GALASIËRS 3:19-25
GALASIËRS 3:19-25 Bybel vir almal (ABA)
Hoekom het God die wette gegee? Hy het dit gegee omdat mense sonde doen. Maar die wette was net belangrik totdat Christus gekom het. Christus is die nageslag van Abraham, en dit wat God vir Abraham belowe het, het Hy vir Christus belowe. Engele het die wette vir Moses gegee, en Moses het die wette vir die mense gegee. God het die wette vir Moses gegee en Moses het die wette vir die mense gegee. Dit beteken: Die wette het nie reguit van God gekom nie. Maar ons weet: God is een. Is die wette en God se beloftes dan vyande van mekaar? Nee, glad nie. Maar die wette kan nie vir mense die ware lewe gee nie, daarom sal God hulle nie vryspreek wanneer hulle doen wat die wette sê nie. Die Ou Testament sê almal is sondaars, maar nou gee God die dinge wat Hy belowe het vir die mense wat in Jesus Christus glo. Die wette was vir ons soos 'n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo. Die wette het ons opgepas soos 'n mens 'n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes. Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie.
GALASIËRS 3:19-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van 'n middelaar. En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een. Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar 'n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees. Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word. Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie.
GALASIËRS 3:19-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van 'n tussenganger aan die volk gegee. Maar as daar net één is wat handel, is 'n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een. Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God? Beslis nie! As 'n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou 'n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus. Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.
GALASIËRS 3:19-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredings; dit is gegee totdat die Saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele en deur die tussenkoms van 'n middelaar. 'n Middelaar beteken egter dat daar nie net een betrokke is nie; maar God is één! Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar 'n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die •vryspraak eintlik op grond van die wet kon geskied. Maar die Skrif het alles onder die sonde ingesluit, sodat die belofte wat op geloof in Jesus •Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo. Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingesluit met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. Die wet was dus ons oppasser, met die oog op Christus, sodat ons deur geloof geregverdig kon word. Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van 'n oppasser nie.
GALASIËRS 3:19-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Waarom dien die wet dan? Dit is bygevoeg weens oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gemaak is, sou kom; en dit is verordineer deur engele in die hand van 'n middelaar. Nou is 'n middelaar nie 'n middelaar van een nie, maar God is een. Is die wet dan teen die beloftes van God? God verhoed dit, want as daar 'n wet gegee was wat lewe kon gee, sou geregtigheid voorwaar deur die wet gewees het. Maar die Skrif het alles onder die sonde afgesluit, sodat die belofte deur die geloof van Jesus Christus gegee sou word aan die wat glo. Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet bewaar, opgesluit vir die geloof wat daarna geopenbaar sou word. Daarom was die wet ons skoolmeester om ons na Christus te bring, sodat ons uit die geloof geregverdig kan word. Maar nadat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n skoolmeester nie.
GALASIËRS 3:19-25 Die Boodskap (DB)
Waarom is die wet dan nog nodig? Wel, God het dit later gegee sodat mense presies kon weet wat sonde is. Die wet sou egter net geld totdat daardie een afstammeling van Abraham van wie ek hier bo gepraat het, op die toneel verskyn. Vroeër is die wet deur die engele aan Moses gegee. Moses was toe die tussenganger tussen God en sy volk. Soos julle weet, is tussengangers gewoonlik nodig wanneer twee groepe met mekaar ’n ooreenkoms sluit. Maar wanneer God self iets doen, soos toe Hy sy beloftes aan Abraham gemaak het, is daar geen tussengangers nodig nie. God doen dit sommer self. Staan die wet van Moses teenoor die beloftes wat God aan Abraham gemaak het? Weerspreek hulle mekaar? Nee, natuurlik nie. Maar dit beteken nog nie dat die wet ons by die ware lewe kan uitbring nie. As dit die geval was, het ons mos niks meer as die wet nodig gehad nie. Dan kon ons ons eie saak met God regmaak deur net te doen wat die wet sê. Maar dis glad nie so eenvoudig nie. Die Bybel sê vir ons dat ons almal in die mag van die sonde vasgevang is. God se belofte dat Hy almal vryspreek wat glo, is daarom net vir dié van ons bedoel wat in Jesus Christus glo. Voordat hierdie nuwe tydvak van geloof aangebreek het, was ons almal in ’n yslike groot tronk opgesluit. Die wet het ons dag vir dag opgepas totdat hierdie wonderlike nuwe tyd van geloof aangebreek het.
GALASIËRS 3:19-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Waarom dan die wet? Dit het bygekom met die oog op die sonde totdat die “Nakomeling” op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan Israel gegee. My argument is: ’n Tussenganger is nie nodig as daar net een party is nie. En God is net één! Is die wet dus in stryd met God se beloftes? Verseker nie! As daar ’n wet was wat ware lewe kon gee, sou ons inderdaad vrygespreek kon word deur daardie wet te gehoorsaam. Maar die Skrif getuig die teendeel: Alles is vasgevang in die greep van sonde sodat die belofte op grond van geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee sou kon word. Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was gevange gehou totdat God se plan van geloof geopenbaar sou word. Die wet het ons soos ’n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang. Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van ’n kinderopvoeder nie.