GENESIS 22:20-24
GENESIS 22:20-24 Bybel vir almal (ABA)
Daarna het Abraham gehoor dat sy broer Nahor se vrou Milka kinders gekry het. Die oudste seun was Us, en sy broers was Bus en Kemuel. Kemuel was die voorvader van die Arameërs. Sy ander broers was Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. Betuel was die pa van Rebekka. Milka het hierdie ag seuns gekry vir Nahor, Abraham se broer. Nahor het ook 'n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook vir hom seuns gekry. Hulle name was Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.
GENESIS 22:20-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ná hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het ook vir jou broer Nahor seuns gebaar: Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram, ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel. (En Bétuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die broer van Abraham, gebaar. En sy byvrou met die naam van Reüma, sy het ook Tebag en Gaham en Tahas en Máäga gebaar.
GENESIS 22:20-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Rukkie na hierdie gebeurtenis is aan Abraham vertel dat Milka, sy broer Nahor se vrou, kinders vir sy broer in die wêreld gebring het. Hulle was: Us die oudste, sy broer Bus, Kemuel die voorvader van die Arameërs, en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. Betuel was die pa van Rebekka. Milka het hierdie ag seuns in die wêreld gebring vir Abraham se broer Nahor. Nahor het 'n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.
GENESIS 22:20-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná hierdie gebeure het Abraham berig ontvang: “Kyk, ook Milka het seuns in die wêreld gebring vir jou broer Nahor: Us, sy eersgeborene, Bus, sy broer, en Kemuel, die vader van Aram, ook Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.” Betuel het Rebekka verwek. Hierdie agt seuns het Milka vir Nahor, Abraham se broer, in die wêreld gebring. Sy byvrou, wie se naam Reüma was, ook sy het kinders in die wêreld gebring: Tebag, Gagam, Tagas en Maäga.
GENESIS 22:20-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ná hierdie dinge is daar aan Abraham meegedeel en gesê: Kyk, Milka, sy het ook vir jou broer Nahor kinders gebaar; Hus, sy eersgeborene, Bus, sy broer, en Kemuel, die vader van Aram, Kesed, Haso, Pildas, Jidlaf en Betuel. En Betuel was die vader van Rebekka; hierdie agt het Milka vir Nahor, Abraham se broer, gebaar. Sy byvrou, wie se naam Reuma was, sy het ook Teba, Gaham, Tahas en Maäga gebaar.
GENESIS 22:20-24 Die Boodskap (DB)
’n Ruk later het Abraham gehoor dat sy broer, Nahor, wat destyds met Milka getroud is, ’n klomp kinders het. Daar was Us, die oudste, en dan was daar nog sy broer Bus, asook Kemuel, die voorvader van die Arameërs, en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. Betuel was die pa van Rebekka. Dit was dan die agt seuns wat Milka vir Abraham se broer, Nahor, in die wêreld gebring het. Nahor het ook ’n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.
GENESIS 22:20-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kort hierna hoor Abraham dat Milka, sy broer Nahor se vrou, vir Nahor agt seuns in die wêreld gebring het. Die oudste se naam was Us en die ander was Bus, Kemuel (die voorvader van die Arameërs), Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. Betuel het later die pa van Rebekka geword. Benewens hierdie agt seuns by Milka, het Nahor ook nog vier kinders by sy byvrou Reüma gehad. Hulle name was Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.