HOSEA 14:1-9
HOSEA 14:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Die mense van die stad Samaria moet tevrede wees wanneer God hulle straf, want hulle wou nie luister na hulle God nie. Die vyande sal hulle doodmaak, die vyande sal hulle babatjies doodslaan en hulle sal die swanger vroue oopkap. Mense van Israel, julle moet terugkom na julle God die Here toe, want julle kry swaar. Dit is omdat julle sonde gedoen het. Julle moet terugkom na die Here toe, julle moet vir Hom sê: “Vergewe asseblief ons sonde en luister na wat ons vir U wil sê. Hierdie woorde is ons offer. Die koning van Assirië sal ons nie help nie, en ons wil nie weer oorlog maak nie. Ons sal nooit weer sê 'n beeld wat ons self gemaak het, is ons god nie. Ons is soos weeskinders, en ons weet dat U goed sal wees vir ons.” Die Here sê: “Ek sal hulle gesond maak sodat hulle nie weer sal weggaan van My nie. Ek sal baie lief wees vir hulle, Ek is nie meer kwaad vir hulle nie. Ek sal vir die Israeliete so goed wees soos die dou vir die veld. Hulle sal so mooi groei soos blomme, en hulle sal diep wortels hê soos die bome op die Libanon-berg. Hulle jong takkies sal groei en hulle sal so mooi word soos 'n olyfboom, en hulle sal so lekker ruik soos die bome op die Libanon-berg. Die mense sal weer woon in die skaduwee van die Libanon-berg. Hulle sal groei soos koring, hulle sal druiwe dra soos 'n wingerdstok, en hulle wyn sal so goed wees soos die wyn van die Libanon-berg. Mense van Efraim, Ek wil nie meer kyk na die beelde van julle afgode nie. Ek sal luister na julle gebed en Ek sal vir julle sorg. Ek is soos 'n sipresboom wat altyd groen blare het. Dit is Ek wat julle sal laat lewe.”
HOSEA 14:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SAMARÍA sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word. Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid. Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied. Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming. Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos 'n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van 'n olyfboom en sy geur soos die Líbanon. Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon. Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos 'n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.
HOSEA 14:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Samaria sal boet, want hy is in opstand teen sy God. Die mans sal met die swaard doodgesteek word, die klein kindertjies sal verpletter word en die swanger vrouens sal oopgesny word. Keer terug na die Here jou God, Israel, want jy het geval deur jou sonde. Bely julle sonde en kom terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sonde en neem ons belydenis aan. Ons bely teenoor U: Assirië hou vir ons niks goeds in nie. Ons sal ons nie meer op wapens verlaat nie. Ons sal ook nie meer vir ons eie handewerk sê: ‘Ons god’ nie. By U alleen is daar liefde vir 'n weeskind.” Ek sal hulle ontrou genees. Ek sal hulle van harte liefhê. Wanneer my toorn van hom afgewend is, sal Ek vir Israel wees soos die dou. Hy sal bloei soos 'n lelie en hy sal so vas staan soos die Libanon. Hy sal geil groei. Hy sal so sterk wees soos 'n olyfboom en hy sal ruik soos die plante van Libanon. Dié wat voorheen by die Libanon gewoon het, sal terugkom. Hulle sal weer koring verbou. Hulle sal welig groei soos 'n wingerdstok. Die roem van Israel sal wees soos die wyn van die Libanon. Efraim, Ek wil niks te maak hê met afgodsbeelde nie. Ek het jou verneder, maar Ek sal jou weer onder my sorg neem. Ek is soos 'n groen sipres. Alles wat jy het, sal van My af kom.
HOSEA 14:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Samaria gaan boet, want sy was in opstand teen haar God. Deur die swaard sal hulle val; hulle kinders sal verpletter word, hulle swanger vroue sal oopgesny word. Keer terug, Israel, na die HERE jou God, want jy het deur jou sondeskuld gestruikel. Kom met julle woorde en keer terug na die HERE. Sê vir Hom: “Vergewe ons sondeskuld volkome, aanvaar ons belydenis; ons wil met die vrug van ons lippe vergoed. Assirië kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie, en ons sal nie meer ons handewerk ‘ons god’ noem nie; want net by U vind die vaderlose ontferming.” “ Ek sal hulle afvalligheid genees, Ek sal hulle uit vrye wil liefhê. Omdat my woede teen hom bedaar het, sal Ek vir Israel wees soos dou. Hy sal bloei soos 'n narsing, en wortels skiet soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei; sy prag sal wees soos dié van 'n olyfboom, en sy geur soos dié van die Libanon. Dié wat in sy skaduwee gewoon het, sal terugkeer; hulle sal koring verbou, en uitspruit soos 'n wingerdstok. Die roem van Israel sal wees soos die wyn van die Libanon. “Efraim, watter ooreenkoms is daar nog tussen My en die afgode? Ek is die Een wat hom antwoord, en Ek hou hom in die oog. Ek is soos 'n immergroen sipres – by My word jou vrugbaarheid gevind.”
HOSEA 14:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O Israel, bekeer julle tot die HERE jou God; want jy het deur jou ongeregtigheid geval. Neem woorde saam en bekeer jou tot die HERE; sê vir Hom: Neem alle ongeregtigheid weg en neem ons genadiglik aan, sodat ons die kuite van ons lippe vergelde. Assur sal ons nie verlos nie; ons sal nie op perde ry nie, en oor die werk van ons hande sal ons nie meer sê: Julle is ons gode nie, want in U vind die wees barmhartigheid. Ek sal hulle terugval genees, Ek sal hulle verniet liefhê, want my toorn is van hom afgewend. Ek sal vir Israel wees soos dou; hy sal groei soos 'n lelie en sy wortels uitwerp soos die Líbanon. Sy takke sal uitsprei, en sy prag sal wees soos die olyfboom en sy reuk soos die Líbanon. Die wat onder sy skaduwee woon, sal terugkeer; hulle sal lewendig word soos die koring en groei soos die wingerdstok; die geur daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon. Efraim sal sê: Wat het ek nog met die afgode te doen? Ek het hom gehoor en hom opgemerk: Ek is soos 'n groen sipres. Van my is u vrugte gevind. Wie is wys, en hy sal hierdie dinge verstaan? verstandig, en hy sal hulle ken? want die weë van die HERE is reg, en die regverdiges sal daarin wandel; maar die oortreders sal daarin val.
HOSEA 14:1-9 Die Boodskap (DB)
“Samaria sal betaal vir sy skuld. Hy het mos met sy God baklei. Die vyand sal sy mans met swaarde doodmaak. Sy kinders sal uitgeroei word. Hulle sal vroue wat babas verwag met swaarde oopsny.” “Israel, jy moet teruggaan na die Here jou God toe. Jou sonde het jou laat struikel. Dit het jou op die grond laat val. Kom na God toe en sê vir Hom dat jy verkeerd was. Kom terug na die Here toe. Bid tot die Here: “Vergeef ons tog al ons sonde. Ons is jammer daaroor. Aanvaar tog ons verskoning oor ons sonde. Ons belydenis is die offer wat ons bring om ons sake met U weer reg te stel. Assirië kan ons nie red nie. Ons kan nie op ons weermag en ons wapens vertrou nie. Ons kan nooit weer vir die gode wat ons met ons eie hande gemaak het, sê ‘My god’ nie. ’n Kind wat niemand het om vir hom te sorg nie, kan maar net by U die liefde en die versorging kry wat hy nodig het.” Die Here sê: “Ek sal die siekte wat jy gehad het, gesond maak. Ek sal genesing bring. Jy sal nie weer wil wegloop van My af nie. Ek sal jou vreeslik liefhê. Ek sal glad nie meer vir jou kwaad wees nie. “Ek sal vir Israel wees soos die dou wat ’n lelie laat blom. Sy wortels sal hom so stewig anker soos die bome teen die Libanonberg geanker is. Sy takke sal so welig uitgroei soos die takke van ’n mooi olyfboom. Hy sal so lekker ruik soos die plante teen die Libanonberg. Hulle sal weer onder die skaduwee van my takke kom bly. Hulle sal vooruitgaan soos graan wat op die land staan en wieg in die wind. Hulle sal uitloop en groei soos wingerdranke. Hulle sal weer ’n goeie naam hê soos die beroemde naam van die Libanonwyn. Efraim, jy het niks verder met afgode te make nie. Ek het jou klaar gestraf. Ek het jou nou weer teruggevat om vir jou te sorg. Ek is vir jou soos ’n boom wat altyd blare het en altyd vrugte dra. By My sal daar altyd vir jou vrugte wees.”
HOSEA 14:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die inwoners van Samaria moet die gevolge van hulle skuld dra, want hulle het teen hulle God in opstand gekom. Hulle sal deur die swaard doodgemaak word. Hulle klein kindertjies sal verpletter word, hulle verwagtende vroue sal oopgesny word. Keer terug na die HERE jou God, o Israel, want jou sondes is jou ondergang. Bely jou sondes en keer terug na die HERE toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sondes en aanvaar ons in genade sodat ons weer ’n lofoffer aan U kan bring. Assirië kan ons nie red nie, ook nie militêre optrede nie. Ons sal nooit weer die afgode wat ons gemaak het ‘ons god’ noem nie. Nee, by U alleen is daar deernis vir ’n weeskind.” Die HERE sê: “Dan sal Ek julle genees van julle ontrouheid; my liefde sal geen perke ken nie, want my woede is weg vir altyd! Ek sal vir Israel wees soos verfrissende dou. Hy sal bloei soos ’n lelie. Hy sal diep in die aarde wortelskiet soos die seders van die Libanon. Sy takke sal uitsprei soos die sierlike olyfboom, so geurig soos die plante van die Libanon. My volk sal dan weer terugkeer na die veiligheid van hulle land. Hulle sal welig groei soos koring en uitspruit soos wingerde. Hulle sal so hoog aangeskrewe wees soos die wyn van die Libanon. “O Israel, bly weg van die afgode. Ek het jou verneder, maar sal jou nou weer versorg. Ek is soos ’n boom wat altyd groen is. Ek is die bron van jou vrugbaarheid.”