HEBREËRS 10:35-39
HEBREËRS 10:35-39 Bybel vir almal (ABA)
Daarom moet julle aanhou om in Christus te glo en julle moenie bang wees nie. As julle aanhou glo, dan gee God vir julle 'n groot beloning. Daarom moet julle aanhou om te glo, en julle moet doen wat God wil hê sodat julle die dinge kan kry wat Hy vir julle belowe het. Want: Dit sal nog net 'n baie kort tydjie wees, dan sal die Man kom wat moet kom, Hy sal nie lank wegbly nie. Hy wat gehoorsaam is aan My en wat reg lewe, sal aanhou lewe omdat hy My vertrou. Maar as hy ophou om te glo, dan is Ek nie tevrede met hom nie. Maar ons is nie mense wat ophou glo nie, en daarom sal ons nie verlore gaan nie. Nee, ons is mense wat in Christus glo en daarom sal ons die ewige lewe kry.
HEBREËRS 10:35-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Werp dan julle vrymoedigheid, wat 'n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.
HEBREËRS 10:35-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Nog net “'n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.
HEBREËRS 10:35-39 Die Boodskap (DB)
Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry. Julle moet tot elke prys vasbyt. As julle so aanhou om te doen wat God wil hê, sal Hy sorg dat julle kry wat Hy vir julle beloof het. In die Skrif sê God: “Dit is nog net ’n baie kort rukkie, dan kom Hy wat moet kom. Hy sal nie lank draai voor Hy kom nie. Die persoon wie se saak met My reg is omdat hy op My vertrou, sal saam met My leef. Maar as iemand se moed hom begewe en hy nie meer vir alles kans sien nie, moet hy nie verwag dat Ek met hom tevrede sal wees nie.” Ons is nie van die soort wat bang word en so ons plek by God verloor nie. Ons bly op Hom vertrou en sal saam met Hom vir ewig leef.
HEBREËRS 10:35-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ’n groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het. Nog net, soos die Skrif sê, “’n baie kort tydjie, en Hy wat op pad is, sal kom. Hy sal nie talm nie. Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe. Maar dié wie se moed hulle begewe – van hulle wil Ek niks weet nie.” Ons is egter nie mense wat ons tot ons eie ondergang laat afskrik nie. Nee, ons vertrou op God en daardeur sal ons lewe.