GENESIS 22:9-19

GENESIS 22:9-19 Bybel vir almal (ABA)

Toe hulle by die plek kom wat God vir Abraham gesê het, het Abraham daar 'n altaar gebou en hy het die hout uitgepak. Hy het sy seun Isak vasgebind en hom op die altaar gesit, bo-op die hout. Abraham steek toe sy hand uit en neem die mes om sy seun dood te maak, maar toe roep die Engel van die Here uit die hemel vir hom en sê: “Abraham! Abraham!” En hy antwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Moenie aan jou seun raak of iets aan hom doen nie, want nou weet Ek dat jy My wil dien. Jy het nie geweier om jou enigste seun vir My te offer nie.” Toe Abraham rondkyk, sien hy 'n skaap-ram. Die ram se horings was vas in 'n bos. Abraham het gegaan en hy het die ram gevat en hy het die ram in sy seun se plek ge-offer. Abraham noem toe die plek “Die Here gee wat jy nodig het.” Die mense sê vandag nog: “Die Here sal op sy berg gee wat jy nodig het.” Die Engel van die Here het weer uit die hemel met Abraham gepraat en gesê: “Jy het gedoen wat Ek gevra het. Jy het nie geweier om jou seun te offer nie. Daarom belowe Ek, die Here, dat Ek jou baie sal seën. Ek sal jou nageslag baie maak, so baie soos die sterre in die lug en so baie soos die sand langs die see. Jou nageslag sal hulle vyande se stede oorwin. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou nageslag sal seën. Ek sal dit doen omdat jy gedoen het wat Ek gesê het.” Abraham het teruggegaan na sy slawe toe, en hulle het saam na Berseba gegaan. Abraham het in Berseba gewoon.

GENESIS 22:9-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens 'n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer. En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word. Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het. En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.

GENESIS 22:9-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe hulle aankom by die plek wat God vir hom gewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou en die hout reggepak. Hy het sy seun, Isak, vasgebind en hom op die altaar neergelê, bo-op die hout. Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. Maar die •Engel van die HERE het na hom uit die hemel geroep en gesê: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie,” het Hy gesê, “en moenie enigiets aan hom doen nie! Want nou weet Ek dat jy vir God ontsag het. Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie.” Toe Abraham opkyk, sien hy: Daar is 'n enkele ram wat aan sy horings vasgevang is in 'n bos! Abraham gaan toe en neem die ram. Hy het hom as 'n brandoffer gebring in die plek van sy seun. Abraham het daardie plek genoem, Die HERE voorsien, sodat vandag nog gesê word: “Op die berg van die HERE sal voorsien word. ” Die Engel van die HERE het daarna 'n tweede keer uit die hemel na Abraham geroep en gesê: “By Myself sweer Ek,” is die uitspraak van die HERE, “omdat jy dit gedoen het en nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou het nie, sal Ek jou ryklik seën, en jou nageslag so geweldig vermeerder soos die sterre aan die hemelruim en soos die sand wat langs die seestrand is. Jou nageslag sal die stadspoorte van hulle vyande in besit neem. Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat jy na my stem geluister het.” Abraham het toe teruggekeer na sy dienaars, en hulle het opgestaan en saam met hom na Berseba gegaan. Abraham het in Berseba bly woon.

GENESIS 22:9-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hulle het by die plek gekom waarvan God hom vertel het; en Abraham het daar 'n altaar gebou en die hout reggemaak en sy seun Isak gebind en hom op die altaar op die hout neergelê. Abraham het sy hand uitgesteek en die mes geneem om sy seun dood te maak. En die Engel van die HERE het na hom uit die hemel geroep en gesê: Abraham, Abraham! en hy het gesê: Hier is ek. En hy sê: Moenie jou hand op die seun lê nie, en doen hom niks nie, want nou weet ek dat jy God vrees, omdat jy jou seun, jou enigste seun nie van my teruggehou het nie. Toe slaan Abraham sy oë op en kyk, en daar was 'n ram wat agter hom in 'n bos aan sy horings vasgevang het; en Abraham het gegaan en die ram geneem en hom as brandoffer geoffer in die plek van sy seun. Abraham het daardie plek genoem: Die HERE Jireh; soos daar tot vandag toe gesê word: Op die berg van die HERE sal voorsien word. Die engel van die HERE het vir die tweede keer na Abraham uit die hemel geroep, en gesê: By Myself het Ek gesweer, spreek die HERE, want omdat jy hierdie ding gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie; Ek sa jou seën en jou nageslag sal vermenigvuldig soos die sterre van die hemel en soos die sand wat op die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem; In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat jy na my stem geluister het. Toe het Abraham na sy jongmanne teruggekeer, en hulle het opgestaan en saam na Berseba gegaan; en Abraham het in Berseba gewoon.

GENESIS 22:9-19 Die Boodskap (DB)

Uiteindelik het hulle by die plek gekom waarvan God gepraat het. Abraham het dadelik afgepak, ’n altaar gebou, die hout gevat en dit op die altaar gesit. Toe gryp hy vir Isak, druk hom op die altaar bo-op die hout vas en met sy ander hand vat hy die mes, die groot mes wat hy die hele pad saamgedra het en waarmee hy Isak wou doodmaak. Op daardie oomblik het die Engel van die Here uit die hemel geroep: “Abraham, dit is Ek. Hou dadelik op. Los die mes en moenie die seun seermaak nie. Ek weet nou dat jy My liefhet, want jy was bereid om jou lieflingskind, jou enigste seun, vir My te offer.” Net toe Abraham opkyk, hoor hy ’n geritsel tussen die takke. Dit was ’n ram waarvan die horings in die digte takke vasgehaak het. Hy het nader gestap, die ram geslag en dit as ’n brandoffer op die altaar geoffer. So is die ram toe in Isak se plek geslag. Abraham het die plek “Die Here voorsien” genoem. Vandag nog gebruik mense die uitdrukking: “Op die berg van die Here sal Hy altyd voorsien.” Die Here het weer deur sy Engel uit die hemel gepraat en gesê: “Vandag was jy bereid om hierdie lieflingskind van jou te offer; daarom beloof Ek jou dat Ek jou sal seën. Jou kinders sal so baie wees soos die sterre in die hemel en die sand van die see. Jou kinders sal ook nog eendag hulle vyande se sterk stede oorneem. In al die nasies sal mense nog oor jou praat. Dit sal met hulle goed gaan omdat hulle jou ken en deel van jou nageslag is. Al hierdie dinge sal gebeur omdat jy vandag weer gewys het dat jy My liefhet.” Abraham en Isak het na die werkers toe teruggestap en hulle is saam Berseba toe. Abraham het ’n lang ruk in Berseba gebly.

GENESIS 22:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, bou hy daar ’n altaar en sit die hout daarop neer. Hy maak Isak vas en sit hom bo-op die hout op die altaar. Daarna vat Abraham die mes en lig dit op om sy seun as offer aan die HERE te slag. Op daardie oomblik roep die engel van die HERE na hom uit die hemel: “Abraham, Abraham!” “Ek luister,” antwoord Abraham. “Moenie jou hand oplig teen die seun en hom enige kwaad aandoen nie!” sê die engel. “Nou weet Ek dat jy regtig vir God dien, want jy het selfs jou geliefde seun nie van My weerhou nie.” Abraham kyk op en sien ’n ram wat met sy horings in ’n bos vassit. Hy neem die ram en offer dit as brandoffer op die altaar in die plek van sy seun. Abraham het toe die plek genoem “Die HERE voorsien”. Hierdie naam het sedertdien ’n spreekwoord geword: “Op die berg van die HERE sal voorsien word.” Die engel van die HERE roep toe weer uit die hemel na Abraham: “Die HERE sê: ‘Omdat jy My gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun van My weerhou het nie, neem Ek ’n eed dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ’n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel en die sand aan die see en hulle sal hulle vyande oorwin. In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word. Dit sal alles gebeur omdat jy My gehoorsaam het.’” Daarna het hulle na die twee slawe toe teruggekeer en almal saam Berseba toe gegaan waar Abraham gewoon het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid