ESEGIËL 8:11-12
ESEGIËL 8:11-12 Bybel vir almal (ABA)
Voor die tekeninge het 70 van die leiers van die volk Israel gestaan. Jaäsanja seun van Safan het tussen hulle gestaan. Elke leier het 'n wierook-pan in sy hand gehad, en die rook van die wierook het uit die panne opgekom. Toe sê die Here vir my: “Mens, sien jy wat doen die leiers van die volk Israel hier in die donker, elkeen in sy kamer wat vol afgodsbeelde is? Hulle dink Ek sien hulle nie, hulle dink die Here het die land gelos.”
ESEGIËL 8:11-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan, en Jaäsánja, die seun van Safan, onder hulle; en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.
ESEGIËL 8:11-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en 'n geurige wierookwolk het opgestyg. God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.”
ESEGIËL 8:11-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sewentig manne van die oudstes van die huis van Israel het voor die afbeeldings gestaan, elkeen met sy pan met reukwerk in sy hand, terwyl Jaäsanja, seun van Safan, daar tussen hulle staan. 'n Geurige wolk reukwerk het opgestyg. Hy sê toe vir my: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.’ ”
ESEGIËL 8:11-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar het voor hulle gestaan sewentig man uit die oudstes van die huis van Israel, en in hulle midde het Jaäsanja, die seun van Safan, gestaan, met elkeen sy wierookpan in sy hand; en 'n dik wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Mensekind, het jy gesien wat die oudstes van die huis van Israel in die donker doen, elkeen in die kamers van sy beeldspraak? want hulle sê: Die HERE sien ons nie; die HERE het die aarde verlaat.
ESEGIËL 8:11-12 Die Boodskap (DB)
Sewentig van Israel se leiers het daar in die versteekte kamer gestaan, met Jaäsanja, Safan se seun, tussen hulle. Elkeen van hierdie mense het wierook gebrand om die afgode te eer wat hulle aanbid het. Die hele kamer was sommer al donker van al die wierook. Toe sê die Here vir my: “Mens, het jy gesien wat die leiers van Israel stilletjies in die donker doen, en hoe hulle ’n huis vir hulle eie afgode ingerig het? Hulle dink Ek sien hulle nie, al doen hulle dit in my huis. Hulle dink Ek is nie meer in die land nie.”
ESEGIËL 8:11-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar het 70 leiers van Israel gestaan met Jaäsanja seun van Safan in hulle midde. Elkeen van hulle het ’n wierookbak gehad. Daar het ’n dik wolk wierook bokant hulle koppe gehang. Toe het Hy vir my gesê: “Mensekind, het jy gesien wat die leiers van Israel in die donkerte doen, elkeen by die heiligdom van sy afgod? Hulle sê: ‘Die HERE sien ons nie. Die HERE is uit die land uit!’”