GALASIËRS 3:1-6
GALASIËRS 3:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Julle in Galasië moenie so dom wees nie! Ek het vir julle gepreek en so goed verduidelik dat Jesus Christus gekruisig is. Maar dit lyk vir my iemand het julle getoor en julle koppe deurmekaar gemaak. Daar is een baie belangrike ding wat julle moet onthou: God het vir julle die Heilige Gees gegee. Hoekom? Nie omdat julle doen wat die wette sê nie, maar omdat julle die goeie boodskap gehoor en geglo het. Julle moenie so dom wees nie! Toe julle begin glo het, het die Heilige Gees in julle begin werk, maar nou wil julle die werk met julle eie krag klaarmaak. Daar het so baie dinge met julle gebeur, en nou lyk dit of dit alles niks gehelp het nie. Ek hoop nie so nie! God gee vir julle die Heilige Gees en God doen wonderwerke in julle gemeentes. Hoekom doen Hy dit? Hy doen dit omdat julle die goeie boodskap gehoor het en dit glo, nie omdat julle doen wat die wette sê nie. Dit het ook met Abraham gebeur
GALASIËRS 3:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
O, ONVERSTANDIGE Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.
GALASIËRS 3:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang! Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie! Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”
GALASIËRS 3:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor – julle voor wie se oë Jesus •Christus voorheen as gekruisigde uitgebeeld is? Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? Is julle so dwaas? Julle het met die Gees begin; wil julle nou met die vlees eindig? Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.”
GALASIËRS 3:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O, dwase Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, voor wie se oë Jesus Christus klaarblyklik geopenbaar is, onder julle gekruisig? Net dit wil ek van julle leer: Het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die gehoor van die geloof? Is julle so dwaas? het julle in die Gees begin, is julle dan nou deur die vlees volmaak? Het julle so baie dinge tevergeefs gely? as dit nog tevergeefs is. Hy dan wat julle die Gees bedien en wonders onder julle doen, doen hy dit uit die werke van die wet of deur die gehoor van die geloof? Net soos Abraham God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.
GALASIËRS 3:1-6 Die Boodskap (DB)
Dit lyk my julle klomp Galasiërs het intussen die kluts heeltemal kwytgeraak. Ek begin my afvra of iemand julle nie dalk getoor het nie. Vroeër is die goeie nuus so duidelik aan julle verkondig dat julle Jesus Christus met julle eie oë aan die kruis kon sien hang. Wat het intussen skeefgeloop? Sê my, hoe het julle deel gekry in die krag van die Heilige Gees? Was dit deur te doen wat die wet sê? Of deur die goeie nuus te glo? Ja, natuurlik: deur te glo! Julle is regtig die kluts kwyt. Julle het vroeër reg begin: in die krag van die Heilige Gees. En nou? Nou eindig julle in julle eie krag. Was alles wat julle moes deurmaak ter wille van julle geloof dan heeltemal verniet? Dit kan mos nie waar wees nie! God wat julle met sy Gees vervul het en wat groot wonders onder julle doen, doen nie hierdie dinge omdat julle die wet so streng gehoorsaam nie. Of hoe? Nee, Hy doen hierdie dinge onder julle omdat julle die evangelie glo. Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg.
GALASIËRS 3:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
O, dwase Galasiërs! Wie het julle getoor? Christus is dan só duidelik vir julle beskryf dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang! Ek wil net dit vir julle vra: Het julle die Gees ontvang deur die wet te onderhou of deur te glo wat julle gehoor het? Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het, nou uit eie krag probeer klaarmaak? Was al die goeie dinge wat julle beleef het, dan tevergeefs? Dit kon tog nie tevergeefs gewees het nie! Vra julle dus af: Het God die Gees vir julle gegee en wonders onder julle bewerk omdat julle die wet onderhou of omdat julle geglo het wat julle gehoor het? So was dit ook met Abraham: “Hy het God geglo en God het hom vrygespreek.”