GALASIËRS 3:6-16

GALASIËRS 3:6-16 Bybel vir almal (ABA)

Dit het ook met Abraham gebeur: Hy het God geglo en God het hom vrygespreek van sy sonde. Daarom moet julle dit weet: Die kinders van Abraham is die mense wat in Christus glo. Die Ou Testament het lank gelede gesê dat God die heidene sal vryspreek van hulle sonde omdat hulle glo. Daarom het God hierdie goeie boodskap vir Abraham gegee: Ek seën jou, en daarom sal Ek ook al die heidene seën. Daarom moet julle dit weet: God het vir Abraham geseën en God seën almal wat glo soos Abraham glo. Daar is mense wat dink God spreek hulle vry omdat hulle doen wat die wette sê, maar God vervloek hulle. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat nie alles doen wat in die wette geskryf is nie. Ja, dit is waar. God spreek nie mense vry omdat hulle doen wat die wette sê nie. As mense doen wat die wette sê, dan spreek God hulle nie vry nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Wanneer God mense vryspreek omdat hulle glo, dan sal hulle lewe. Die wette vra nie dat mense moet glo nie, die wette vra dat die mense moet doen wat die wette sê. Want in die Ou Testament is geskryf: Elkeen wat doen wat die wette sê, sal lewe omdat hy dit gedoen het. Ja, God vervloek almal wat nie doen wat die wette sê nie. Maar God het ons nie vervloek nie, Hy het Christus vervloek in ons plek. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat aan 'n houtpaal hang. En so het Christus ons vrygemaak. Daarom kon die heidene God se seën kry, die seën wat Hy vir Abraham belowe het en wat Hy nou vir hulle gee omdat hulle aan Christus Jesus behoort. Daarom kon ons wat glo, die Heilige Gees kry, die Gees wat God vir ons belowe het. Vriende, ek gaan nou 'n voorbeeld gebruik om te verduidelik wat ek sê: Wanneer 'n mens 'n testament gemaak het, dan kan iemand anders dit nie verander of sê dit beteken niks nie. Dit is dieselfde met die verbond. In die Ou Testament is geskryf dat God 'n belofte gemaak het aan Abraham en aan sy nageslag. Daar is nie geskryf “baie nageslagte” nie, maar “een nageslag,” en dit is Christus.

GALASIËRS 3:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” By die wet gaan dit egter nie om die geloof nie, maar om die daad, want daar staan: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.” Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het. Broers, ek gaan nou 'n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As 'n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie. God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling” , net een, en hierdie nakomeling is Christus.

GALASIËRS 3:6-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.” En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” •Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang. Broers, ek noem 'n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat 'n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is •Christus.

GALASIËRS 3:6-16 Die Boodskap (DB)

Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg. Weet julle, ons almal wat in God glo, is ook Abraham se kinders. Die Bybelskrywers het lankal geweet dat God mense uit ander volke wat in Hom glo, van hulle sondes sou vryspreek. Abraham het ook hierdie goeie nuus gehoor. Daar is vir hom gesê: “Jou geloof sal nog maak dat al die volke op aarde eendag God se seën beleef.” Weet julle, ons almal wat glo, val onder die gelukkiges wat nou deel het in die seëninge wat God aan Abraham gegee het. Dit net omdat hierdie een man bereid was om God op sy woord te neem. Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê, staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf: “God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede alles doen wat in die wet opgeskryf is nie.” Hierdie uitspraak wys vir ons dat niemand hulle saak met God self kan regmaak deur bloot net te doen wat die wet sê nie. Die Bybel sê immers: “Elkeen wie se verhouding met God reg is omdat hulle in Hom glo, sal lewe!” Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie. Christus het ons daarvan kom vrymaak. Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.” Maar die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het. My broers en susters, kom ek verduidelik gou met ’n alledaagse voorbeeld wat ek bedoel. Kom ons neem ’n kontrak of ’n ooreenkoms tussen twee mense. Julle weet mos dat as iemand ’n ooreenkoms opgestel het en dit word aanvaar deur al die partye wat daarby betrokke is, niemand dit daarna ongeldig kan verklaar of nog iets kan byvoeg nie. Kom ons pas hierdie voorbeeld nou toe op Abraham. Ons weet dat God sy beloftes aan hom en aan sy afstammeling gemaak het. Maar let fyn op: die Bybel sê nie dat God hierdie belofte aan al sy afstammelinge gemaak het nie. Nee, daar word net van die een afstammeling gepraat. Hierdie afstammeling is natuurlik Christus.

GALASIËRS 3:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

So was dit ook met Abraham: “Hy het God geglo en God het hom vrygespreek.” Julle moet dus insien: Die ware kinders van Abraham is hulle wat glo. Verder het die Skrif vooruit gesien dat God nie-Jode deur geloof sou vryspreek. Daarom is die Goeie Nuus vooraf aan Abraham bekendgemaak: “Deur jou sal al die volke geseën wees.” Almal wat glo, word gevolglik geseën saam met die gelowige Abraham. Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.” Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.” Maar by die wet speel geloof geen rol nie, want daar staan: “Wie dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ’n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal hang.” Dit wat Christus Jesus gedoen het, het tot gevolg dat ook die nie-Joodse nasies deel kry aan Abraham se seën. Dit beteken dat ons deur die geloof die Gees wat belowe is, ontvang. Broers en susters, ek gebruik nou ’n alledaagse voorbeeld. As ’n ooreenkoms, al is dit mensewerk, eers gesluit is, kan niemand dit ongeldig verklaar of iets daarby voeg nie. My argument is: God het sy beloftes aan Abraham en sy nakomeling gegee. Daar staan nie “nakomelinge” asof baie mense bedoel word nie, maar dit gaan om één persoon. Met “sy nakomeling” word Christus bedoel.