GENESIS 16:1-15

GENESIS 16:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Abram se vrou Sarai het nog nie vir hom 'n kind gekry nie. Sarai het 'n slavin uit Egipte gehad. Haar naam was Hagar. Sarai het vir Abram gesê: “Die Here het my nie kinders laat kry nie. Gaan slaap by my slavin. Miskien kry sy 'n kind, en dan sal dit my kind wees.” Abram het geluister en gedoen wat Sarai gesê het. Abram het toe al tien jaar in Kanaän gewoon. Sy vrou Sarai het haar Egiptiese slavin Hagar geneem en vir haar man Abram gegee sodat Hagar ook sy vrou kon wees. Abram het seks gehad met Hagar, en sy het swanger geword. Toe Hagar sien sy is swanger, het sy gedink sy is beter as Sarai. Toe sê Sarai vir Abram: “Dit is nie reg nie en dit is jou skuld. Ek het my slavin vir jou gegee, maar toe sy swanger word, het sy begin dink sy is beter as ek. Die Here moet sê wie is reg en wie is verkeerd, ek of jy.” Toe sê Abram vir Sarai: “Dit is jou slavin. Jy mag met haar doen wat jy dink is goed.” Sarai het toe slegte dinge gedoen aan haar slavin, so sleg dat die slavin weggeloop het. Die Engel van die Here het die slavin by 'n fontein in die woestyn gekry. Die fontein was langs die pad na die stad Sur. Die Engel vra toe vir haar: “Hagar, slavin van Sarai, van waar kom jy en waarnatoe gaan jy?” En Hagar antwoord: “Ek is Sarai se slavin en ek vlug weg van haar.” Die Engel van die Here sê toe vir haar: “Jy moet teruggaan na Sarai toe en gehoorsaam wees aan haar. Ek sal jou nageslag baie groot maak. Hulle sal so baie wees dat niemand hulle sal kan tel nie.” Die Engel van die Here het ook vir haar gesê: “Hagar, jy is swanger en jy sal 'n seun kry. Jy moet hom Ismael noem, want die Here het gehoor jy kry swaar. Jou seun sal soos 'n wildedonkie wees. Hy sal teen almal wees, en almal sal teen hom wees. Hy sal nie by sy familie woon nie.” Nadat die Here met Hagar gepraat het, het sy die Here aanbid. Sy het gesê: “U is die God wat my sien. Hier het ek ook die God gesien wat my gesien het.” Daarom noem hulle die fontein Lagai-Roï-fontein. Die fontein is tussen die stede Kades en Bered. Hagar het 'n seun gekry vir Abram. Abram het hom Ismael genoem.

GENESIS 16:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het 'n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar. En Sarai het vir Abram gesê: Jy weet, die HERE het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister. Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin — nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het — en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees. En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar meesteres veragtelik in haar oë geword. En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou. En Abram antwoord Sarai: Daar is jou slavin in jou hand — doen met haar soos dit goed is in jou oë. Toe het Sarai haar sleg behandel, en sy het van haar af weggevlug. En die Engel van die HERE het haar by 'n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur, en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen? En sy antwoord: Ek vlug van my meesteres Sarai af weg. Toe sê die Engel van die HERE vir haar: Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande. Verder sê die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie. Ook sê die Engel van die HERE vir haar: Kyk, jy is swanger en sal 'n seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want die HERE het jou in jou ellende verhoor. En hý sal 'n wilde-esel van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon. Toe noem sy die Naam van die HERE wat met haar gespreek het: U is 'n God wat sien. Want sy het gesê: Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien? Daarom noem hulle die put: Put van Lagai-Roï. Dit lê daar tussen Kades en Bered. En Hagar het vir Abram 'n seun gebaar; en Abram het sy seun wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.

GENESIS 16:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sarai het nog nie vir haar man Abram 'n kind in die wêreld gebring gehad nie. Sy het 'n Egiptiese slavin met die naam Hagar gehad. Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy 'n kind in die wêreld wat my eie kan word.” En Abram het saamgestem met sy vrou. Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het. Hy het by Hagar gaan slaap, en sy het swanger geword. Toe sy agterkom sy is swanger, het sy haar eienares geminag. Toe sê Sarai vir Abram: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur. Ek het my slavin vir jou gegee om met haar gemeenskap te hê, en noudat sy agterkom sy is swanger, minag sy my. Mag die Here hierdie saak tussen my en jou uitwys.” Maar Abram sê vir Sarai: “Jou slavin staan onder jou. Doen met haar soos jy goeddink.” Sarai het haar slavin toe sleg behandel, en sy het weggeloop. Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by 'n fontein in die woestyn, die fontein langs die pad na Sur toe, en vir haar gevra: “Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” Toe antwoord sy: “Ek loop van my eienares Sarai af weg,” en die Engel van die Here sê vir haar: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag.” Verder het die Engel van die Here vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel.” En toe sê die Engel van die Here ook nog vir haar: “Kyk, jy is swanger; jy sal 'n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Ismael noem, want die Here het van jou swaarkry gehoor. Jou seun sal 'n man wees so ontembaar soos 'n wildedonkie: hy sal teen almal wees, en almal sal teen hom wees. Hy sal in vyandskap leef met sy bloedverwante.” Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is 'n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” Daarom word die fontein genoem Lagai-Roï-fontein . Die fontein is tussen Kades en Bered. Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem.

GENESIS 16:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Sarai, Abram se vrou, het nie vir hom kinders in die wêreld gebring nie. Maar sy het 'n Egiptiese slavin gehad; haar naam was Hagar. Sarai sê toe vir Abram: “Kyk, die HERE weerhou my daarvan om kinders te kry. Gaan maar na my slavin; miskien kan ek deur haar 'n familie opbou. ” Abram het ingestem tot Sarai se voorstel. Sarai, Abram se vrou, het toe haar Egiptiese slavin, Hagar, geneem en haar aan haar man Abram as vrou gegee. Dit was nadat Abram al tien jaar lank in die land Kanaän gewoon het. Hy het by Hagar ingegaan en sy het swanger geword. Toe sy egter sien dat sy swanger is, was haar meesteres minderwaardig in haar oë. Sarai sê toe vir Abram: “Die onreg wat ek moet verduur, rus op jou. Ek self het my slavin in jou skoot gegee, maar toe sy sien dat sy swanger is, het ek minderwaardig geword in haar oë. Mag die HERE oordeel tussen my en jou.” Abram het Sarai geantwoord: “Kyk, jou slavin is in jou hand. Maak met haar soos dit goed is in jou oë.” Daarna het Sarai haar mishandel, en sy het van haar af weggevlug. Die •Engel van die HERE het haar by 'n waterbron in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur, aangetref. Hy het vir haar gesê: “Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is aan die vlug, weg van my meesteres Sarai af.” Toe sê die Engel van die HERE vir haar: “Gaan terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar gesag.” Die Engel van die HERE het vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag besonder baie maak, sodat hulle vanweë hulle getalle nie getel kan word nie.” Die Engel van die HERE het ook vir haar gesê: “Kyk, jy is swanger en sal aan 'n seun geboorte gee. Jy moet hom Ismael noem, want die HERE het van jou mishandeling gehoor. En hy sal 'n wildedonkie van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! In onvrede met al sy broers sal hy woon.” Hagar het toe die Naam aangeroep van die HERE wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” Daarom word die put Beër-Lagai-Roï genoem. Dit lê daar tussen Kades en Bered. Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem.

GENESIS 16:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie, en sy het 'n slavin gehad, 'n Egiptiese, met die naam van Hagar. Toe sê Sarai vir Abram: Kyk tog, die HERE het my daarvan weerhou om te baar. Gaan tog in by my slavin; dit mag wees dat ek kinders by haar kan kry. En Abram het na die stem van Sarai geluister. En Sarai, die vrou van Abram, het Hagar, haar slavin, die Egiptiese, geneem nadat Abram tien jaar lank in die land Kanaän gewoon het, en haar aan haar man Abram gegee om sy vrou te wees. En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword; en toe sy sien dat sy swanger was, was haar meesteres in haar oë verag. Toe sê Sarai vir Abram: My onreg is op jou: ek het my slavin in jou boesem gegee; en toe sy sien dat sy swanger was, was ek in haar oë verag; die HERE oordeel tussen my en jou. Maar Abram sê vir Sarai: Kyk, jou slavin is in jou hand; doen aan haar soos dit jou behaag. En toe Sarai haar moeilik behandel het, het sy van haar aangesig gevlug. Die Engel van die HERE het haar gevind by 'n waterfontein in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur. En hy sê: Hagar, die slavin van Sarai, waar kom jy vandaan? en waarheen sal jy gaan? En sy sê: Ek vlug voor die aangesig van my meesteres Sarai. Toe sê die Engel van die HERE vir haar: Keer terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar hande. Toe sê die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag uitermate vermeerder, sodat dit nie getel sal word in menigte nie. Toe sê die Engel van die HERE vir haar: Kyk, jy is swanger en jy sal 'n seun baar en hom Ismael noem; want die HERE het jou ellende gehoor. En hy sal 'n wilde man wees; sy hand sal teen elkeen wees en elkeen se hand teen hom; en hy sal in die teenwoordigheid van al sy broers woon. Sy het die Naam van die HERE genoem wat met haar gespreek het: U God sien my, want sy het gesê: Het ek ook hier omgesien na hom wat my sien? Daarom is die put Beerlahairoi genoem; kyk, dit is tussen Kades en Bered. En Hagar het vir Abram 'n seun gebaar, en Abram het sy seun, wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.

GENESIS 16:1-15 Die Boodskap (DB)

Na al die jare was Abram se vrou, Sarai, steeds kinderloos. Uit frustrasie het sy haar Egiptiese slavin, Hagar, na Abram toe gevat en gesê: “Die Here het my nie ’n kind van my eie gegee nie. So, vat haar. Slaap by haar en laat haar kind ook my kind wees.” Vir Abram was dit ’n uitstekende plan. Hulle was immers al tien jaar in die land en nog niks het gebeur nie. Sarai het toe haar slavin, Hagar, die vrou uit Egipte, vir haar man, Abram, as byvrou gegee. Abram het by Hagar gaan slaap en sy het ’n kind verwag. Hagar het toe hoogmoedig geword en Sarai sleg behandel. Diep seergemaak het Sarai vir Abram gesê: “Dis alles jou skuld. Ek verdien nie om so beledig te word nie. Ek het haar vir jou gegee, maar toe sy sien sy verwag, het sy my begin verag. Laat die Here tussen my en jou oordeel.” Abram het toe gesê: “Dis jou slavin, maak met haar wat jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar haar goed gevat en weggeloop het. Die Here het deur sy Engel vir Hagar by ’n fontein in die woestyn ontmoet. Dit is die fontein op die pad na Sur. Hy vra haar toe: “Hagar, Sarai se slavin, sê My, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” “Ek vlug van my eienares, Sarai, af weg,” het sy geantwoord. Die Here se Engel sê toe vir haar: “Gaan terug na daardie plek toe waar jy nie wil wees nie. Gaan terug na jou eienares en doen wat sy vir jou sê. Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle nie getel kan word nie.” Die Here se Engel het ook nog verder gesê: “Jy verwag en binnekort sal jy ’n seun hê. Jy moet hom Ismael noem (dit beteken: ‘God het gehoor’), want die Here het jou gehoor toe jy in jou nood geroep het. Soos ’n wilde donkie in die veld sal jou seun wees. Vry en ongebonde sal hy leef. Niemand sal oor hom heers nie. Teen almal sal hy hom verset en almal sal hom probeer tem. Met sy eie mense sal hy in vyandskap leef.” Hagar het toe ’n naam vir die Here gegee: “U is die God wat mense raaksien en vir hulle sorg. Vandag het ek God gesien wat my raakgesien het.” Tot vandag toe noem hulle die fontein die Beer-Lagai-Roï. Dit is die fontein daar tussen Kades en Bered. Hagar het na Abram en Sarai teruggegaan. Na ’n ruk is haar seun gebore. Abram het die kind Ismael genoem.

GENESIS 16:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar Sarai, Abram se vrou, het nog geen kinders gehad nie. Sarai het ’n Egiptiese slavin gehad met die naam Hagar. Sarai sê toe vir Abram: “Die HERE het my nie toegelaat om kinders te hê nie. Gaan slaap by my slavin. Dalk kan sy ’n kind in die wêreld bring wat ek as my eie kan beskou.” Abram het hiermee ingestem. So het Sarai, Abram se vrou, haar Egiptiese slavin Hagar vir Abram as vrou gegee. Dit het gebeur tien jaar nadat Abram in Kanaän aangekom het. Abram het toe by Hagar gaan slaap en sy het swanger geword. Toe Hagar agterkom dat sy ’n kind verwag, het sy haar meesteres met minagting begin behandel. Toe sê Sarai vir Abram: “Dit is alles jou skuld! Ek het my slavin vir jou gegee om by te slaap. Vandat sy agtergekom het dat sy swanger is, minag sy my. Die HERE sal oordeel tussen my en jou!” Abram het haar terug geantwoord: “Aangesien sy jou slavin is, maak met haar soos jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar weggeloop het. Die engel van die HERE het haar by ’n fontein in die woestyn op pad na Sur gekry. Die engel sê vir haar: “Hagar, diensmeisie van Sarai, waar kom jy vandaan? Waarheen gaan jy?” “Ek loop weg van my meesteres,” antwoord sy. Toe sê die engel van die HERE vir haar: “Gaan terug na jou meesteres toe en wees aan haar onderdanig.” Die engel van die HERE sê ook: “Ek sal vir jou ’n groot nageslag gee wat nie getel kan word nie.” Die engel van die HERE sê toe weer vir haar: “Jy is nou swanger met ’n seun wat jy in die wêreld gaan bring. Jy moet hom Ismael noem, want die HERE het jou noodkreet gehoor. Hierdie seun van jou sal ’n wilde mens wees, soos ’n wildedonkie. Hy sal teen almal wees en almal sal teen hom wees. Hy sal in konflik lewe met sy broers.” Van toe af het Hagar die HERE wat met haar gepraat het, genoem “die God wat my sien”, want sy het gesê: “Ek het die Een gesien wat my gesien het!” Dit is hoekom hierdie put Lagai-Roï-fontein genoem word. Dit is nog steeds tussen Kades en Bered. Later het Hagar vir Abram ’n seun in die wêreld gebring. Abram het hom Ismael genoem.