GENESIS 22:5-8
GENESIS 22:5-8 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê Abraham vir sy slawe: “Bly hier by die donkie. Ek en my seun gaan daarnatoe. As ons klaar die Here aanbid het, dan sal ons terugkom na julle toe.” Abraham het die hout vir die brand-offer geneem en hy het dit op sy seun Isak gesit. Hy het self die kole vuur en die mes geneem, en hulle twee het saam geloop. Isak sê toe vir sy pa Abraham: “Pa?” En Abraham antwoord: “Hier is ek, my seun.” Isak vra toe: “Hier is die vuur en die hout, maar waar is die skaap vir die brand-offer?” En Abraham sê: “My seun, God sal self die skaap vir die brand-offer gee.” Hulle twee het saam verder geloop.
GENESIS 22:5-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Abraham sê aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom. En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gesit, en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle twee dan saam geloop. Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir 'n brandoffer? En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop.
GENESIS 22:5-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.” Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?” Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Daarna het hulle twee saam verder gestap.
GENESIS 22:5-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê Abraham vir sy dienaars: “Bly julle hier met die donkie! Ek en die seun wil daarheen gaan. Ons wil aanbid en sal dan na julle terugkom.” Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak se skouer gesit; hy het die kole vuur en die mes gevat. So het hulle twee saam geloop. Isak sê toe vir Abraham, sy vader: “Pa!” En hy antwoord: “Ja, my seun?” Toe sê hy: “Hier is die kole vuur en die hout, maar waar is die lam vir die brandoffer?” Abraham het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun.” So het hulle twee saam geloop.
GENESIS 22:5-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Abraham sê aan die jongmanne: Bly hier by die esel; ek en die seun sal daarheen gaan en aanbid en weer na julle toe kom. Abraham het die hout van die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gelê; en hy het die vuur in sy hand geneem en 'n mes; en hulle het al twee saam gegaan. Isak het met sy vader Abraham gespreek en gesê: My vader. Hier is ek, my seun. En hy sê: Daar is die vuur en die hout, maar waar is die lam as brandoffer? Toe sê Abraham: My seun, God sal vir Homself 'n lam as brandoffer voorsien; en hulle het al twee saam gegaan.
GENESIS 22:5-8 Die Boodskap (DB)
Toe het hy vir sy werkers gesê: “Bly julle hier. Pas die donkie en al ons goed mooi op. Ek en die seun gaan net daar anderkant offer en as ons klaar is, kom ons terug.” Abraham het die hout van die brandoffer gevat en op Isak se rug vasgemaak. Abraham het ’n groot mes gedra asook die vuurklip waarmee hulle die hout moes aansteek. Saam-saam het hulle na die plek toe aangestap. Na ’n ruk het Isak die stilte verbreek. “Pa?” het hy gevra. “Ja, seun,” het Abraham geantwoord. “Pa, hier is nou wel hout en vuurklip om dit aan te steek, maar waar is die skaap vir die brandoffer dan?” Abraham het geantwoord: “Moenie bekommerd wees nie, seun. God sal self nog vir ons ’n skaap gee om te offer.” Die twee het verder gestap.
GENESIS 22:5-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Bly ’n bietjie hier by die donkie,” sê Abraham vir die slawe. “Ek en die seun sal ’n entjie verder gaan. Ons sal daar aanbid en dan terugkom.” Abraham sit toe die hout op Isak se skouers. Hy het self die mes en die vuur gedra. Terwyl die twee so saamloop, sê Isak: “Pa?” “Ja, my seun?” antwoord Abraham. “Ons het nou wel die hout en die vuur,” sê die seun, “maar waar is die lam vir die offerande?” “God sal self die lam voorsien, my seun,” antwoord Abraham. So het die twee verder gestap.