Habakuk 1:1-11

Habakuk 1:1-11 AFR20

Die profesie. Dit is wat Habakuk, die profeet, gesien het. Hoe lank nog, HERE? Ek roep om hulp, maar U luister nie; ek roep uit na U, “geweld!” maar U verlos nie? Waarom laat U my onreg ervaar, en leed, terwyl U toekyk? Vernietiging en geweld is reg voor my. Twis ontstaan en rusie neem toe. Daarom het die wet sy krag verloor, en tree die reg glad nie meer na vore nie; maar goddeloses omsingel die regverdige. Daarom is die reg so verdraaid. “ Kyk na die nasies en let op; wees verslae, verstom; want daar gaan iets in julle dae gebeur; julle sal dit nie glo as dit vertel word nie! Ja, kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek – die verbitterde en voortvarende nasie – wat oor die breedte van die aarde gaan om woonplekke in besit te neem wat nie aan hulle behoort nie. Skrikwekkend, vreesaanjaend is hierdie nasie; van homself gaan sy reg en oppermag uit. Vinniger as luiperds is sy perde, ratser as wolwe in die skemer. Sy ruiters kom aangejaag, sy ruiters wat van ver af kom. Hulle vlieg soos arende wat afduik om te vreet. Elkeen is uit op geweld; hulle hele voorhoede is 'n oostewind; dit maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. Hierdie nasie dryf met konings die spot, en regeerders is vir hom 'n grap. Vir elke versterkte stad lag hy; hy hoop grond teen die stadsmuur op, en neem dit in. Dan gaan die wind verder en steek grense oor; en hy word skuldig, die een wie se krag sy god is.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid