liefde, nie offers nie; kennis van God, eerder as •brandoffers.” “ Maar hulle het die verbond oortree soos in Adam; daar was hulle ontrou aan My. Gilead is 'n dorp van boosdoeners, hulle laat 'n spoor van bloed. Soos struikrowers wat iemand voorlê, is die priesterbende – op die pad na Sigem pleeg hulle moord; ja, hulle tree skandelik op. “In die huis van Israel het Ek iets afskuweliks gesien: Daar het die hoerery van Efraim plaasgevind, is Israel verontreinig.”
HOSEA 6:4-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O Efraim, wat moet ek met jou doen? O Juda, wat moet ek met jou doen? want jou goedheid is soos 'n môrewolk, en soos die vroeë dou gaan dit weg. Daarom het Ek hulle deur die profete gekap; Ek het hulle gedood deur die woorde van my mond, en u oordele is soos die lig wat uitgaan. Want Ek het barmhartigheid begeer en nie offerande nie; en die kennis van God meer as brandoffers. Maar hulle het soos mense die verbond oortree; daar het hulle troueloos teen My gehandel. Gilead is 'n stad van die wat ongeregtigheid werk, en is met bloed besoedel. En soos die menigte van rowers op 'n man wag, so moor die menigte van priesters met toestemming op die pad, want hulle pleeg skande. Ek het 'n afgryslike ding in die huis van Israel gesien: daar is die hoerery van Efraim, Israel is verontreinig.
HOSEA 6:4-10 Die Boodskap (DB)
“Die Here sê: ‘Wat op aarde moet Ek met jou aanvang, Efraim? Wat moet Ek met julle maak, Juda? Julle bly net so lank getrou aan My soos mis wat voor die son verdwyn. Dit hou net so lank soos dou wat vroeg in die oggend al verdwyn. Dis hoekom Ek julle stukkend getrap het met die woorde van my boodskappers. Dit is hoekom Ek julle met my woorde uitmekaargeskeur het. My besluit oor julle is so helder soos daglig: Ek wil baie eerder hê dat julle by My bly as dat julle van ver af offers vir My slag. Ek wil eerder hê dat julle getrou moet wees aan My as dat julle op altare offers vir My verbrand. “Daar by die dorp Adam het hulle my ooreenkoms met hulle verbreek. Hulle het nie aan My getrou gebly nie. Gilead is ’n stad vol kwaaddoeners en moordenaars. Die mans wat daar offers bring, is soos rowers wat mense langs die pad Sigem toe voorlê om hulle dood te maak. Hulle het gruwelike dinge gedoen. Ek het gesien daar gebeur iets vreeslik leliks in Israel. Ek het daar gesien hoe Efraim soos ’n slegte vrou agter ander gode aanloop. Ek het gesien hoe Israel soos ’n ontroue vrou haar man verkul.
HOSEA 6:4-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“O Israel en Juda, wat moet Ek met julle doen?” vra die HERE. “Want julle liefde is soos ’n môrewolkie wat gou verdwyn, soos dou wat wegraak voor die son. Ek het my profete gestuur om julle in stukke te kap. Ek het julle met my woorde getref, gedreig met die dood. My oordeel sal julle tref so seker as die dag breek. Ek soek troue liefde en nie offers nie; toewyding aan God en nie brandoffers nie. “Maar soos Adam die verbond met My verbreek het, so was julle ontrou aan My. Gilead is ’n stad vol bose mense wat ’n bloedspoor laat. Soos ’n rowerbende wat in ’n hinderlaag lê en wag vir slagoffers, so vermoor priesterbendes die reisigers op die pad na Sigem. Hulle begaan allerlei booshede. Ja, Ek het ’n afskuwelike ding in die koningshuis van Israel gesien: Deur agter ander gode aan te gaan, het Efraim se godsdienstige owerspel my volk onrein gemaak!