HABAKUK 3:1-19

HABAKUK 3:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Die gebed van die profeet Habakuk. Die mense moet dit sing soos hulle die lied Sigjonot sing. Here, ek het gehoor die mense praat oor U, en ek eer U oor alles wat U gedoen het. Maar ek vra vir U: Doen dit nou weer, wys nou weer vir ons wat U gedoen het. U is nou kwaad, maar U moet asseblief weer goed wees vir ons. God kom van die land Teman, die heilige God kom van Paran-berg. Sela Alles in die hemel eer Hom, Hy is die Koning. Al die mense op die aarde prys Hom. Dit is lig rondom Hom, so lig soos die son, en uit sy hand kom die weerlig. Dan sien die mense hoe sterk Hy is. Waar Hy kom, word mense siek, en wanneer Hy weggaan, dan sterf hulle. Die aarde bewe waar Hy staan, die volke bewe waar Hy kyk. Die berge en die heuwels is baie oud, maar hulle breek en val. Die Here loop oor hulle soos Hy altyd gedoen het. Ek sien hoe die Here die Midianiete straf, die mense wat in tente woon in die land Kusan. Ek sien hoe bewe die mense in hulle tente in die land Midian. Here, dit lyk of U kwaad is vir die riviere en die see, want U kom op u perde en u oorlogkarre, die wolke. U kom om u vyande te oorwin. U haal u boog uit en U skiet u pyle, die weerlig. Die weerlig slaan waar U gesê het dit moet slaan. Sela Dan val die reën en die riviere sny die aarde. Die berge sien U en hulle bewe. Die strome water gaan verby. Die see raas, en sy branders is groot. Die weerlig is u pyle en u spiese. Wanneer die weerlig slaan, dan staan die son en die maan stil. U is kwaad, U kom na die aarde. U is kwaad, U kom die volke straf. U kom om u volk te red, en ook die koning wat U gesalf het. U maak die leier van die slegte mense dood en U breek hulle huise heeltemal af. Sela Die vyande se soldate hardloop na ons toe om ons weg te jaag na al die kante toe, maar U maak hulle leier dood met sy eie spies. Hulle het gedink u volk is swak, hulle het gedink hulle sal ons maklik vang en doodmaak waar niemand dit sien nie. Hulle het al klaar bly geword daaroor. Wanneer U oor die see ry met u perde, dan raas die water. Die wolke is u perde. Ek hoor dit en ek skrik. My lippe bewe, my hele liggaam word lam, my bene ruk. Ek bly stil en ek wag dat die dag moet kom. Ek wag vir die dag wanneer daardie volk ook swaar sal kry, die volk wat teen ons oorlog gemaak het. Die vyeboom kry nie blare nie, en daar is nie druiwe aan die wingerdstok nie. Daar is niks olywe nie, en ons het nie koring in ons koringlande nie. Die vyande het ons skape en bokke uit ons kampe weggevat, en daar is nie beeste in die kraal nie. Maar ek is bly. Ek juig oor alles wat die Here doen, Hy is die God wat my red. Die Here maak my sterk. Hy help my om veilig te loop oor hoë berge, so maklik soos 'n ribbok daar loop.

HABAKUK 3:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N GEBED van Hábakuk, die profeet, op die wysie van Sjigjonōt. HERE, ek het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees! HERE, roep u werk in die lewe in die midde van die jare; in die midde van die jare laat dit bekend word. In toorn, dink aan ontferming. God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran. Sela. Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van sy lof. En glans soos sonlig is daar, ligstrale aan sy sy; en dáár is die omhulsel van sy krag. Voor Hom uit loop die pes, en 'n koorsgloed trek uit agter Hom aan. Hy tree op en laat die aarde wankel, Hy kyk en laat nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge, en neergesink die ou, ou heuwels — paaie van die ou tyd vir Hom. Ek sien die tente van Kusan met onheil oordek, en die tentdoeke van die land Mídian bewe. Is dit teen riviere, o HERE, teen die riviere, dat u toorn ontvlam het? Of geld u grimmigheid die see dat U ry met u perde, u oorwinningswaens? Heeltemal ontbloot is u boog; besweer is die pyle deur die woord. Sela. Tot riviere splyt U die aarde. Die berge sien U en bewe van angs, 'n wolkbreuk storm verby, die wêreldvloed verhef sy stem, steek sy hande omhoog. Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van u pyle wat verbyskiet, by die glans van flikkerende spies. In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors U die nasies. U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde. U verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek. Sela. U deurboor met sy eie pyle die hoof van sy leiers wat storm om my te verstrooi; wie se gejuig is asof hulle die ellendige in die skuilhoek wil verslind. U betree die see met u perde, 'n hoop magtige waters. Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons 'n aanval maak. Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.

HABAKUK 3:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van 'n klaaglied. Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn. God kom van Teman af, die Heilige kom van Paranberg af. Sela Die hemelruim is vol van sy majesteit, die aarde vol van sy roem. Hy kom met die glans van die lig, weerligte blits uit sy hand, sy hand so vol mag. Voor Hom uit gaan die pes, in sy voetstappe volg die dood. Wanneer Hy staan, skud die aarde; wanneer Hy kyk, bewe die nasies. Die eeue-oue berge verkrummel, die ou-ou heuwels val inmekaar, die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het! Ek het gesien hoe onheil die tente van Kusan tref, hoe die tentdoeke van Midian bewe. Was U kwaad vir die riviere, Here? Het u toorn teen die strome ontvlam? Het die see U woedend gemaak dat U op u perde gery het, op die strydwaens waarmee U oorwin? U het u boog uitgehaal en met 'n eed die opdrag aan die pyle bevestig. Sela U het die aarde oopgebreek en riviere laat stroom. Toe die berge U sien, het hulle gebewe, stormwaters het verbygespoel, die diep water het gedreun en sy golwe hoog laat opslaan. Toe u vlieënde pyle blits en u blink spies flikker, het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek. In u gramskap stap U oor die aarde, in u toorn vertrap U die nasies. U het uitgegaan om u volk te red, om u gesalfde koning te red. U verpletter die aanvoerder van die goddeloses, U stroop hulle kaal van kop tot tone. Sela Met sy eie pyle deurboor U die aanvoerder wanneer sy manskappe uitstorm om ons te verstrooi terwyl hulle jubel soos dié wat die ellendiges in hulle skuilplekke verslind. U trek deur die see met u perde sodat die magtige waters bruis. Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal ek geduldig wag dat die dag van die oordeel moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is. Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

HABAKUK 3:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Gebed van Habakuk, die profeet. Op Sjighjonoot. HERE, toe ek van u roem gehoor het, is ek met ontsag vervul. U dade, HERE, maak dit 'n werklikheid in hierdie tye; laat dit in hierdie tye bekend word. Onthou om barmhartig te wees te midde van ontsteltenis. Toe God uit Teman kom, die Heilige van die Paranberge, •Sela het sy luister die hemelruim bedek, sy lof die aarde gevul. Skitterend soos sonlig was die ligstrale uit sy hand; daarin het krag geskuil. Voor Hom loop pessiektes, op sy spore volg plae. Hy het gaan staan, en die aarde laat bewe; Hy het net gekyk, en die nasies laat opspring. Die oeroue berge het verbrokkel, die ewige heuwels het laag gebuk. Die ewige wentelbane van die sterre behoort immers aan Hom. Ek het gesien die tente van Kusan verkeer in nood, die tentdoeke van die land Midian sidder. HERE, het u toorn teen die riviere ontbrand? Is u toorn teen die riviere, of is u gramskap teen die see gerig, dat U met u perde op u strydwaens ry vir verlossing? U boog is heeltemal ontbloot, “sewe knuppels!” was die bevel; •Sela vir strome kloof U die aarde oop. Berge het U gesien, hulle het ineengekrimp; 'n donderende wolkbreuk het verbygetrek; die •oerwater het sy stem laat hoor. Hoog het die son sy hande gelig; die maan het stilgestaan in sy hoë woning, vir die lig van u pyle wat verbyvlieg, vir die glans van u blitsende spies. In verontwaardiging stap U oor die aarde, in toorn trap U nasies plat. U trek op tot die redding van u volk, U kom tot die redding van u gesalfde. U verpletter koppe; U ontbloot die binneste van die goddelose van die heup tot die nek. •Sela U splyt met sy knuppels die koppe van sy magtiges wanneer hulle aanstorm om my te verstrooi, wanneer dit hulle vreugde is om die weerlose in 'n skuilplek te verslind. U het met u perde die see getrap, daardie skuimende watermassa. Toe ek dit hoor, het my ingewande geril, vir die geluid daarvan het my lippe gebewe, 'n lamheid het in my gebeente gekom; ja, ek het daar gestaan en bewe, want ek moes wag vir die dag van benoudheid om aan te breek vir die volk wat ons aanval. Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die HERE, sal ek juig in die God wat my verlos. Die HERE, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop.

HABAKUK 3:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

'n Gebed van die profeet Habakuk op Sjigionot. O HERE, ek het u woord gehoor, en ek was bevrees; o HERE, laat u werk lewend in die middel van die jare, maak dit bekend in die middel van die jare; in toorn onthou barmhartigheid. God het van Teman gekom, en die Heilige van die berg Paran af. Sela. Sy heerlikheid het die hemel bedek, en die aarde was vol van sy lof. En sy glans was soos die lig; horings het uit sy hand uitgekom, en daar was die verberging van sy krag. Voor hom het die pes gegaan, en brandende kole het by sy voete uitgegaan. Hy het gaan staan en die aarde gemeet; en die ewige berge is verstrooi, die ewige heuwels het gebuig; sy weë is ewig. Ek het die tente van Kusan in benoudheid gesien, en die gordyne van die land Mídian het gebewe. Was die HERE ontevrede oor die riviere? was jou toorn teen die riviere? was u toorn teen die see, dat u op u perde en u strydwaens van verlossing gery het? U boog is heeltemal naak gemaak, volgens die eed van die stamme, ja, u woord. Sela. U het die aarde met riviere gekloof. Die berge het jou gesien, en hulle het gebewe: die oorstroming van die water het verbygegaan; die watervloed het sy stem verhef en sy hande in die hoogte opgehef. Die son en die maan het stilgestaan in hulle woonplek: deur die lig van u pyle het hulle gegaan en deur die glans van u glinsterende spies. U het deur die land getrek in verontwaardiging, U het die heidene in toorn gedors. U het uitgegaan tot redding van u volk, ja, tot redding saam met u gesalfde; U het die hoof uit die huis van die goddelose gewond deur die fondament tot aan die nek te ontdek. Sela. U het die hoof van sy dorpe met sy stokke deurgeslaan; soos 'n stormwind het hulle uitgekom om my te verstrooi; hulle gejuig was soos om die armes in die geheim te verslind. U het met u perde deur die see geloop, deur die hoop groot waters. Toe ek dit hoor, het my maag gebewe; my lippe het gebewe van die stem: verrotting het in my gebeente ingekom, en ek het in myself gebewe, dat ek kon rus in die dag van benoudheid; Al sal die vyeboom nie blom nie, en daar sal geen vrugte aan die wingerde wees nie; die arbeid van die olyf sal ophou, en die lande sal geen vleis oplewer nie; die kleinvee moet uit die kraal uitgeroei word, en daar mag geen beeste in die stalle wees nie; Maar ek sal jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE God is my sterkte, en Hy sal my voete maak soos dié van herte, en Hy sal my laat loop op my hoogtes. Aan die hoofsanger op my snaarinstrumente.

HABAKUK 3:1-19 Die Boodskap (DB)

Hier is die gebed wat die profeet Habakuk gebid het: Here, ek was verstom toe ek gehoor het van al die dinge wat U gedoen het. Ek bid dat U nou in ons nood weer hierdie buitengewone dinge sal doen. Here, wees genadig, selfs al is U vir ons kwaad. Die Here was al in die verlede by Israel betrokke toe hulle nog deur die woestyn getrek het. Kyk ’n mens na die hemel en die aarde, dan sien jy iets van die groot en heerlike teenwoordigheid van die Here. As ons sy teenwoordigheid sou kon beskryf, sou dit soos helder lig wees wat uitgestraal word en soos weerlig wat blits. Iewers agter die ligglans is sy groot krag weggesteek. Die teenwoordigheid van die Here veroorsaak vir sommige mense die dood. As hy kom, is dit soos ’n aardbewing wat ’n mens beangs maak. Oeroue berge en heuwels bars uitmekaar en verkrummel van die geskud, niks word onaangeraak gelaat nie. Ek kon die uitwerking van die Here se teenwoordigheid ook op van die ander volke sien. Hulle het in angs aan die bewe gegaan. Sommige mense glo dat riviere en die see sterk magte is wat vyande van die Here is. Die Here is kwaad hieroor. Hy sal daarom soos ’n goed gewapende soldaat veg teen hierdie magte wat hulle gesag uitdaag. Hy sal wen! Hy is reg vir sy vyand en sy wapens sal vir seker sorg dat Hy die geveg sal wen. Hy breek die aarde oop vir die riviere om te vloei. Die natuur reageer op sy teenwoordigheid. Berge bewe, swaar reën spoel in sterk strome af en die ondergrondse water dreun en bruis hoog op. Ook die son en die maan lyk dof teen die blitsende en vernietigende teenwoordigheid van die Here. In sy woede trek Hy oor die aarde om die nasies te straf. Die Here se doel was om Juda te verlos en die koning wat Hy oor hulle aangestel het te red. Hy sal die bevelvoerder van die goddelose mense verslaan en sy mag verbreek. Toe die soldate van die vyand op die volk van die Here afgestorm het om hulle uitmekaar te jaag, het die Here die bevelvoerder deur sy eie wapen laat sterf. Hulle het gedink Israel is ’n maklike prooi. Maar Hy sal sy volk verlos. Die Here tref die see met sy perde sodat die magtige waters opbruis, net soos destyds by die Rietsee met die uittog uit Egipte. Toe het Hy sy volk gered. Toe ek hierdie dinge gehoor het, het ek aan die ruk gegaan en my lippe het gebewe omdat ek bang was. ’n Lam gevoel het oor my gekom en my bene het onder my padgegee. Ek het besluit dat ek rustig en stil sal wag vir die dag wanneer die Here se straf gaan kom oor die Babiloniërs wat Juda ingeval het. My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie; al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie; of al vrek die skape en die beeskrale is leeg, sal ek die Here met ’n hart vol blydskap dien. Ek het al ervaar hoe die Here my uit moeilike omstandighede red. Die Here wat as koning regeer, gee vir my die krag wat ek nodig het. Hy maak dit vir my moontlik om probleme sonder moeite te kan hanteer. (’n Nota vir die afrigter van die koor: Snaarinstrumente moet saam met die gebed gespeel word).

HABAKUK 3:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie is ’n gebed van Habakuk die profeet. ’n Lied. O HERE, ek het gehoor wat van U vertel word. Ek is in verwondering oor alles wat U gedoen het. Doen in ons tyd ook hierdie dinge wat U in die verlede gedoen het. Moenie vergeet om genadig te wees nie al is U baie kwaad. God, die Heilige, beweeg oor die woestyne van Edom en van die Paranberg af. Sy groot heerlikheid vul die hemelruim. Die aarde is vol van sy lof! Helder ligstrale flits uit sy hand, daar waar sy krag verskuil is. Pes gaan voor Hom uit, dodelike plae volg in sy voetspore. As Hy stilstaan, skud die aarde. Wanneer Hy kyk, bewe die nasies. Hy laat oeroue berge verkrummel en eeue oue heuwels platval. Ek sien die tente van Kusan bewe, die benoudheid van dié in Midian. Was U kwaad vir die riviere, HERE, toe u woede teen strome ontvlam, u toorn teen die see ontbrand het? U het op perde gery en op strydwaens van oorwinning! U beveel u magtige wapens om gereed te wees. Sela Met riviere kloof U die aarde oop. Die berge sien wat gebeur en bewe, onstuimige waters stroom verby. Die diepwaters dreun, met golwe wat opslaan soos hande omhoog gelig. Die son en die maan het begin verdof, verduister deur blitsende pyle en die glans van u blinkende spies. U stap oor die aarde in verontwaardiging, U vertrap die nasies in u woede. U gaan uit om u volk te verlos, U red u gesalfdes. U verpletter die leier van kwaaddoeners, van kop tot tone stroop U hom kaal. U deurboor die leier van die soldate met sy eie spies. Sy soldate storm uit soos ’n warrelwind, want hulle dink Israel is ’n maklike prooi. U vertrap die see met u perde sodat magtige waters opbruis. Toe ek al hierdie dinge hoor, het ek gesidder. My lippe het van vrees gebewe, my liggaam het lam geword, my bene het onder my ingegee. Tog sal ek rustig wag vir die dag wanneer rampspoed dié mense tref wat besig is om ons aan te val. Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg; tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die HERE! Ek sal juig oor God wat my verlos! Die oppermagtige HERE is my krag! Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Vir die musiekleier: Die psalm moet met snaarinstrumente begelei word.)