GENESIS 6:1-22
GENESIS 6:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Die mense op die aarde het baie geword. Hulle het ook dogters gehad, en die engele het na die dogters gekyk, want hulle was mooi. Hulle het party dogters gekies en met hulle getrou. Toe sê die Here: “Ek sal nie meer die mense so lank laat lewe nie. Hulle is mense en hulle sal sterf. Die mense sal van nou af nie ouer as 120 jaar word nie.” In daardie tyd en ook daarna was daar reuse op die aarde. Die reuse was die kinders van die engele wat met die mense se dogters getrou het. Die reuse was die sterk manne van daardie tyd, almal het geweet van hulle. Die Here het gesien die mense doen baie verkeerd en hulle dink altyd net slegte dinge. Die Here was hartseer. Hy was jammer dat Hy die mense gemaak het en dat Hy hulle op die aarde laat woon het. Die Here sê toe: “Ek sal die mense wat Ek gemaak het, doodmaak en wegvee van die aarde af. Ek sal al die mense, die diere en die voëls doodmaak. Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.” Maar die Here was tevrede met Noag. Hier is die verhaal van Noag. Noag was 'n goeie en regverdige man. Hy het nie gelewe soos die ander mense van daardie tyd nie. Noag het God gedien en naby Hom gelewe. Noag het drie seuns gehad. Hulle name was Sem, Gam en Jafet. God het gesien al die ander mense op die aarde is sleg en wreed. God het na die aarde gekyk en gesien die mense is almal baie sleg. Daarom het God vir Noag gesê: “Ek het besluit om al die mense op die aarde dood te maak, want hulle is wreed, hulle het die hele aarde sleg gemaak. Jy moet 'n ark maak van hout. Jy moet kamers in die ark maak en jy moet teer binne en buite aan die hout verf. Die teer sal die hout dig toemaak sodat die water nie kan inkom nie. “Dit is hoe groot jy die ark moet maak: Die ark moet 300 el lank, 50 el breed en 30 el hoog wees. Jy moet 'n deksel bo-op die ark maak en dit moet een el hoog wees. Jy moet ook 'n deur aan die kant van die ark insit en daar moet drie verdiepings wees: onder, middel en bo. “Ek sal nou 'n groot watervloed oor die aarde bring, Ek sal al die mense en diere op die aarde doodmaak. Alles wat op die aarde lewe, sal doodgaan. “Maar met jóú maak Ek 'n verbond. “Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. Jy moet ook 'n mannetjie en 'n wyfie van elke soort dier saam met jou in die ark neem, sodat hulle saam met jou kan aanhou lewe. Jy moet twee van elke soort dier saam met jou neem. Hulle sal na jou toe kom en hulle moet saam met jou aanhou lewe. Jy moet ook genoeg kos vir julle en vir die diere bymekaarmaak en saamneem om te eet.” Noag het alles gedoen presies soos God gesê het.
GENESIS 6:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar. In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE. Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was 'n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel. En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en — dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe. En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou 'n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk. Só moet jy dit maak: driehonderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte. 'n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van 'n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met 'n onderste, tweede en derde verdieping maak. Want kyk, Ék bring 'n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar 'n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe. Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou. En van al wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elke soort in die ark laat ingaan om dit saam met jou in die lewe te hou: mannetjie en wyfie moet hulle wees. Van die voëls volgens hulle soorte en van die vee volgens hulle soorte, van al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort, moet na jou kom om in die lewe te bly. En jy, neem vir jou van al die voedsel wat geëet word, en versamel dit by jou, dat dit vir jou en hulle as voedsel kan dien. En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.
GENESIS 6:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is, het die hemelwesens gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou met die dogters van hulle keuse. Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees.” In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam. Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” Maar Noag is deur die Here begenadig. Hier volg die verhaal van Noag. Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot. Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. “Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak. Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en 'n half meter en sy hoogte dertien en 'n half meter. Jy moet 'n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy 'n deur aan die kant van die ark insit en 'n onderste, middelste en boonste verdieping maak. “Ek gaan 'n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom, maar met jou wil Ek 'n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly. Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly. Jy moet vir jou kos saamvat, van alles wat geëet kan word, en dit by jou wegpak. Dit sal jou en die diere se kos wees.” Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het.
GENESIS 6:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die mense meer begin word oor die hele aarde en daar dogters vir hulle gebore is, het die hemelwesens gesien dat die dogters van die mense mooi was. Hulle het toe vir hulle vroue geneem, wie hulle ook al verkies het. Die HERE het toe gesê: “My gees sal nie vir altyd in die mens bly nie, omdat hy ook vlees is. Sy lewensdae sal honderd-en-twintig jaar wees.” Die reuse was in daardie tyd en ook daarna op die aarde, solank as wat die hemelwesens by die dogters van die mense ingegaan en vir hulleself kinders verwek het. Daardie kinders was die helde uit die ou tyd, die beroemde manne. Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat hy in sy hart bedink, altyd net sleg is, was die HERE jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom tot in sy hart gegrief. Toe sê die HERE: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aardbodem af uitwis – mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel, want Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.” Maar Noag het guns gevind in die oë van die HERE. Hier volg die familiegeskiedenis van Noag. Noag was 'n •regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote. Hy het naby God geleef. Noag het drie seuns verwek: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was deur en deur sleg voor God; die aarde was vol geweld. God het gekyk na die aarde, en kyk, dit was deur en deur sleg; want alle mense het 'n verderflike pad geloop op die aarde. God het vir Noag gesê: “Die einde van alle mense het, volgens my besluit, aangebreek; want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Kyk, Ek gaan hulle verdelg saam met die aarde. Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet die ark maak met verskillende ruimtes en dit van binne en van buite met pik bestryk. Dit is hoe jy dit moet maak: die lengte van die ark driehonderd •el, sy breedte vyftig el en sy hoogte dertig el. 'n Dak moet jy vir die ark maak – een el vanaf die boonste rand moet jy dit afrond. Die opening van die ark moet jy aan die sykant insit. 'n Onderste, middelste en derde verdieping moet jy maak. En Ek, kyk, Ek gaan vloedwaters oor die aarde bring om alle vlees waarin die asem van lewe is onder die hemel te verdelg. Alles wat op die aarde is, sal omkom. Maar met jou sluit Ek my verbond. Jy sal in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vroue saam met jou. Van alles wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elk na die ark bring om hulle saam met jou aan die lewe te hou. Manlik en vroulik moet hulle wees. Van elke soort voël, van elke soort dier, van elke soort kruipende dier op die grond, sal twee van elk na jou toe kom om aan die lewe te bly. En jy, neem van elke soort kos wat geëet word, en bring dit bymekaar by jou. Dit moet vir jou en vir hulle as kos dien.” Noag het dit toe gedoen. Net soos wat God hom beveel het, so het hy gemaak.
GENESIS 6:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur, toe die mense op die aarde begin vermeerder, en dogters vir hulle gebore is, Die seuns van God het die dogters van die mense gesien dat hulle mooi was; en hulle het vir hulle vroue geneem van alles wat hulle verkies het. Die HERE het gesê: My Gees sal nie altyd saam die mens streef nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal honderd-en-twintig jaar wees. Daar was in daardie dae reuse op die aarde; en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingekom het en hulle vir hulle kinders gebaar het, het dit magtige manne geword wat van ouds was, manne van naam. En God het gesien dat die boosheid van die mens groot was op die aarde, en dat elke versinsel van die gedagtes van sy hart altyddeur net sleg was. En dit het die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en dit was bedroef in sy hart. En die HERE het gesê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde af vernietig; mens sowel as dier. Die kruipende diere, asook die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE. Dit is die geslagte van Noag: Noag was 'n regverdige man en volmaak in sy geslagte, en Noag het met God gewandel. Noag het drie seuns verwek: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was ook verdorwe voor God, en die aarde was vol geweld. God het na die aarde gekyk, en kyk, dit was verdorwe; want alle vlees het sy weg op die aarde verderf. God het vir Noag gesê: Die einde van alle vlees het voor my aangesig gekom; want die aarde is deur hulle vol geweld; en kyk, Ek sal hulle saam met die aarde vernietig. Maak vir jou 'n ark van goferhout; kamers moet jy in die ark maak en dit van binne en van buite met pik smeer. Dit is die manier waarop jy dit moet maak: Die lengte van die ark moet driehonderd el wees, sy breedte vyftig el en die hoogte daarvan dertig el. 'n Venster moet jy vir die ark maak, en op 'n el moet jy dit bo voltooi; en die ingang van die ark moet jy aan die sykant sit; met 'n onderste, tweede en derde verdiepings moet jy dit maak. En kyk, Ek bring ook 'n watervloed oor die aarde om alle vlees waarin die asem van die lewe is, van onder die hemel af te vernietig; en alles wat op die aarde is, sal sterwe. Maar met jou sal Ek my verbond oprig; en jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vroue saam met jou. En van al die lewende wesens van alle vlees, twee van elke soort moet jy in die ark bring om dit saam met jou in die lewe te hou; hulle sal man en vrou wees. Van voëls volgens hulle soorte en van vee volgens hulle soorte, van al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort sal na jou toe kom om hulle in die lewe te hou. En neem vir jou van al die spys wat geëet word, en jy moet dit vir jou bymekaarmaak; en dit sal vir jou en vir hulle as voedsel dien. So het Noag gedoen; volgens alles wat God hom beveel het, so het hy gedoen.
GENESIS 6:1-22 Die Boodskap (DB)
Toe die mense op die aarde meer en meer geword het, het hulle ook mooi dogters gekry. Sommige van die wesens in die hemel het hierdie dogters se skoonheid raakgesien en met hulle kom trou. Hulle het vir hulle as vroue gevat wie hulle wou. Toe sê die Here: “My Gees sal nie vir altyd in die mens bly nie. Hy is tog maar net ’n sterflike wese. Hy sal nie langer as 120 jaar leef nie.” In hierdie tyd was daar ook reuse op aarde. Hulle was die kinders van die hemelwesens en die vroue van die aarde. Hierdie reuse was die heldefigure van die oertyd; bekende mans waaroor die mense stories vertel het. Die Here het gesien dat die mens sleg was. Alles waaraan hy gedink het of beplan het, was deurtrek van boosheid. Toe het die Here spyt gekry dat Hy die mens gemaak het. Sy hart was seer. Op ’n dag het Hy toe gesê: “Ek gaan alles op aarde verwoes; die mense wat Ek gemaak het asook die diere: al die wilde diere, alles wat kruip en alles wat in die hemel rondvlieg. Ek is bitter jammer dat Ek ooit mense en diere gemaak het.” Een mens het egter alles vrygespring: dit was Noag. Die Here was lief vir hom. Van Noag kan ’n mens net mooi dinge sê. Hy was ’n goeie man. Hy het die regte dinge gedoen en naby aan die Here geleef. Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. In die oë van God was die aarde vol boosheid. Oral was daar korrupsie en wetteloosheid. God het geweet wat op die aarde aangaan. Hy het gesien hoe mens en dier dag vir dag net slegter word. God het Noag eenkant toe geroep en vir hom gesê: “Ek het besluit om alles en almal op hierdie aarde te verwoes. Kyk net hoe besoedel hulle die aarde met hulle geweld en wetteloosheid. Ek is op die punt om die hele aarde te vernietig. “Bou nou vir jou ’n boot van goferhout. Maak aan die binnekant sommer ’n klomp kamers. Sorg dat jy alles waterdig maak. Smeer dit binne en buite goed met pik. So moet jy dit bou: die lengte van die ark moet 135 meter wees, sy breedte 22,5 meter en sy hoogte 13,5 meter. Maak ook vir die ark ’n dak met ’n spitsnok van 45 sentimeter. Sit ’n deur aan die kant van die ark in. En verdeel die ark in ’n onderste, ’n middelste en ’n boonste verdieping. “Ek gaan ’n groot vloed oor die aarde loslaat. Die water gaan alles vernietig. Alle mense en diere, ja, alles wat lewe, sal doodgaan. Niemand sal hierdie ramp oorleef nie. Maar met jou sal Ek ’n ooreenkoms maak. As die water kom, moet jy en jou familie in die ark ingaan, maar julle moet ’n klomp diere saamneem. Van alles wat leef, moet jy twee-twee saam met jou die ark invat. Sorg dat dit ’n mannetjie en ’n wyfie is. Van alle soorte voëls, van alle soorte vee en van alles wat op die aarde kruip, moet jy twee vat. Hulle moet saam met jou in die ark bly. “Jy moet ook vir genoeg kos sorg. Jy moet genoeg saamvat en in die ark wegpak sodat julle en die diere altyd kos sal hê om te eet.” Noag het dit toe gedoen, net soos God vir hom gesê het.
GENESIS 6:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mettertyd het die mense op die aarde baie vermeerder. Daar is ook dogters vir hulle gebore. Die godeseuns het opgemerk hoe mooi die dogters van die mense was. Hulle het van hulle as vroue gekies. Toe sê die HERE: “My gees sal nie vir altyd in die mensdom wees nie, want hulle is sterflik. Voortaan sal hulle leeftyd hoogstens 120 jaar wees.” In daardie tyd en ook daarna, was daar reuse op die aarde, want telkens wanneer die godeseuns gemeenskap met die vroue uit die menslike geslag gehad het, is kinders gebore wat helde geword het en wat in die ou legendes vermeld word. Die HERE het die omvang van die boosheid van die mensdom op aarde raakgesien. Hy het opgemerk dat hulle gedagtes gedurig sleg was. Die HERE was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep bedroef. Daarom sê die HERE: “Ek sal die mensheid wat Ek gemaak het heeltemal uitwis van die aarde. Saam met hulle sal Ek ook al die diere, klein en groot, asook die voëls vernietig, want Ek is spyt dat Ek hulle gemaak het.” Maar die HERE was Noag goedgesind. Wat volg, is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n opregte man, die enigste onberispelike persoon in daardie tyd. Hy het God se wil deurgaans uitgeleef en ’n noue verhouding met Hom gehad. Noag het drie seuns gehad, naamlik Sem, Gam en Jafet. Teen hierdie tyd was die aarde volgens die oordeel van God korrup en vol geweld. God het al hierdie korrupsie in die wêreld gesien. Oral waar Hy gekyk het, was daar geweld en bederf. Daarop sê God vir Noag: “Ek het besluit om alle lewende wesens te vernietig, want dis as gevolg van hulle dat die aarde vol geweld is. Ek gaan hulle almal verseker tot niet maak. Jy moet ’n groot ark van goferhout maak met verskillende vertrekke binne-in. Verseël dit binne en buite met teer. Dit moet 135 meter lank, 22,5 meter breed en 13,5 meter hoog wees. Voorsien dit van ’n dak waarvan die nok 45 sentimeter hoog is. Dit moet drie verdiepings hê en ’n deur aan die kant. “Let op! Ek gaan vloedwaters oor die aarde laat kom wat elke lewende wese onder die son sal uitwis. Alles op aarde sal doodgaan. Maar met jou sluit Ek ’n verbond. Jy, jou vrou, jou seuns en hulle vroue moet ingaan in die ark. Van elke soort dier moet jy ’n paar – ’n mannetjie en ’n wyfie – in die ark besorg sodat hulle saam met jou die vloed kan oorleef. Twee van elke soort voël en dier, klein en groot, sal na jou toe kom. Jy moet hulle in die ark aan die lewe hou. Maak seker dat jy genoeg kos inlaai vir jou gesin en vir al die diere.” Noag het presies gemaak soos God hom beveel het.