Esegiël 8

8
Tempelvisioen
1In die sesde jaar, op die vyfde dag van die sesde maand, het ek in my huis gesit, met die oudstes van Juda wat voor my sit. Toe het die hand van my Heer, die Here, daar oor my gekom. 2 Toe ek kyk, is daar 'n gestalte wat lyk of dit van vuur is! Vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe was daar vuur, en vanaf sy heupe boontoe het dit gelyk soos 'n glans, soos die skittering van witgoud.
3 Hy steek toe iets met die vorm van 'n hand uit, en neem my aan die hare van my kop. 'n Gees het my opgelig tussen aarde en hemel, en my na Jerusalem geneem in visioene van God, na die ingang van die binneste poort wat noord kyk, daar waar die afgodsbeeld staan wat heilige verontwaardiging wek. 4En kyk, daar was die heerlikheid van die God van Israel – net soos die verskyning wat ek in die laagte gesien het!
5Hy sê toe vir my: “Mensekind, kyk na die noorde toe.” Ek het na die noorde gekyk, en daar, aan die noordekant van die poort na die altaar, by die ingang, is hierdie beeld wat verontwaardiging wek! 6Hy sê toe vir my: “Mensekind, sien jy wat doen hulle – die ontsettend afstootlike dinge wat die huis van Israel hier doen, sodat Ek op 'n afstand bly van my heiligdom af? Maar jy sal nog erger afstootlike dade sien.”
7Hy neem my toe na die ingang van die voorhof, en ek sien toe, kyk, daar is 'n gat in die muur! 8Hy sê vir my: “Mensekind, breek deur die muur!” Ek het deur die muur gebreek, en kyk, daar is toe 'n ingang. 9En Hy sê vir my: “Gaan in en kyk na die afstootlike, bose dinge wat hulle hier doen.”
10Ek het ingegaan, en toe ek kyk, is daar allerlei weersinwekkende afbeeldings van kruipende en ander diere, ook al die afgodsbeelde van die huis van Israel, uitgekerf op die muur reg rondom! 11Sewentig manne van die oudstes van die huis van Israel het voor die afbeeldings gestaan, elkeen met sy pan met reukwerk in sy hand, terwyl Jaäsanja, seun van Safan, daar tussen hulle staan. 'n Geurige wolk reukwerk het opgestyg.
12 Hy sê toe vir my: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die Here sien ons nie; die Here het die land verlaat.’ ”
13Hy sê toe vir my: “Jy sal nog erger afstootlike dade sien wat hulle doen.”
14Hy neem my toe na die ingang van die poort aan die noordekant van die huis van die Here; en daar sit vroue wat treur oor Tammus! 15Hy sê toe vir my: “Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog erger afstootlike dade sien as dit.”
16Hy neem my toe na die binneste voorhof van die huis van die Here; en daar, by die ingang na die Here se •tempel, tussen die portaal en die altaar, is ongeveer vyf-en-twintig manne met hulle rûe na die Here se tempel gekeer en hulle gesigte na die ooste! Hulle het na die ooste gebuig in aanbidding voor die son. 17Hy sê toe vir my: “Sien jy dit, mensekind? Is die afstootlike dade wat hulle hier aanvang dan te gering vir die huis van Juda, dat hulle ook nog die land vul met geweld en My telkens weer uittart? Kyk, hulle steek 'n wingerdrank uit na my neus. 18 Op my beurt gaan Ek in woede optree. Ek sal nie 'n traan stort nie, Ek sal nie deernis hê nie. Al roep hulle baie hard in my ore, Ek sal nie na hulle luister nie.”

Tans Gekies:

Esegiël 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid