HEBREËRS 12:18-24
HEBREËRS 12:18-24 Bybel vir almal (ABA)
Julle het nie soos die Israeliete gekom by iets waaraan 'n mens kan raak nie, julle het nie gekom by 'n vuur wat brand, of by 'n donker wolk, of by 'n stormwind nie. Julle het ook nie gekom waar 'n trompet geblaas het en waar Iemand gepraat het uit die hemel nie. Die mense wat dit gehoor het, het gesoebat dat God niks meer vir hulle moet sê nie, want hulle kon nie doen wat God gesê het nie. Hy het gesê: “ As 'n dier aan die berg raak, dan moet hulle hom doodgooi met klippe.” Die dinge wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses gesê het: “ Ek bewe, ek is baie bang.” Nee, julle het by Sionsberg gekom, julle het gekom by die stad van die God wat lewe, by Jerusalem wat in die hemel is. Julle het ook gekom by so baie engele dat 'n mens hulle nie kan tel nie, julle het gekom by die fees waar almal bly is. Julle het gekom by die vergadering van die mense wat soos God se oudste seuns is, hulle name is opgeskryf in die hemel. Julle het gekom by die Regter wat die God van almal is, julle het gekom by die mense wat voorheen gelewe het en wat heeltemal geword het soos God wil hê hulle moet wees. Julle het ook gekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en julle het gekom by die bloed van Jesus wat gevloei het en wat vir ons 'n beter boodskap bring as die bloed van Abel.
HEBREËRS 12:18-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want julle het nie gekom by 'n tasbare berg nie en 'n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie — want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as 'n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met 'n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder. Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.
HEBREËRS 12:18-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle het immers nie gekom by 'n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik. So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!” Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.
HEBREËRS 12:18-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle het nie aangekom by iets tasbaars, by 'n brandende vuur, en by duisternis en donkerte en stormwind nie – ook nie by die klank van 'n basuin, en 'n weerklinkende stem wat die hoorders laat pleit het dat nie nog 'n woord vir hulle toegevoeg word nie; want die opdrag, “Selfs as 'n wilde dier die berg aanraak, moet dit gestenig word”, kon hulle nie hanteer nie. En so angswekkend was die verskynsel, dat Moses gesê het: “Ek is beangs, en ek sidder!” Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, en 'n •gemeente van •eersgeborenes wat opgeteken is in die hemele, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is, en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel.
HEBREËRS 12:18-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want julle het nie gekom by die berg wat aangeraak kan word en wat met vuur verbrand is nie, ook nie by duisternis en duisternis en storm nie, En die geluid van 'n basuin en die stem van woorde; watter stem het die wat dit gehoor het gesmeek dat die woord nie meer tot hulle gespreek moes word nie. Want hulle kon nie verdra wat beveel is nie, en as 'n dier die berg aanraak, sal dit gestenig word of met 'n pyl deurboor word. En so verskriklik was die gesig dat Moses gesê het: Ek is baie bang en bewe! Maar julle het gekom by die berg Sion en by die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, en by 'n ontelbare menigte engele, Aan die algemene vergadering en die gemeente van die eersgeborenes wat in die hemel geskrywe is, en aan God, die Regter van almal, en aan die geeste van volmaakte regverdige mense, En aan Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en vir die bloed van besprenkeling, wat beter dinge spreek as dié van Abel.
HEBREËRS 12:18-24 Die Boodskap (DB)
Julle het ook nog nie soos Israel by ’n regte berg soos Sinai gekom nie. Daar was ’n geweldige vuur op die berg, terwyl donker wolke oor die berg gehang het. Dit was donker en daar het ’n woeste storm losgebreek. Die mense het ’n trompet hoor blaas en ’n geweldige stem gehoor. Hulle was so verskrik dat hulle begin smeek het dat die stem tog asseblief moes ophou. Dit was God wat met hulle gepraat het. Wat God vir hulle gesê het, was ondraaglik: “Selfs as ’n dier net aan die berg raak, moet dit doodgegooi word met klippe.” Alles wat daar by die berg gebeur het, was so skrikwekkend dat selfs Moses geskree het: “Ek staan en ruk, so bang is ek.” Maar kyk net by watter berg het julle uitgekom. Julle het gekom by die berg Sion waar die woonplek van die lewende God is, die hemelse Jerusalem. Daar is duisende der duisende hemelwesens wat vrolik bymekaar is en saamsing. Julle het gekom by die kerk van almal vir wie God ’n nuwe lewe gegee het en wie se name in die hemel opgeskryf is. Daar kry julle ook vir God wat uiteindelik as Regter sal besluit wat die lot van elke mens sal wees. By Hom is ook die geeste van mense wat reeds gered en volmaak by Hom is. Jesus is ook daar. Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het. Daar kom ons ook by Jesus se bloed wat vir ons baie meer gedoen het as die bloed van Abel.
HEBREËRS 12:18-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Anders as die Israeliete by Sinaiberg het julle nie by ’n fisiese berg aangekom met brandende vuur, donderwolke, donkerte, stormwind, trompetgeskal en ’n stem wat praat nie – met die gevolg dat dié wat dit gehoor het, gesmeek het dat God nie verder met hulle moes praat nie. God se opdrag dat selfs ’n dier wat die berg met sy poot aanraak, doodgegooi moes word, kon hulle nie hanteer nie. Ja, so angswekkend was die aanskoue van alles dat Moses uitgeroep het: “Ek is absoluut verskrik, ek bewe van angs!” Nee, julle het aangekom by Sionsberg, by die stad van die lewende God! Julle het aangekom by die hemelse Jerusalem, by die miljoene engele wat juigend feestelik bymekaar is, en by die gemeente van God se kinders wie se name in die hemel opgeskryf staan. Julle het gekom by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die verlostes wat nou volkomenheid bereik het. Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van ’n nuwe verbond en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van iets beters getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het.