Hebreërs 12

12
Aanmoediging om te volhard
1Daarom, terwyl ons ook so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. 3Dink inderdaad aan Hom wat so 'n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie.
4Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. 5En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet:
“My seun, moenie die dissiplinering
van die Here geringskat nie,
en moenie moedeloos word
wanneer jy deur Hom bestraf word nie;
6want die een vir wie die Here
liefhet, tug Hy,
en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.”
7Verdra dit as tugtiging, want God behandel julle as sy seuns. Want watter seun word nie deur sy vader getug nie? 8Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel gehad het, dan is julle oneg, en nie egte seuns nie. 9Verder, ons het tog ons aardse vaders gehad, wat ons getug het, en ons het hulle gerespekteer. Sal ons ons nie baie eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en leef nie? 10Want hulle het ons vir 'n kort rukkie getug volgens dit wat vir hulle reg gelyk het, maar Hy tot ons beswil, sodat ons deel kan kry aan sy heiligheid. 11Op die oomblik lyk elke tugtiging wel nie of dit blydskap bring nie, maar droefheid. Later lewer dit egter 'n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is: 'n vrug van •geregtigheid.
12Daarom, tel op die slap hande en die lam knieë, 13en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond kan word.
Waarskuwing teen verwerping van die genade
14Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sien toe dat niemand die genade van God verspeel nie, sodat geen wortel van bitterheid opskiet, en moeilikheid veroorsaak, en baie daardeur besoedel word nie; 16ook dat niemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau nie – hy wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg prysgegee het. 17 Julle weet immers dat, toe hy hierna die seën wou beërf, hy afgewys is, want hy kon nie 'n weg vind tot gesindheidsverandering nie – alhoewel hy dit met trane gesoek het.
18 Julle het nie aangekom by iets tasbaars, by 'n brandende vuur, en by duisternis en donkerte en stormwind nie – 19ook nie by die klank van 'n basuin, en 'n weerklinkende stem wat die hoorders laat pleit het dat nie nog 'n woord vir hulle toegevoeg word nie; 20want die opdrag, “Selfs as 'n wilde dier die berg aanraak, moet dit gestenig word”, kon hulle nie hanteer nie. 21En so angswekkend was die verskynsel, dat Moses gesê het: “Ek is beangs, en ek sidder!” 22Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, 23en 'n •gemeente van •eersgeborenes wat opgeteken is in die hemele, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is, 24en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel.
25Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie; want as hulle nie ontvlug het toe hulle Hom, wat hulle op aarde gewaarsku het, verontagsaam het nie, soveel te meer ons, as ons die rug draai op Hom wat ons van die hemele af waarsku! 26Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig:
“Nog een keer sal Ek
nie net die aarde skud nie,
maar ook die hemel.”
27En hierdie uitdrukking “nog een keer” wys op die verandering van die wankelbare dinge – aangesien hulle geskape is – sodat die onwankelbare dinge sal bly. 28Daarom, terwyl ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op 'n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. 29Want ons God is inderdaad 'n verterende vuur.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid