GENESIS 24:34-52 - Compare All Versions

GENESIS 24:34-52 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe sê die man: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. My eienaar het my 'n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun 'n vrou gaan haal.’ Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’ en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy 'n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis. Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’ “Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. Hier staan ek by die fontein waar 'n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my 'n bietjie water uit haar kruik te laat drink, en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar. “Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met 'n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog 'n bietjie water!’ Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun. “As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.” Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie. Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.” Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig.

GENESIS 24:34-52 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Toe sê hy: Ek is die dienaar van Abraham. En die HERE het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee. En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar nadat sy al oud was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit. En my heer het my laat sweer en gesê: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie; maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun 'n vrou gaan haal. Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie. Maar hy het my geantwoord: Die HERE voor wie se aangesig ek gewandel het, sal sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my seun 'n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal. Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my. Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak — ek staan hier by die fontein — laat dít nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink — en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep — sý is die vrou wat die HERE vir die seun van my heer bestem het. Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink! En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande, en ek het my in aanbidding neergebuig voor die HERE en die HERE geloof, die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal. As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so nie, sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan. Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van die HERE kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie. Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy 'n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die HERE gespreek het. Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor die HERE neergebuig na die aarde toe.

GENESIS 24:34-52 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Ek is Abraham se slaaf,” verduidelik hy. “Die HERE het hom baie geseën sodat hy ryk geword het. Die HERE het hom troppe kleinvee en beeste gegee, ’n fortuin aan goud en silwer, en baie slawe, kamele en donkies. “Toe Sara, my meester se vrou, alreeds bejaard was, het sy geboorte gegee aan sy seun. My meester het alles wat hy besit aan hom bemaak. Hy het my met ’n eed laat belowe dat ek nie sou toelaat dat Isak met een van die Kanaänitiese meisies trou waar hy woon nie. ‘Gaan liewer na my familie toe en kry daar ’n vrou vir my seun,’ het hy beveel. “‘Maar sê nou ek kan nie ’n meisie kry wat bereid is om saam met my terug te gaan nie?’ het ek gevra. ‘Jy sal,’ het hy gesê, ‘want die HERE voor wie ek lewe, sal sy engel saam met jou stuur sodat jou sending suksesvol sal wees. Jy moet beslis onder my bloedverwante, uit my pa se mense, ’n vrou vir my seun kry. Maar as jy na my bloedverwante gaan en hulle weier dat sy kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie.’ “Vanmiddag, toe ek by die fontein aankom, het ek so gebid: O HERE, God van my meester Abraham, laat my tog asseblief slaag. Hier staan ek nou by die fontein. Ek sal vir ’n meisie wat kom water haal, vra: ‘Gee my asseblief water om te drink!’ As sy vir my sê: ‘Sekerlik, drink gerus, en ek sal sommer vir jou kamele ook water gee!’ – HERE, laat sý die een wees wat U bestem het as vrou vir die seun van my meester. “Ek het skaars so saggies klaar gebid, of ek sien Rebekka aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Sy het afgegaan na die fontein toe en haar kruik vol gemaak. Ek sê toe vir haar: ‘Gee asseblief vir my water om te drink.’ Sy het dadelik die kruik van haar skouer laat afsak sodat ek kon drink en gesê: ‘Sekerlik, Meneer, en ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Dit het sy gedoen. “Toe ek haar vra wie se dogter sy is, het sy gesê: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en sy vrou Milka.’ Dis toe dat ek haar die neusring en armbande gegee het. “Ek het gebuig en die HERE aanbid. Ek het die HERE, die God van my meester Abraham, geloof omdat Hy my op die regte pad gelei het sodat ek ’n vrou uit die familie van my meester se bloedverwante kon kry. Nou wil ek graag weet: Sal julle lojaal en getrou wees aan my meester, of nie? Sê vir my ja of nee sodat ek kan weet wat my te doen staan.” Laban en Betuel het geantwoord: “Dit kom van die HERE af. Wat kan ons dan sê? Hier is Rebekka. Neem haar en gaan. Ja, laat sy die vrou word van jou meester se seun soos die HERE bepaal het.” Toe hy dit hoor, het Abraham se slaaf laag afgebuig en die HERE aanbid.

GENESIS 24:34-52 DB (Die Boodskap)

“Ek werk vir Abraham,” het hy begin. “Die Here het meneer Abraham geseën en hom ’n ryk man gemaak. Hy het hom troppe skape, bokke en beeste gegee asook baie silwer en goud, mans- en vrouewerkers en ook nog ’n klomp donkies en kamele. Sara, my meneer se vrou, het hom op ’n hoë ouderdom ’n seun gegee. En meneer Abraham het alles wat hy het, vir dié kind gegee. My meneer het my toe met ’n eed laat belowe dat ek nooit vir Isak ’n jongmeisie in Kanaän waar ons bly, sal gaan soek nie. Hy het gesê ek moet na sy pa se mense toe gaan, na sy stam, en daar vir Isak ’n vrou loop soek. Ek was bang en het geantwoord: ‘Sê nou sy wil nie saamkom nie? Wat dan?’ Hy het my gerusgestel en gesê: ‘Die Here vir wie ek nog altyd lief was, sal sy engel saamstuur en jou help om vir Isak ’n vrou by my pa se familie te kry. As my familie weier dat sy saam met jou terugkom, is jy vry van jou eed en van al jou verpligtings.’ “Toe ek vanmiddag by die fontein aangekom het, het ek net gebid: ‘Here, U is die God van meneer Abraham, help my asseblief met wat ek moet sê en doen. Here, ek gaan hier by die fontein bly staan en as hier ’n jongmeisie aankom, gaan ek haar vra om vir my water uit haar kruik te gooi. As sy instem en ook water vir my kamele aanbied, sal sy die vrou wees wat U vir my eienaar se seun gekies het.’ “Voor ek klaar gebid het, kom Rebekka met ’n waterkruik op die skouer aangestap. By die fontein het sy met die trappies afgeloop en water geskep. Toe sy wou terugstap, vra ek haar: ‘Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?’ Sy het onmiddellik haar kruik afgetel en gesê: ‘Drink gerus. Ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Ek het gedrink en sy het die kamele water gegee. En ek het vir haar gevra: ‘Wie is jou pa?’ en sy het geantwoord: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en Milka.’ Dit is toe dat ek vir haar die ring aan haar neus gesit het asook die armbande wat sy aanhet. Daarna het ek in dankbaarheid voor die Here gebuig en Hom geprys. Ek het die God van meneer Abraham geloof omdat Hy my reguit na Rebekka toe gelei het. Ek het Hom geprys omdat ek een van meneer Abraham se eie mense vir Isak as vrou gekry het. “As u vandag my meester eer en liefhet, moet u dit asseblief vir my sê. As u nie so dink nie, moet u dit ook asseblief vir my sê.” Laban en Betuel het onmiddellik geantwoord: “Hierdie saak is van die Here. Wat ons nou ook al dink of sê, is nie van belang nie, want die Here het alles so laat gebeur. Hier is Rebekka dan. Vat haar saam en laat sy met Abraham se seun Isak trou, soos die Here gesê het.” Toe Abraham se werker dit hoor, was hy so bly dat hy op die grond gekniel en die Here geloof het.

GENESIS 24:34-52 ABA (Bybel vir almal)

Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die Here het my eienaar baie geseën, en hy het ryk geword. Die Here het skape en bokke en beeste vir hom gegee, en ook silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. “My eienaar se vrou Sara het 'n seun gekry toe sy al oud was, en Abraham het vir die seun alles gegee wat hy het. Maar my eienaar het vir my gesê: ‘Ek woon in die land van die Kanaäniete, maar ek wil nie hê my seun moet met een van hulle dogters trou nie.’ “Ek moes dit belowe. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet na my pa se familie toe gaan, na my eie mense toe, en jy moet daar vir my seun 'n vrou gaan haal.’ Ek het vir my eienaar gesê: ‘Maar miskien sal die vrou nie saam met my wil kom nie.’ En hy het toe vir my gesê: ‘Ek dien die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en Hy sal jou help om by my eie mense vir my seun 'n vrou te kry, by my pa se familie. As jy by my familie kom en hulle wil haar nie vir jou gee nie, dan kan jy nie doen wat jy vir my belowe het nie.’ Ek het vandag by die fontein gekom en ek het gebid: ‘Here, God van my eienaar Abraham, help my om reg te kry wat ek moet doen. Ek is nou hier by die fontein en ek sal vir die meisie wat water kom skep, sê: “Laat my asseblief 'n bietjie water uit jou waterkruik drink.” En as sy vir my sê: “Jy mag drink, en ek sal vir jou kamele ook water skep,” dan sal ek weet sy is die vrou wat die Here vir my eienaar se seun gekies het.’ Ek het nog nie klaar gebid nie, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra en sy het afgegaan na die fontein en water geskep. Ek sê toe vir haar: ‘Laat my asseblief water drink.’ Sy het dadelik haar waterkruik laat sak en vir my gesê: ‘Drink, en ek sal vir jou kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink, en sy het vir die kamele ook water gegee. Ek het vir haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ En sy het gesê: ‘Ek is Betuel se dogter. Betuel is Nahor en Milka se seun.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. Ek het gekniel en ek het die Here, die God van my eienaar Abraham, geprys. Hy het my reg gelei om die dogter van my eienaar se broer vir sy seun te kry. En nou, as julle goed wil wees vir my eienaar, sê dit vir my. Of as julle nie wil nie, sê dit ook vir my, sodat ek kan weet wat ek moet doen.” Toe sê Laban en Betuel vir hom: “Hierdie plan kom van die Here. Ons kan nie vir jou ja of nee sê nie. Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan terug, sodat sy die vrou van jou eienaar se seun kan word. Dit is wat die Here gesê het.” Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy gebuig voor die Here.

GENESIS 24:34-52 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die HERE het my heer baie geseën, en hy het ryk geword. Hy het vir hom kleinvee en beeste gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. Sara, die vrou van my heer, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring nadat sy al oud geword het. My heer het alles wat hy besit, vir hom gegee. My heer het my 'n eed laat aflê, ‘Jy mag nie vir my seun 'n vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie; maar jy moet na my familie en na my grootfamilie gaan en 'n vrou vir my seun gaan haal.’ Ek het vir my heer gesê, ‘Dalk sal die vrou my nie volg nie.’ Maar hy het vir my gesê, ‘Die HERE voor wie ek leef, sal sy •engel saam met jou stuur, en hy sal jou reis goed laat afloop, en jy sal 'n vrou vir my seun kry by my grootfamilie en my familie. Net dan sal jy vry wees van die eed aan my – as jy na my grootfamilie gaan en hulle gee haar nie aan jou nie. Jy sal dan vry wees van die eed aan my.’ Ek het vandag by die fontein aangekom en gesê, ‘HERE, God van my heer Abraham, as U my reis waarop ek tans is, tog maar goed wil laat afloop! Kyk, ek staan hier by die waterbron; mag dit so wees dat die jong vrou wat uitkom om water te skep en vir wie ek vra, “Laat my asseblief bietjie water drink uit jou kruik,” en sy my dan antwoord, “Drink jy, dan sal ek ook vir jou kamele skep,” dat sy die vrou sal wees wat die HERE vir die seun van my heer bestem het.’ Ek het self nog nie in my hart klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka uit met haar kruik op haar skouer, en sy gaan af na die fontein en skep water! Ek sê toe vir haar, ‘Laat my asseblief drink.’ Sy het gou haar kruik van haar skouer afgetel en gesê, ‘Drink! Ek sal ook jou kamele laat drink.’ Ek het toe gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. Ek vra haar toe en sê, ‘Wie se dogter is jy?’ Sy het geantwoord, ‘Die dogter van Betuel, seun van Nahor, wat Milka vir hom in die wêreld gebring het.’ Toe het ek die ring aan haar neus en armbande om haar polse gesit. Ek het gekniel en voor die HERE in aanbidding gebuig. Ek het die HERE, die God van my heer Abraham, geprys, Hy wat my op die regte pad gelei het om die kleindogter van my heer se broer vir sy seun te verkry. Daarom, as julle liefde en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my. Maar indien nie, sê dit dan vir my, sodat ek regs of links kan afdraai.” Laban en Betuel het daarop gereageer en gesê: “Van die HERE het die woord uitgegaan; ons kan vir jou nie iets goeds of slegs sê nie. Kyk, Rebekka is voor jou. Neem haar en gaan, sodat sy 'n vrou kan wees vir jou heer se seun, soos die HERE gesê het.” Toe Abraham se slaaf hulle woorde hoor, het hy teen die grond in aanbidding gebuig voor die HERE.

GENESIS 24:34-52 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En hy sê: Ek is Abraham se dienaar. Die HERE het my heer baie geseën; en hy het groot geword, en hy het aan hom kleinvee en beeste, silwer, goud, slawe, slavinne, kamele en esels gegee. Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar toe sy oud was, en aan hom het hy alles gegee wat hy het. En my heer het my laat sweer en gesê: Jy mag vir my seun uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon, geen vrou neem nie. Maar jy moet na die huis van my vader en na my familie gaan en 'n vrou vir my seun neem. En ek het vir my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie. En hy het vir my gesê: Die HERE voor wie ek wandel, sal sy engel saam met jou stuur en jou weg voorspoedig maak; en jy moet vir my seun 'n vrou neem uit my geslag en uit my vader se huis. Dan sal jy van hierdie my eed ontslae raak as jy by my familie kom; en as hulle jou nie een gee nie, sal jy vry wees van my eed. En ek het vandag by die put gekom en gesê: HERE, God van my heer Abraham, as U my weg wat ek gaan, nou voorspoedig maak! Kyk, ek staan by die waterput; en as die maagd uitkom om water te skep, en ek vir haar sê: Gee my tog 'n bietjie water van jou kruik om te drink; En sy het vir my gesê: Drink jy albei, en ek sal ook vir jou kamele skep; laat dit die vrou wees wat die HERE vir die seun van my heer aangestel het. Voordat ek klaar in my hart gepraat het, het Rebekka uitgekom met haar kruik op haar skouer; en sy het afgegaan na die put en water geskep; en ek het vir haar gesê: Laat my tog drink. En sy het gou gemaak en haar kruik van haar skouer laat sak en gesê: Drink, en ek sal jou kamele ook laat drink; daarom het ek gedrink, en sy het die kamele ook laat drink. Ek het haar gevra en gesê: Wie se dogter is jy? En sy sê: Die dogter van Betuel, die seun van Nahor, wat Milka vir hom gebaar het; En ek het my hoof neergebuig en die HERE aanbid en die HERE, die God van my heer Abraham, geprys, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer na sy seun te neem. En as julle nou vriendelik en waaragtig teenoor my heer wil handel, sê vir my; en so nie, sê vir my; dat ek regs of links kan draai. Toe antwoord Laban en Betuel en sê: Die saak kom van die HERE af; ons kan nie kwaad of goed met jou spreek nie. Kyk, Rebekka is voor jou, neem haar en gaan, en laat sy die vrou van jou heer se seun wees, soos die HERE gespreek het. En toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy die HERE aanbid en hom na die aarde gebuig.