HABAKUK 1:1-11

HABAKUK 1:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gepraat. Die Here het vir die profeet Habakuk gewys wat sal gebeur. Habakuk het gesê: “Here, hoe lank moet ek nog bid? Hoe lank moet ek nog soebat dat U ons moet help? U luister nie na ons nie, U help ons nie teen die mense wat ons laat swaarkry nie. Hoekom wys U vir my dat mense verkeerd doen aan ander mense? U sien hulle kry swaar maar U doen niks. Ek sien hoe mense slegte dinge doen aan ander mense en nie reg doen aan hulle nie. Daarom is die Wette van Moses nie meer belangrik vir al die mense nie, en daarom doen hulle nie reg aan ander mense nie. Dit gaan beter met mense wat verkeerd doen as met mense wat reg doen. Mense gaan kla in die poort, maar wanneer hulle daar weggaan, dan het niemand daar reg gedoen aan hulle nie.” Die Here het gesê: “Julle moet na die volke kyk. Julle moet na hulle kyk, dan sal julle verbaas wees en nie weet wat om te sê nie. Ek sal nou iets doen, en julle sal dit nie glo wanneer mense dit vir julle vertel nie. Ek sal die Galdeërs roep. Hulle is die wrede, wilde volk wat oor die hele aarde gaan en lande vat wat nie aan hulle behoort nie. Almal is bang vir hulle, hulle doen wat hulle wil. Hulle perde is vinniger as jagluiperds en wilder as honger wolwe. Hulle soldate kom op hulle perde van ver plekke. Hulle kom so vinnig soos aasvoëls wat afduik om te kom vreet. Hulle almal kom oorlog maak, hulle jaag reguit vorentoe. Hulle vang baie mense, so baie soos sandkorrels. Hulle spot met konings en met mense wat regeer. Hulle kom maklik in 'n stad in, want hulle gooi grond teen die sterk mure en klim dan bo-oor die mure. Dan gaan hulle weg, hulle gaan verder soos die wind wat verby waai. Hulle dink hulle kan doen wat hulle wil omdat hulle sterk is.”

HABAKUK 1:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het. Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag. Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s'n is nie. Hulle is 'n nasie wat vrees en ontsag inboesem, hulle ken net een wet, een trots, hulle eie. Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op 'n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet. Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai, hulle kom aangestorm soos die oostewind en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. Die Galdeërs dryf die spot met konings en lag maghebbers uit. Hulle lag oor al die vestingstede: hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in. Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind. Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.

HABAKUK 1:1-11 Die Boodskap (DB)

Die Here het Habakuk as profeet gebruik. Wat volg, is wat die Here vir hom gesê het. Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie. Die Here het toe vir die mense van Juda gesê: Hou ’n bietjie die ander volke om julle dop. Ek het binnekort ’n groot verrassing vir julle. As iemand julle daarvan sou vertel het, sou julle hom nie geglo het nie. Hier is dit: Ek maak die Babiloniërs die mag wat al die volke in die wêreld sal oorheers. Hulle reputasie is oral bekend, hulle is ’n wrede en woeste spul mense. Hulle stuur hulle soldate die wêreld vol en dan neem hulle lande in. As mense net aan hulle dink, dan raak hulle bang en lam van vrees. Hulle is so arrogant, hulle maak hulle eie wette oor wat reg en verkeerd is. Hulle soldate wat op perde ry, maak ook groot indruk. Hulle perde lyk so vinnig dat ’n mens die idee kry dat hulle vinniger as luiperds is en skrikwekkender as honger wolwe. Hulle ruiters kom van ver af aangejaag en sak dan nes arende soos blits op hulle prooi toe. Hulle leërs het net een doel en dit is om mense links en regs dood te maak. Hulle ken net een rigting en dit is vorentoe. Hulle het al so baie mense gevang dat hulle te veel is om te tel. Die Babiloniërs het respek vir niks en niemand nie. Hulle dryf die spot met konings en verkleineer regeringsleiers. Hulle laat hulle ook nie afsit deur die hoë veiligheidsmure wat om stede gebou is nie. Hulle hoop doodeenvoudig grond daarteen op en klim dan oor die mure en neem die stad in. Daarna swiep hulle soos die wind voort en verdwyn net. Vir hierdie mense is hulle eie mag hulle god. Hulle glo hulle mag kan nie misluk nie.

HABAKUK 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die boodskap wat die profeet Habakuk in ’n visioen ontvang het. HERE, hoe lank moet ek nog roep om hulp? U luister nie na my nie. “Geweld!” roep ek baie hard, maar U red my nie. Waarom laat U my die onreg en die ellende om my sien? Waar ek ook al kyk, sien ek vernietiging en geweld. Ek is omring deur mense wat daarvan hou om te stry en te baklei. Die wet het sy krag verloor en is onbruikbaar. Reg seëvier ook nie in die howe nie. Daar is baie meer goddelose mense as dié wat reg doen. Daarom is die regsuitsprake verdraaid. HERE Die HERE het geantwoord: “Kyk na die nasies en staan verbaas! Let op en staan verstom! Ek doen iets in jou leeftyd, iets wat jy nie sou glo as iemand anders jou dit vertel nie. Ek laat toe dat die Galdeërs die nuwe wêreldmag word. Hulle is wreed en gewelddadig, ’n nasie wat die wêreld deurkruis om ander se woonplekke af te neem. Hulle is bekend vir hulle verskriklike wreedheid. Hulle doen net wat hulle wil en niemand kan hulle keer nie. Hulle perde is vinniger as luiperds. Hulle is vurige mense, erger as wolwe teen skemeraand. Soos arende duik hulle neer op hulle prooi. “Hulle beur vorentoe, gereed vir geweld. Hulle leërs kom aangestorm soos ’n wind uit die woestyn. Hulle versamel krygsgevangenes soos sand. Hulle maak ’n bespotting van konings en lag regeerders uit. Al die vestings minag hulle. Teen die mure stapel hulle grondwalle op en neem die vestings in. Hulle swiep verby soos die wind, en verdwyn. Maar hulle is skuldig, hulle verafgod hulle eie krag.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid