ESEGIËL 8:7-18

ESEGIËL 8:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe het Hy my na die deur van die tempel se voorhof geneem. Ek kon daar ’n opening in die muur sien. Hy het vir my gesê: “Mensekind, breek die muur af.” Ek het die muur afgebreek en toe ’n deur na ’n geheime kamer gekry. “Gaan in,” sê Hy vir my. “Gaan kyk na die afskuwelike dinge wat daar binnekant aangaan.” Ek het toe ingegaan. Ek het gesien dat die mure vol kruipende dinge en ander afskuwelike skepsels geteken was. Ek het ook die afgode van Israel gesien wat rondom teen die mure uitgekap is. Daar het 70 leiers van Israel gestaan met Jaäsanja seun van Safan in hulle midde. Elkeen van hulle het ’n wierookbak gehad. Daar het ’n dik wolk wierook bokant hulle koppe gehang. Toe het Hy vir my gesê: “Mensekind, het jy gesien wat die leiers van Israel in die donkerte doen, elkeen by die heiligdom van sy afgod? Hulle sê: ‘Die HERE sien ons nie. Die HERE is uit die land uit!’” Toe voeg Hy by: “Kom Ek wys jou nog afskuweliker sondes as dié.” Hy het my na die noordelike hek van die HERE se heilige woning gebring waar ’n klomp vroue gesit het. Hulle het verlangend na die afgod Tammus geroep. “Het jy dit gesien?” het Hy gevra. “Maar Ek sal jou selfs nog groter sondes as hierdie wys!” Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die HERE se woning. By die ingang, tussen die voorportaal en die altaar, het 25 mans met hulle rug na die HERE se tempel toe gestaan. Hulle het na die oostekant gekyk en voor die son in die ooste neergebuig. “Het jy dit gesien, mensekind?” vra Hy my. “Is dit nie genoeg vir die volk van Israel dat hulle hierdie afskuwelike sondes doen nie? Moet hulle nou ook die land vol geweld maak, en my woede aanhoudend laat losbreek? Kyk hoe hulle nou in afvalligheid van My druiweranke voor hulle neuse rondswaai! Daarom gaan Ek hulle nou in my woede tref. Ek sal hulle nie jammer kry of hulle verskoon nie. En al pleit hulle vir genade, sal Ek nie luister nie.”

ESEGIËL 8:7-18 Bybel vir almal (ABA)

Hy bring my toe tot by die ingang na die oop stuk grond, en daar is toe 'n gat in die muur. Toe sê die Here vir my: “Mens, jy moet nou die gat groter maak, sodat jy kan deurgaan.” Ek het dit gedoen, en toe sien ek daar 'n ingang. Die Here het vir my gesê: “Gaan kyk na die baie slegte dinge wat hulle hier doen.” Ek het gaan kyk, en daar sien ek toe dat mense oral teen die mure verskillende goed geteken en uitgekrap het. Dit was tekeninge van lelike diere, klein diertjies en groot diere, en tekeninge van al die ander afgode van die volk Israel. Voor die tekeninge het 70 van die leiers van die volk Israel gestaan. Jaäsanja seun van Safan het tussen hulle gestaan. Elke leier het 'n wierook-pan in sy hand gehad, en die rook van die wierook het uit die panne opgekom. Toe sê die Here vir my: “Mens, sien jy wat doen die leiers van die volk Israel hier in die donker, elkeen in sy kamer wat vol afgodsbeelde is? Hulle dink Ek sien hulle nie, hulle dink die Here het die land gelos.” Maar toe sê die Here vir my: “Jy sal nog meer slegte dinge sien wat hulle doen.” Die Here bring my toe tot by die ingang van die poort noord van die tempel, en daar sien ek toe vroue sit, hulle was besig om te huil oor Tammus. Die Here het vir my gesê: “Mens, sien jy dit? Jy sal nog slegter dinge sien as hierdie dinge.” Toe bring Hy my na die binneste oop stuk grond by die tempel. Daar het omtrent 25 mans gestaan, en hulle rug was na die tempel. Hulle gesig was na die ooste, en hulle het na die ooste gebuig vir die son. Hulle was by die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar. Toe sê die Here vir my: “Mens, sien jy dit? Die volk Juda doen baie slegte dinge hier, maar hulle doen nog baie meer slegte dinge op ander plekke. Hulle het ook nog slegte dinge gedoen aan die mense in die hele land. En dan kom hulle ook en hulle beledig My en hulle ruik aan druiweranke, hulle maak My baie kwaad. Nou sal Ek ook iets doen aan hulle. Ek is kwaad, Ek sal hulle nie vergewe nie en Ek sal nie jammer wees vir hulle nie. Hulle sal hard skree en vra dat Ek hulle moet help, maar Ek sal nie doen wat hulle vra nie.”

ESEGIËL 8:7-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarop bring Hy my by die ingang van die voorhof. Ek kyk toe — en daar was 'n gat in die muur. En Hy sê vir my: Mensekind, breek tog deur die muur heen. En ek het deur die muur heen gebreek, en kyk, daar was 'n deur. Daarop sê Hy vir my: Gaan in, en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen. Ek gaan toe in en kyk — en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was. En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan, en Jaäsánja, die seun van Safan, onder hulle; en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat. En Hy sê vir my: Jy sal nog ander groot gruwels sien wat hulle doen. Hy het my toe gebring na die noordelike ingang van die poort by die huis van die HERE, en kyk, daar het die vroue gesit wat Tammus beween. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien. Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die HERE; en kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf-en-twintig man, met hulle rug na die tempel van die HERE en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou! Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor my ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie.

ESEGIËL 8:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe bring Hy my by die poort in die voorhof van die tempel, en daar sien ek 'n gat in die muur. Hy sê toe vir my: “Mens, breek af die muur!” Toe ek die muur begin afbreek, sien ek 'n poort. God het vir my gesê: “Gaan in en kyk die gruwelike, afskuwelike dinge wat hulle hier doen!” Ek het ingegaan en gekyk. Daar was afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel wat rondom teen die mure uitgekap is. Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en 'n geurige wierookwolk het opgestyg. God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.” Toe sê die Here vir my: “Jy sal nog afskuweliker dinge sien wat hulle doen,” en Hy bring my by die ingang van die poort noord van die huis van die Here. Daar het vrouens gesit en huil oor Tammus. Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Maar jy sal nog afskuweliker dinge as hierdie sien.” Hy bring my toe na die binneste voorhof van die huis van die Here toe. Daar in die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was 'n stuk of vyf en twintig man met hulle rug na die tempel van die Here toe en hulle gesig na die ooste toe, en hulle was besig om in aanbidding voor die son neer te val na die ooste toe. Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Was dit nie genoeg dat Juda dié afskuwelike dinge hier gedoen het nie? Hulle het boonop die hele land vol geweld gemaak, en dan kom tart hulle My nog met die druiweranke wat hulle voor hulle neuse rondswaai. Ek gaan nou doen wat my gramskap eis, Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na My, Ek sal hulle nie hoor nie.”

ESEGIËL 8:7-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy neem my toe na die ingang van die voorhof, en ek sien toe, kyk, daar is 'n gat in die muur! Hy sê vir my: “Mensekind, breek deur die muur!” Ek het deur die muur gebreek, en kyk, daar is toe 'n ingang. En Hy sê vir my: “Gaan in en kyk na die afstootlike, bose dinge wat hulle hier doen.” Ek het ingegaan, en toe ek kyk, is daar allerlei weersinwekkende afbeeldings van kruipende en ander diere, ook al die afgodsbeelde van die huis van Israel, uitgekerf op die muur reg rondom! Sewentig manne van die oudstes van die huis van Israel het voor die afbeeldings gestaan, elkeen met sy pan met reukwerk in sy hand, terwyl Jaäsanja, seun van Safan, daar tussen hulle staan. 'n Geurige wolk reukwerk het opgestyg. Hy sê toe vir my: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.’ ” Hy sê toe vir my: “Jy sal nog erger afstootlike dade sien wat hulle doen.” Hy neem my toe na die ingang van die poort aan die noordekant van die huis van die HERE; en daar sit vroue wat treur oor Tammus! Hy sê toe vir my: “Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog erger afstootlike dade sien as dit.” Hy neem my toe na die binneste voorhof van die huis van die HERE; en daar, by die ingang na die HERE se •tempel, tussen die portaal en die altaar, is ongeveer vyf-en-twintig manne met hulle rûe na die HERE se tempel gekeer en hulle gesigte na die ooste! Hulle het na die ooste gebuig in aanbidding voor die son. Hy sê toe vir my: “Sien jy dit, mensekind? Is die afstootlike dade wat hulle hier aanvang dan te gering vir die huis van Juda, dat hulle ook nog die land vul met geweld en My telkens weer uittart? Kyk, hulle steek 'n wingerdrank uit na my neus. Op my beurt gaan Ek in woede optree. Ek sal nie 'n traan stort nie, Ek sal nie deernis hê nie. Al roep hulle baie hard in my ore, Ek sal nie na hulle luister nie.”

ESEGIËL 8:7-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het my na die ingang van die voorhof gebring; en toe ek kyk, daar was 'n gat in die muur. Toe sê Hy vir my: Mensekind, grawe nou in die muur, en toe ek in die muur gegrawe het, kyk daar is 'n deur. En hy het vir my gesê: Gaan in en kyk na die bose gruwels wat hulle hier doen. Ek het toe ingegaan en gesien; en kyk, elke vorm van kruipende diere en afskuwelike diere, en al die drekgode van die huis van Israel, rondom uitgestort op die muur. En daar het voor hulle gestaan sewentig man uit die oudstes van die huis van Israel, en in hulle midde het Jaäsanja, die seun van Safan, gestaan, met elkeen sy wierookpan in sy hand; en 'n dik wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Mensekind, het jy gesien wat die oudstes van die huis van Israel in die donker doen, elkeen in die kamers van sy beeldspraak? want hulle sê: Die HERE sien ons nie; die HERE het die aarde verlaat. Hy het ook vir my gesê: Bekeer jou weer, en jy sal groter gruwels sien wat hulle doen. Toe het hy my gebring na die ingang van die poort van die huis van die HERE wat na die noorde was; en kyk, daar sit vroue en huil oor Tammus. Toe sê Hy vir my: Het jy dit gesien, o mensekind? Bekeer jou weer, en jy sal groter gruwels as hierdie sien. En hy het my in die binneste voorhof van die huis van die HERE gebring, en kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf en twintig man, met hul rug na die tempel van die HERE gerig, en hulle aangesigte na die ooste; en hulle het die son na die ooste aanbid. Toe sê hy vir my: Het jy dit gesien, o mensekind? Is dit 'n ligte ding vir die huis van Juda dat hulle die gruwels doen wat hulle hier doen? want hulle het die land met geweld gevul en teruggekeer om My te terg; en kyk, hulle het die loot aan hul neus gesit. Daarom sal Ek ook in grimmigheid handel: my oog sal nie spaar nie, en Ek sal nie jammer wees nie

ESEGIËL 8:7-18 Die Boodskap (DB)

Toe vat die Here my na die voordeur van die huis van die Here toe. Ek sien toe dat daar ’n gat in die muur gemaak is. Hy sê toe vir my: “Mens, breek daardie gat in die muur nog groter!” Toe ek die muur verder afbreek, sien ek dat daar ’n deur is wat na ’n versteekte ingang lei. Toe sê God vir my: “Stap nou ’n bietjie deur daardie ingang en gaan kyk watter afskuwelike, slegte dinge die mense daarbinne aanvang!” Ek het toe in die versteekte kamer ingekruip. Ek sien toe die mure is vol geverf van slange, akkedisse en ander reptielagtige diere. Ek sien toe dis afbeeldings van afgode wat skelm deur die volk Israel aanbid word. Sewentig van Israel se leiers het daar in die versteekte kamer gestaan, met Jaäsanja, Safan se seun, tussen hulle. Elkeen van hierdie mense het wierook gebrand om die afgode te eer wat hulle aanbid het. Die hele kamer was sommer al donker van al die wierook. Toe sê die Here vir my: “Mens, het jy gesien wat die leiers van Israel stilletjies in die donker doen, en hoe hulle ’n huis vir hulle eie afgode ingerig het? Hulle dink Ek sien hulle nie, al doen hulle dit in my huis. Hulle dink Ek is nie meer in die land nie.” En toe sê die Here verder vir my: “Ek gaan jou dinge wys wat die volk doen wat selfs nog afskuweliker is as dit!” Toe vat die Here my na die deur aan die noordekant van die huis van die Here. Daar het ’n klomp vroue gesit. Hulle het gehuil omdat ’n afgod kwansuis op dié dag dood is, en die afgod Tammus gesê het hulle moet huil. “Het jy al ooit so iets in jou lewe gesien?” vra die Here. “Maar kom Ek gaan wys jou selfs nog groter slegte dade as dit!” Toe vat die Here my binne-in sy huis in. Daar het 25 mans gestaan, met hulle rûe na die huis van die Here gedraai. Hulle het na die oostekant gekyk waar die son opkom. Hulle het die son aanbid! “Het jy dit gesien, mens?” vra Hy. “Moet Ek maak of dit sommer niks is nie dat my volk sulke verskriklik slegte dade doen? En nou doen hulle boonop ook gewelddadige dade teen ander mense. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek is woedend oor wat hulle doen! Daarom gaan Ek my humeur verloor. Ek gaan hulle straf hiervoor. Daar sal geen verskoning vir hulle wees nie. Ek sal hulle ook nie jammer kry nie. Selfs al roep hulle hoe hard na My om te wys hoe jammer hulle skielik is, Ek sal nie na hulle luister nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid