HOSEA 6

6
1“Kom ons gaan terug na die Here, want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind. 2Hy sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef. 3Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.”
4Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos 'n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou. 5Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig, 6want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.
Julle het die verbond met My verbreek
7Julle het weer die verbond met My verbreek soos destyds by die dorp Adam; daar was julle ontrou aan My.
8Gilead is 'n dorp vol mense wat onreg doen, 'n plek met bloed bevlek. 9Die klomp priesters is niks anders as 'n rowerbende nie: hulle pleeg moord op die Sigempad, hulle tree soos skurke op.
10Ek het iets afstootliks in die koningshuis van Israel gesien: daar vind die hoerery van Efraim plaas, daar word Israel verontreinig.
11Ook vir jóú, Juda, lê die tyd van afrekening voor.

Tans Gekies:

HOSEA 6: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid