GENESIS 36:1-8
GENESIS 36:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Hier is 'n lys van die nageslag van Esau. Esau se ander naam was Edom. Esau het getrou met vroue uit Kanaän. Die vroue was Ada, die dogter van die Hetiet Elon, en Oholibama, die dogter van Ana wat die dogter was van die Hewiet Sibon. Sy ander vrou was Basemat, sy was die dogter van Ismael en die suster van Nebajot. Ada het 'n seun gekry vir Esau, die seun se naam was Elifas, en Basemat het 'n seun Reüel gekry. Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Dit is die seuns van Esau wat in Kanaän gebore is. Esau het alles geneem wat hy gehad het: sy vroue, sy seuns en dogters en al die mense in sy huis en alles wat hy gehad het, al sy vee en alles wat hy in Kanaän bymekaargemaak het. Hy het na 'n ander land gegaan, weg van sy broer Jakob. Esau het weggetrek omdat hulle goed te veel was, hulle kon nie saam woon nie. Daar was nie genoeg plek vir al hulle diere in die land nie, die land waar hulle vreemdelinge was. So het Esau en sy nageslag, die mense van Edom, in die Seïr-berge gaan woon.
GENESIS 36:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom. Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän: Ada, die dogter van Elon, die Hetiet, en Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die Hewiet; en Basmat, die dogter van Ismael, die suster van Nébajot. En Ada het vir Esau gebaar Élifas, en Basmat het gebaar Réhuel. En Oholibáma het gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die seuns van Esau wat vir hom gebore is in die land Kanaän. Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis, sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän verwerf het, en hy trek na 'n land, wég van sy broer Jakob af; want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie. En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom.
GENESIS 36:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hier volg besonderhede uit die familiegeskiedenis van Esau, dit is Edom. Esau het getrou met Kanaänitiese meisies: met Ada dogter van Elon, 'n Hetiet, met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, 'n Hewiet, en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot. Ada het vir Elifas in die wêreld gebring. Basemat het vir Reüel in die wêreld gebring en Oholibama vir Jeüs, Jalam en Korag. Dit is Esau se seuns wat vir hom in Kanaän gebore is. Maar Esau het met sy vrouens en sy seuns en dogters en al die mense by hom en met sy kleinvee en grootvee en al sy besittings wat hy in Kanaän bymekaargemaak het, weggetrek na 'n ander land toe, weg van sy broer Jakob af. Hulle twee se besittings was te veel, hulle kon nie saam boer nie, en die land waar hulle as vreemdelinge gebly het, kon nie hulle vee dra nie. Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon.
GENESIS 36:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hier volg die familiegeskiedenis van Esau, dit is Edom: Esau het sy vroue geneem uit die vroue van Kanaän – Ada, die dogter van Elon, die Hetiet; Oholibama, die dogter van Ana, die dogter van Sibon, 'n Hewiet; Basemat, die dogter van Ismael, die suster van Nebajot. Ada het Elifas vir Esau in die wêreld gebring, en Basemat het Reüel in die wêreld gebring. Oholibama het Jeüs, Jalam en Korag in die wêreld gebring. Dit is die seuns van Esau wat in die land Kanaän gebore is. Esau het sy vroue, sy seuns en dogters en al die mense van sy huis geneem, ook sy vee, al sy ander diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän bekom het, en gegaan na 'n gebied weg van sy broer Jakob af. Hulle besittings was immers te veel om saam te kon woon. Vanweë hulle diere, kon die land waar hulle as •vreemdelinge gewoon het, hulle nie dra nie. Esau het in die Seïrberge gaan woon. Esau is Edom.
GENESIS 36:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit is die geslagte van Esau, dit is Edom: Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän; Ada, die dogter van Elon, die Hetiet, en Oholibama, die dogter van Ana, die dogter van Sibeon, die Hewiet; en Basmat, die dogter van Ismael, suster van Nebajot. En Ada het vir Esau Elifas gebaar; en Basmat het Rehuel gebaar; En Oholibama het Jeus, Jaälam en Korag gebaar; dit is die seuns van Esau wat vir hom gebore is in die land Kanaän. Esau het sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis en sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän gekry het, geneem; en van die aangesig van sy broer Jakob af in die land gegaan. Want hulle rykdom was meer as dat hulle saam kon woon; en die land waarin hulle vreemdelinge was, kon dit vanweë hulle vee nie dra nie. So het Esau op die berg Seïr gewoon: Esau is Edom.
GENESIS 36:1-8 Die Boodskap (DB)
Hier is die familiegeskiedenis van Esau of die Edomiete. Esau het met Kanaänitiese meisies getrou: met Ada dogter van Elon, die Hetiet, met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, die Hewiet, en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot. Uit Ada is Elifas gebore en uit Basemat Reüel. Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Al hierdie seuns is vir Esau in Kanaän gebore. Op ’n dag het Esau besluit om na ’n ander land toe te trek. Hy wou van sy broer, Jakob, af wegkom. Hy het toe sy vroue, sy seuns, sy dogters en al sy werkers gevat en hulle is daar weg. Hy het al die besittings wat hy oor die jare in Kanaän versamel het, asook al sy kleinvee en grootvee, saamgeneem. Esau en Jakob se besittings het net te veel geword en hulle kon nie meer saam boer nie. Die land, wat nog nie aan hulle behoort nie en waar hulle nog as vreemdelinge gebly het, was te klein vir al hulle vee. Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon.
GENESIS 36:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier volg die familieregister van die afstammelinge van Esau (ook Edom genoem). Esau het met twee Kanaänitiese meisies getrou. Dit was Ada, dogter van Elon die Hetiet, en Oholibama, die dogter van Ana en kleindogter van Sibon die Hewiet. Hy het ook getrou met sy niggie Basemat, dogter van Ismael en die suster van Nebajot. Esau en Ada se seun was Elifas. Die naam van Esau en Basemat se seun was Reüel. Esau en Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Al hierdie seuns is vir Esau in die land Kanaän gebore. Esau het met sy vroue, kinders, slawe, beeste en kleinvee en al die besittings wat hy in die land Kanaän bekom het, weggetrek van sy broer Jakob. Daar was nie genoeg weiding vir die groot troppe beeste en kleinvee wat albei van hulle gehad het nie. Esau, ook genoem Edom, het in die Seïrberge gaan woon.