Genesis 24:34-52
Genesis 24:34-52 AFR20
Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die HERE het my heer baie geseën, en hy het ryk geword. Hy het vir hom kleinvee en beeste gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. Sara, die vrou van my heer, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring nadat sy al oud geword het. My heer het alles wat hy besit, vir hom gegee. My heer het my 'n eed laat aflê, ‘Jy mag nie vir my seun 'n vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie; maar jy moet na my familie en na my grootfamilie gaan en 'n vrou vir my seun gaan haal.’ Ek het vir my heer gesê, ‘Dalk sal die vrou my nie volg nie.’ Maar hy het vir my gesê, ‘Die HERE voor wie ek leef, sal sy •engel saam met jou stuur, en hy sal jou reis goed laat afloop, en jy sal 'n vrou vir my seun kry by my grootfamilie en my familie. Net dan sal jy vry wees van die eed aan my – as jy na my grootfamilie gaan en hulle gee haar nie aan jou nie. Jy sal dan vry wees van die eed aan my.’ Ek het vandag by die fontein aangekom en gesê, ‘HERE, God van my heer Abraham, as U my reis waarop ek tans is, tog maar goed wil laat afloop! Kyk, ek staan hier by die waterbron; mag dit so wees dat die jong vrou wat uitkom om water te skep en vir wie ek vra, “Laat my asseblief bietjie water drink uit jou kruik,” en sy my dan antwoord, “Drink jy, dan sal ek ook vir jou kamele skep,” dat sy die vrou sal wees wat die HERE vir die seun van my heer bestem het.’ Ek het self nog nie in my hart klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka uit met haar kruik op haar skouer, en sy gaan af na die fontein en skep water! Ek sê toe vir haar, ‘Laat my asseblief drink.’ Sy het gou haar kruik van haar skouer afgetel en gesê, ‘Drink! Ek sal ook jou kamele laat drink.’ Ek het toe gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. Ek vra haar toe en sê, ‘Wie se dogter is jy?’ Sy het geantwoord, ‘Die dogter van Betuel, seun van Nahor, wat Milka vir hom in die wêreld gebring het.’ Toe het ek die ring aan haar neus en armbande om haar polse gesit. Ek het gekniel en voor die HERE in aanbidding gebuig. Ek het die HERE, die God van my heer Abraham, geprys, Hy wat my op die regte pad gelei het om die kleindogter van my heer se broer vir sy seun te verkry. Daarom, as julle liefde en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my. Maar indien nie, sê dit dan vir my, sodat ek regs of links kan afdraai.” Laban en Betuel het daarop gereageer en gesê: “Van die HERE het die woord uitgegaan; ons kan vir jou nie iets goeds of slegs sê nie. Kyk, Rebekka is voor jou. Neem haar en gaan, sodat sy 'n vrou kan wees vir jou heer se seun, soos die HERE gesê het.” Toe Abraham se slaaf hulle woorde hoor, het hy teen die grond in aanbidding gebuig voor die HERE.

