Sarai, Abram se vrou, het nie vir hom kinders in die wêreld gebring nie. Maar sy het 'n Egiptiese slavin gehad; haar naam was Hagar. Sarai sê toe vir Abram: “Kyk, die HERE weerhou my daarvan om kinders te kry. Gaan maar na my slavin; miskien kan ek deur haar 'n familie opbou. ” Abram het ingestem tot Sarai se voorstel. Sarai, Abram se vrou, het toe haar Egiptiese slavin, Hagar, geneem en haar aan haar man Abram as vrou gegee. Dit was nadat Abram al tien jaar lank in die land Kanaän gewoon het. Hy het by Hagar ingegaan en sy het swanger geword. Toe sy egter sien dat sy swanger is, was haar meesteres minderwaardig in haar oë. Sarai sê toe vir Abram: “Die onreg wat ek moet verduur, rus op jou. Ek self het my slavin in jou skoot gegee, maar toe sy sien dat sy swanger is, het ek minderwaardig geword in haar oë. Mag die HERE oordeel tussen my en jou.” Abram het Sarai geantwoord: “Kyk, jou slavin is in jou hand. Maak met haar soos dit goed is in jou oë.” Daarna het Sarai haar mishandel, en sy het van haar af weggevlug. Die •Engel van die HERE het haar by 'n waterbron in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur, aangetref. Hy het vir haar gesê: “Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is aan die vlug, weg van my meesteres Sarai af.” Toe sê die Engel van die HERE vir haar: “Gaan terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar gesag.” Die Engel van die HERE het vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag besonder baie maak, sodat hulle vanweë hulle getalle nie getel kan word nie.” Die Engel van die HERE het ook vir haar gesê: “Kyk, jy is swanger en sal aan 'n seun geboorte gee. Jy moet hom Ismael noem, want die HERE het van jou mishandeling gehoor. En hy sal 'n wildedonkie van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! In onvrede met al sy broers sal hy woon.” Hagar het toe die Naam aangeroep van die HERE wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” Daarom word die put Beër-Lagai-Roï genoem. Dit lê daar tussen Kades en Bered. Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem.
Lees Genesis 16
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 16:1-15
7 Dae
Jy kan rou smart nie soos ’n been spalk of salf daaraan smeer nie. God se genesende sorg is egter tot jou beskikking. Kom saam met Clarissa Moll op ’n reis deur jou hartseer – en ontdek die liefdevolle teenwoordigheid van Christus wat jou nooit verlaat nie. Hoewel hierdie leesplan nie jou diepste smart kan genees nie, sal die inhoud jou versterk en jou gefokus hou terwyl jy deur jou verlies werk.
8 dae
Hierdie leesplan volg die tema van die Eksodus-weg deur fundamentele verhale in die Ou Testament, sleutelvertellings oor Johannes die Doper, Jesus — en ander gedeeltes waar die hele skepping verlossing ervaar. Saam stel hierdie gedeeltes die eksodus nie as een gebeurtenis voor nie, maar as God se primêre manier van redding – ’n uitweg uit die duisternis, deur herskepping en 'n nuwe lewe in.
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's