GALÁSIËRS 2

2
1DAARNA, veertien jaar later, het ek weer na Jerusalem opgegaan met Bárnabas, en Titus ook saamgeneem.
2Maar ek het opgegaan op grond van 'n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig; en afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie.
3Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is;
4en dit vanweë die ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring;
5aan wie ons selfs nie 'n oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly.
6Maar van die wat in aansien was — wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie — hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie.
7Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes
8— want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene —
9en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Bárnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan;
10alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.
11Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het.
12Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is.
13En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Bárnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins.
14Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?
15Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie,
16terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
17Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan 'n dienaar van die sonde? Nee, stellig nie!
18Want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan betoon ek myself 'n oortreder;
19want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe.
20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
21Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid