GALASIËRS 2:3-5
GALASIËRS 2:3-5 Bybel vir almal (ABA)
Titus was saam met my. Hy is 'n Griek, maar die gelowiges in Jerusalem het nie vir hom gesê hy moet hom laat besny nie. Daar was mense in die gemeente in Jerusalem wat nie regtig gelowiges was nie. Hulle het skelm kom luister na wat ek sê, want hulle wou my beskuldig omdat ek sê Christus Jesus het ons vrygemaak. Hulle wou hê ons moet weer slawe word van die Wette van Moses. Ons het glad nie na hulle geluister nie. So het ons seker gemaak dat julle ook die waarheid van die goeie boodskap kon hoor.
GALASIËRS 2:3-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is; en dit vanweë die ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring; aan wie ons selfs nie 'n oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly.
GALASIËRS 2:3-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hoewel Titus, wat saam met my was, 'n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie. Daar was wel sekere mense wat dit wou hê, maar dit was mense wat onder vals voorwendsels in die gemeente ingedring het en hulle as medegelowiges voorgedoen het. Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak. Aan hulle eise het ons egter nie 'n enkele oomblik toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie vir julle gehandhaaf sou word.
GALASIËRS 2:3-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar selfs Titus, wat saam met my was, is nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is. Die saak het ontstaan omdat skynheilige broers, wat onder valse voorwendsels ingesmokkel is, ingesypel het om te spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om van ons slawe te maak. Ons het nie vir 'n oomblik in onderdanigheid aan hulle toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie onder julle behoue sou bly.
GALASIËRS 2:3-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar ook Titus, wat saam met my was, omdat hy 'n Griek was, was gedwing om besny te word nie. En dit vanweë onwetende valse broeders wat in die geheim ingekom het om ons vryheid wat ons in Christus Jesus het, te verken, sodat hulle ons in slawerny kon bring. Aan wie ons deur onderdanigheid plek gegee het, nee, nie vir 'n uur nie; sodat die waarheid van die evangelie by julle kan bly.
GALASIËRS 2:3-5 Die Boodskap (DB)
Titus, wat saam met my Jerusalem toe gegaan het, was ’n Griek. Hy was nie besny soos die Joodse wet dit vereis nie. Gelukkig het die gelowiges in Jerusalem ook nie van hom verwag om dit te doen nie. Maar daar was wel ’n paar mense wat wou hê dat hy besny moes word. Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom. Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak. Maar ons het dit nie toegelaat nie. Met al ons krag het ons gekeer dat die regte evangelie wat ons preek deur hierdie spul verander word. Weet julle, ons het dit ter wille van julle gedoen. Ons wou doodseker maak dat die regte evangelie ook daar by julle in Galasië uitkom.
GALASIËRS 2:3-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar hoewel Titus, wat saam met my was, ’n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie. Net ’n paar skyngelowiges het daarop aangedring. Hulle het die byeenkoms binnegesluip om te kom spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om ons weer slawe te maak. Ons het egter vir geen oomblik toegegee nie sodat die waarheid van die Goeie Nuus vir julle gehandhaaf kan bly.