ESEGIËL 8:1-6
ESEGIËL 8:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Ek het in my huis gesit, en die leiers van Juda het voor my gesit. Dit was die vyfde dag van die sesde maand van die sesde jaar. Ek het gevoel die Here, Hy wat Here is, sit sy hand op my. Ek het gekyk en ek het 'n persoon gesien wat soos vuur lyk. Daar was iets wat gelyk het soos sy heupe, en onder sy heupe was daar ook vuur. Bo sy heupe was iets wat geblink het soos brons wat iemand blink gevryf het. Die persoon het iets uitgesteek, dit was soos 'n hand, en dit het my aan my hare gevat. Die Gees het my opgetel tussen die aarde en die hemel en Hy het my na Jerusalem gebring. Dit was dinge wat God vir my gewys het. Hy het my gebring tot by die ingang na die binneste poort. Die poort is noord van die tempel, daar waar die beeld staan wat vir die Here so baie kwaad maak. En toe sien ek die lig wat om die Koning, die God van Israel, is. Dit was dieselfde soos die lig wat ek gesien het in die vallei. Die Here het vir my gesê: “Mens, kyk noord.” Ek het na die noorde gekyk, en toe sien ek daardie beeld by die altaar, die beeld wat vir God so kwaad maak. Dit was by die noordekant van die poort, by die ingang. Die Here het vir my gesê: “Mens, sien jy nou self wat hulle doen? Sien jy watter baie slegte dinge doen die volk Israel hier ver weg van die tempel? Maar jy sal nog meer slegte dinge sien.”
ESEGIËL 8:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die sesde jaar, in die sesde maand, op die vyfde van die maand, terwyl ek in my huis sit en die oudstes van Juda voor my sit, het die hand van die Here HERE daar op my geval. Ek kyk toe — en daar was 'n gestalte wat soos vuur gelyk het; van wat soos sy lendene gelyk het en ondertoe, was vuur, en van sy lendene af en boontoe iets net soos 'n hemelglans wat soos blinkende metaal geskyn het. Toe steek Hy iets uit wat die vorm van 'n hand het, en vat my aan die kuifhare van my hoof; en die Gees het my opgehef tussen die aarde en die hemel en my in gesigte van God na Jerusalem gebring, by die ingang van die binneste poort wat na die noorde toe kyk, waar die plek was van die afgodsbeeld van ywer wat ywer verwek. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel was daar, ooreenkomstig die verskyning wat ek in die laagte gesien het. En Hy sê vir my: Mensekind, slaan tog jou oë op in die rigting van die noorde; en ek het my oë opgeslaan in die rigting van die noorde — en daar was aan die noordekant van die altaarpoort daardie afgodsbeeld van ywer by die ingang! En Hy sê vir my: Mensekind, sien jy wat hulle doen, die groot gruwels wat die huis van Israel hier aanrig, dat Ek ver van my heiligdom af moet weggaan? Maar jy sal nog ander groot gruwels sien.
ESEGIËL 8:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die vyfde van die sesde maand, in die sesde jaar, het ek in my huis gesit, en die leiers van Juda het voor my gesit. Daar het die mag van die Here my God my toe plotseling in besit geneem. Ek het 'n gesig gesien. Daar was 'n mensvormige gestalte. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, was hy van vuur en van sy heupe af boontoe het dit gelyk soos blink, gloeiende metaal. Hy het iets uitgesteek wat soos 'n hand gelyk het en my aan my hare gevat: die Gees het my in die lug opgetel en my na Jerusalem toe gebring. Dit het gebeur in die gesig wat van God af gekom het. Die Gees het my gebring na die ingang van die poort aan die binnekant, die een wat na die noorde toe kyk, daar waar die afgodsbeeld gestaan het wat soveel heftige toorn veroorsaak het. Hier het ek die magtige verskyning van die God van Israel weer gesien, net soos die keer in die vallei. Hy het vir my gesê: “Mens, kyk noord!” Ek het gekyk, en daar aan die noordekant van die poort by 'n altaar het daardie afgodsbeeld wat toorn veroorsaak, gestaan, by die ingang! God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen hulle? Sien jy die vreeslike afskuwelike dinge wat Israel doen, hier ver van my heiligdom af? Maar jy sal nog afskuweliker dinge sien.”
ESEGIËL 8:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die sesde jaar, op die vyfde dag van die sesde maand, het ek in my huis gesit, met die oudstes van Juda wat voor my sit. Toe het die hand van my Heer, die HERE, daar oor my gekom. Toe ek kyk, is daar 'n gestalte wat lyk of dit van vuur is! Vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe was daar vuur, en vanaf sy heupe boontoe het dit gelyk soos 'n glans, soos die skittering van witgoud. Hy steek toe iets met die vorm van 'n hand uit, en neem my aan die hare van my kop. 'n Gees het my opgelig tussen aarde en hemel, en my na Jerusalem geneem in visioene van God, na die ingang van die binneste poort wat noord kyk, daar waar die afgodsbeeld staan wat heilige verontwaardiging wek. En kyk, daar was die heerlikheid van die God van Israel – net soos die verskyning wat ek in die laagte gesien het! Hy sê toe vir my: “Mensekind, kyk na die noorde toe.” Ek het na die noorde gekyk, en daar, aan die noordekant van die poort na die altaar, by die ingang, is hierdie beeld wat verontwaardiging wek! Hy sê toe vir my: “Mensekind, sien jy wat doen hulle – die ontsettend afstootlike dinge wat die huis van Israel hier doen, sodat Ek op 'n afstand bly van my heiligdom af? Maar jy sal nog erger afstootlike dade sien.”
ESEGIËL 8:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die sesde jaar, in die sesde maand, op die vyfde dag van die maand, terwyl ek in my huis gesit het en die oudstes van Juda voor my gesit het, het die hand van die HERE HERE daar op my geval. Toe het ek gesien, en kyk na 'n gelykenis soos die voorkoms van vuur: van die voorkoms van sy lendene af tot ondertoe, vuur; en van sy lendene af selfs boontoe, soos die skyn van glans, soos die kleur van amber. En hy het die vorm van 'n hand uitgesteek en my aan 'n lok van my hoof gegryp; en die Gees het my opgehef tussen die aarde en die hemel en my in die gesigte van God na Jerusalem gebring, by die ingang van die binnepoort wat na die noorde kyk; waar was die setel van die beeld van jaloesie, wat tot jaloesie verwek. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel was daar, volgens die gesig wat ek in die vlakte gesien het. Toe sê Hy vir my: Mensekind, slaan nou jou oë op na die noorde toe. Toe slaan ek my oë op die pad na die noorde toe, en kyk na die noorde by die poort van die altaar, hierdie beeld van ywer by die ingang. Hy het verder vir my gesê: Mensekind, sien jy wat hulle doen? selfs die groot gruwels wat die huis van Israel hier doen, dat ek ver van my heiligdom af sou weggaan? maar bekeer jou weer, en jy sal groter gruwels sien.
ESEGIËL 8:1-6 Die Boodskap (DB)
Op die sewentiende September 592 v.C., in die sesde jaar dat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes weggeneem is na ’n vreemde land, was ek by my huis. Die leiers van my volk het by my gekuier. Ek het skielik bewus geraak daarvan dat die Here by my was en dat Hy Homself aan my wil wys. Ek het toe Iemand gesien wat soos ’n Mens gelyk het. Van sy heupe af tot by sy voete het dit gelyk of die Man van vuur gemaak was. En van sy heupe af boontoe het dit gelyk of Hy van vuurwarm, gloeiende metaal gemaak was. Hierdie Man het iets na my toe uitgesteek wat soos sy hand gelyk het. Toe het Hy my aan my hare opgetel. Ek het besef dat dit die Gees van die Here was wat my opgetel het. Hy het my na Jerusalem toe gevat. Dit alles het met my gebeur toe ek vir God gesien het. Die Gees het my toe neergesit by die ingang na die huis van die Here op aarde, daar aan die noordekant van die gebou. Net binne die ingang van die huis van die Here het mense ’n standbeeld vir ’n afgod opgerig. Die Here was woedend omdat hierdie afgodsbeeld in sy huis opgerig was. Skielik het die God van Israel in al sy mag daar verskyn. Ek het Hom herken omdat ek Hom ook voorheen in die vallei gesien het. Toe sê die Here vir my: “Mens, kyk op na daardie kant toe, daar na die noordekant.” Ek het toe gekyk, en daar, reg langs die ingang na die altaar in die huis van die Here, het die afgod gestaan waaroor die Here so verskriklik kwaad was. God sê toe vir my: “Mens, sien jy wat hierdie mense aanvang? Sien jy watter slegte dade die volk van Israel doen om My uit my eie huis weg te jaag? Maar kom, laat Ek jou nog erger dade as hierdie wys!”
ESEGIËL 8:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op 17 September, in die sesde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die leiers van Juda in my huis gesit. En die hand van die oppermagtige HERE was op my. Ek het iemand gesien wat soos ’n mens lyk. Van die heupe af ondertoe het dit gelyk of hy van ’n brandende vlam gemaak is. En van sy heupe af boontoe het hy soos gloeiende metaal gelyk. Hy het wat na sy hand gelyk het, na my uitgesteek en my aan my hare gevat. Toe het die Gees my in die lug opgetel en Hy het my in ’n visioen wat van God af kom na Jerusalem toe gedra. Ek is na die hek aan die noordekant van die binnehof van die tempel geneem. Daar het ’n groot afgodsbeeld gestaan wat die HERE baie kwaad gemaak het. Skielik was die heerlikheid van God daar, net soos ek dit die vorige keer in die vallei gesien het. Toe het die HERE vir my gesê: “Mensekind, kyk na die noordekant.” Ek het gekyk. Daar langs die ingang aan die noordekant van die hek na die altaar het die beeld gestaan wat soveel goddelike woede veroorsaak het. “Mensekind,” het Hy gesê, “sien jy wat hulle doen? Sien jy die afskuwelike groot sondes wat die mense van Israel doen, sondes wat My uit my heilige woning dryf? Maar kom, jy sal selfs nog groter sondes sien as dit.”