GENESIS 3:1-10

GENESIS 3:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die slang was slimmer en skelmer as al die wilde diere wat die Here God gemaak het. Die slang het vir die vrou gevra: “Is dit waar? Het God gesê julle mag niks van die bome in die tuin se vrugte eet nie?” Die vrou sê toe vir die slang: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin, maar God het gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie. Hy het gesê ons mag nie daaraan raak nie, want dan sal ons sterf.” Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal nie sterf nie. Dit is seker. God het dit gesê omdat Hy weet dat as julle daarvan eet, dan sal julle alles verstaan. Julle sal soos God word en julle sal weet wat is goed en wat is sleg.” Die vrou het toe gekyk en gesien sy kan van die boom se vrugte eet, en dit lyk baie lekker. Sy het nou geweet die vrugte sal haar slim maak. Sy het van die vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man daarvan gegee, en hy het ook geëet. Toe verstaan hulle alles, en hulle besef hulle is kaal. Hulle het vyeblare aanmekaar vasgewerk en hulle het daarvan kort rokke vir hulleself gemaak. Die mens en sy vrou het gehoor die Here God loop in die tuin. Dit was aand, en die wind het gewaai. Die mens en sy vrou het toe vir die Here God weggekruip tussen die bome in die tuin. Toe roep die Here God die mens en Hy vra vir hom: “Waar is jy?” Die mens het geantwoord: “Ek het gehoor U is in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe kruip ek weg.”

GENESIS 3:1-10 Die Boodskap (DB)

Van al die wilde diere wat die Here God gemaak het, was die slang die skelmste en agterbaksste. Op ’n dag probeer hy die vrou uitoorlê deur vir haar te sê: “Ek hoor julle mag nie van die bome in die tuin eet nie. God het glo vir julle so gesê, of hoe?” “Nee,” het die vrou die slang vinnig in die rede geval, “ons mag van al die bome in die tuin eet. Dit is net van daardie boom in die middel van die tuin waarvan ons nie mag eet nie. God het uitdruklik gesê: ‘Moenie daarvan eet nie. Moenie eers daaraan raak nie. As dit gebeur, sal julle doodgaan.’” Die slang het egter gesê: “Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie. God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en sal julle soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.” Die vrou begin toe twyfel. Sy kyk na die boom en sien hoe mooi dit is en hoe lekker die vrugte lyk. As sy daarvan eet, sou sy baie dinge te wete kom. Versigtig steek sy toe haar hand na die vrug uit. Sy pluk dit en begin eet. Sy pluk nog een en gee dit vir haar man. Hy het dit ook geëet. Skielik het hulle oë oopgegaan. Vir die eerste keer ontdek hulle hulle is kaal. Skaam-skaam gryp hulle toe ’n paar vyeblare, werk dit aan mekaar vas en maak vir hulle klere. Teen sononder se kant het die Here God in die tuin rondgeloop. Toe hulle Hom hoor, het hulle bang geword en tussen die bome vir Hom gaan wegkruip. Die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?” Die mens het verleë geantwoord: “Hier is ek. Toe ek hoor U is hier het ek bang geword, want ek is mos kaal. Toe het ek weggekruip.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid