GENESIS 14:11-16
GENESIS 14:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Die vier konings het al die goed en die kos van die mense van Sodom en Gomorra gevat en weggegaan. Hulle het ook vir Lot en al sy goed gevat en weggegaan. Lot was Abram se broer se seun. Hy het in daardie tyd in Sodom gewoon. Een man wat gevang is, het losgekom. Hy het alles vir Abram die Hebreër gaan vertel. Abram het toe gewoon by die bome van Mamre, die Amoriet. Mamre en sy broers Eskol en Aner was Abram se bondgenote. Toe Abram hoor die vier konings het vir Lot gevang en weggevat, het hy vir 318 van sy slawe wapens gegee. Hulle het die vier konings gevolg en gejaag tot by die stad Dan. Daar het Abram en sy manne die konings in die nag van verskillende kante aangeval en oorwin. Hulle het die konings gevolg en gejaag tot by die stad Goba, noord van Damaskus. Abram het al hulle goed teruggebring. Hy het ook sy broer se seun Lot en sy goed teruggebring, ook die vroue en die ander mense.
GENESIS 14:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggetrek. Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek — want hy was in Sodom woonagtig. Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram. Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, driehonderd-en-agtien, en hulle tot by Dan agtervolg — hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê. En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.
GENESIS 14:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die vier konings het al die besittings van Sodom en Gomorra en ook al hulle kos buitgemaak en vertrek. Hulle het ook vir Lot, Abram se broerskind, en al sy besittings gevat en vertrek. Hy het daardie tyd in Sodom gewoon. Daar het egter iemand ontsnap en dié het alles gaan vertel vir Abram die Hebreër wat gewoon het by die groot bome van die Amoriet Mamre, 'n broer van Eskol en Aner. Hulle drie het 'n verdrag met Abram gesluit. Toe Abram hoor dat sy familielid weggevoer is, het hy sy volgelinge, drie honderd en agtien slawe wat by hom gebore is, hulle wapens laat vat en die konings agtervolg tot by Dan. Die nag het Abram en sy manne hulle van verskillende kante af aangeval en verslaan. Hy het hulle agtervolg tot by Goba, noord van Damaskus. Abram het al die besittings teruggekry. Hy het ook vir Lot, sy familielid, met al sy besittings teruggekry, ook die vrouens en al die ander mense.
GENESIS 14:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die oorwinnaars het al die besittings van Sodom en Gomorra en al hulle kos gevat en weggegaan. Hulle het Lot, die broerskind van Abram, en sy besittings gevat en weggegaan. Hy het toe in Sodom gewoon. Iemand wat ontkom het, het dit vir Abram, die Hebreër, vertel. Hy het gewoon by die akkerbome van die Amoriet, Mamre, die broer van Eskol en Aner. Hulle was bondgenote van Abram. Toe Abram hoor dat sy broer weggevoer is, het hy sy onderhoriges, hulle wat in sy huis gebore is, bewapen, driehonderd-en-agttien man, en die agtervolging volgehou tot by Dan. In die nag het hy en sy dienaars in verskillende groepe teen die konings verdeel en hulle aangeval. Hy het hulle agtervolg tot by Hoba, wat noord van Damaskus is. Hy het al die besittings teruggebring. Ook Lot, sy broer, het hy saam met sy besittings teruggebring, sowel as die vroue en die manskappe.
GENESIS 14:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle lewensmiddele geneem en weggetrek. En hulle het Lot, die seun van Abram se broer, wat in Sodom gewoon het, en sy besittings geneem en vertrek. En daar het een wat vrygeraak het, gekom en dit aan Abram, die Hebreër, meegedeel; want hy het gewoon in die vlakte van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was verbonde aan Abram. En toe Abram hoor dat sy broer gevange geneem is, het hy sy geoefende dienaars, gebore in sy eie huis, drie honderd en agtien, gewapen en hulle tot by Dan agtervolg. En hy het hom in die nag teen hulle verdeel, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat aan die linkerkant van Damaskus is. Hy het al die goed teruggebring en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring en ook die vroue en die volk.
GENESIS 14:11-16 Die Boodskap (DB)
Daarna het Kedorlaomer-hulle op Sodom en Gomorra toegesak en alles gevat. Hulle het al die kos weggevat en sommer ook ’n klomp mense saam met hulle geneem. Een van hierdie mense was Lot, die broerskind van Abram. Hy het destyds in Sodom gebly. Hulle het al sy besittings gevat en hom gedwing om saam met hulle te gaan. Iemand wat die geveg oorleef het, het vir Abram van Lot gaan vertel. Abram het in dié tyd by die groot bome van die Amoriet Mamre, ’n broer van Eskol en Aner, uitgekamp. Hierdie mense was Abram se bondgenote. Toe Abram hoor dat sy broerskind gevang is, het hy onmiddellik opgetree. Hy het 318 van sy eie werkers geneem en die vyand in die rigting van Dan agtervolg. In die nag het Abram sy manne stilletjies ontplooi en onverwags op die Kedorlaomermanne toegesak. Hulle het die vyand byna vernietig en die vlugtendes tot so ver as Hoba, noord van Damaskus, agternagesit. Abram het sy broerskind, Lot, gou opgespoor en hom met al sy besittings teruggebring. Abram kon ook al die besittings sowel as al die vroue en kinders wat Kedorlaomer se manne gevat het, terugkry.
GENESIS 14:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die seëvierende invallers het Sodom en Gomorra geplunder. Daarna het hulle al die besittings en kos in die stede gevat en saamgeneem huis toe. Hulle het ook Lot, Abram se neef wat toe in Sodom gewoon het, gevange geneem en al sy besittings saamgeneem. Iemand wat ontsnap het, het dit vir Abram die Hebreër kom vertel. Abram het by die groot bome van Mamre die Amoriet gewoon. Mamre en sy bloedverwante Eskol en Aner was bondgenote van Abram. Toe Abram hoor Lot is as gevangene weggevoer, het hy die weerbare manne in sy huishouding bymekaargeroep. Daar was 318 van hulle, almal in sy huishouding gebore. Hy het Kedorlaomer se leër agternagejaag en hulle by Dan ingehaal. Daar het hy in die nag sy manskappe verdeel en die invallers van verskillende kante af aangeval. Kedorlaomer se leër het gevlug, maar Abram het hulle tot by Goba, noord van Damaskus, agtervolg. Hy het alles wat geroof is, teruggekry, ook sy neef Lot met sy besittings en al die vroue en ander gevangenes.