Hosea 14

14
1 Samaria gaan boet,
want sy was in opstand teen haar God.
Deur die swaard sal hulle val;
hulle kinders sal verpletter word,
hulle swanger vroue sal oopgesny word.
Oproep om terug te keer
2 Keer terug, Israel,
na die Here jou God,
want jy het deur jou sondeskuld gestruikel.
3 Kom met julle woorde
en keer terug na die Here.
Sê vir Hom:
“Vergewe ons sondeskuld volkome,
aanvaar ons belydenis;
ons wil met die vrug van ons lippe vergoed.
4 Assirië kan ons nie red nie,
op perde wil ons nie ry nie,
en ons sal nie meer ons handewerk
‘ons god’ noem nie;
want net by U vind die vaderlose
ontferming.”
5“ Ek sal hulle afvalligheid genees,
Ek sal hulle uit vrye wil liefhê.
Omdat my woede teen hom bedaar het,
6 sal Ek vir Israel wees soos dou.
Hy sal bloei soos 'n narsing,
en wortels skiet soos die Libanon.
7 Sy lote sal uitsprei;
sy prag sal wees soos dié
van 'n olyfboom,
en sy geur soos dié
van die Libanon.
8 Dié wat in sy skaduwee
gewoon het, sal terugkeer;
hulle sal koring verbou,
en uitspruit soos 'n wingerdstok.
Die roem van Israel sal wees
soos die wyn van die Libanon.
9 “Efraim, watter ooreenkoms
is daar nog tussen My en die afgode?
Ek is die Een wat hom antwoord,
en Ek hou hom in die oog.
Ek is soos 'n immergroen sipres –
by My word jou vrugbaarheid gevind.”
Nawoord
10 Wie is wys dat hy hierdie dinge
kan verstaan,
en verstandig dat hy dit kan begryp?
Ja, die paaie van die Here is reguit –
regverdiges loop daarop,
maar oortreders sal daarop struikel.

Tans Gekies:

Hosea 14: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid