ESEGIËL 3:15-21

ESEGIËL 3:15-21 Bybel vir almal (ABA)

Ek het by die Judeërs in Tel-Abib gekom, hulle het langs die Kebar-kanaal gewoon. Ek het sewe dae lank daar tussen hulle gesit. Ek was so hartseer en ontsteld dat ek niks kon sê nie. En toe, ná die sewe dae, het ek gehoor die Here sê vir my: “Mens, Ek het jou gekies om 'n wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê jy moet dit doen, dan moet jy vir hulle sê Ek waarsku hulle. Ek sal vir die mens wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker. Wanneer Ek dit sê, dan moet jy hom waarsku. Jy moet praat en jy moet hom waarsku teen sy verkeerde lewe sodat hy kan aanhou lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal daardie mens wat verkeerd doen, sterf omdat hy verkeerd gedoen het, maar Ek sal vir jóú straf omdat hy moes sterf. En jy? Wanneer jy die mens wat verkeerd doen, gewaarsku het, maar hy verander nie sy lewe nie en hy hou nie op om verkeerd te doen nie, dan sal hy sterf omdat hy verkeerd gedoen het. Maar dan het jy jou eie lewe gered. En wanneer iemand wat reg gelewe het, ophou om reg te doen en hy doen verkeerd, en Ek laat hom val en hy doen sonde, dan moet jy hom waarsku. As jy hom nie gewaarsku het nie, dan sal hy sterf omdat hy sonde gedoen het, en Ek sal nie dink aan die dinge wat hy reg gedoen het nie. Maar Ek sal jóú straf omdat hy moes sterf. En jy? Wanneer jy die mens wat reg gelewe het, gewaarsku het om nie sonde te doen nie, en hy doen nie sonde nie, dan sal hy aanhou lewe, dit is seker. Hy sal aanhou lewe, want jy het hom gewaarsku en hy het geluister. En jy het dan jou eie lewe gered.”

ESEGIËL 3:15-21 Die Boodskap (DB)

So het ek teruggekom by my eie mense, die gevangenes wat daar in die dorp Tel-Abib gebly het, naby die Kebarrivier. Ek was so oorweldig deur wat ek gesien en gehoor het dat ek vir sewe dae niks anders kon doen nie as om net tussen hulle te sit. Na ’n week het die Here weer met my gepraat: “Mens, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. Jy is soos ’n skaapwagter wat vir die skape verantwoordelik is. Jou werk is om mooi te luister na wat Ek vir jou sê sodat jy hierdie volk kan gaan waarsku. Jy praat met hulle namens My. Ek waarsku die slegte mens wat niks met My en my voorskrifte te doen wil hê nie, en sê: ‘Jy verdien die doodstraf oor wat jy doen.’ As jy nie hierdie mens waarsku teen die gevolge van sy slegte dade nie en hy gaan dood omdat Ek hom ter dood veroordeel, sal sy dood die gevolg wees van sy slegte dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou omdat hy dood is. Jy moes hom gewaarsku het. As jy hom wel gewaarsku het, maar hy steur hom nie daaraan nie en hou aan met sy verkeerde optrede en weier om om te draai en agter My aan te loop, sal hy doodgaan omdat ek Hom tot die dood veroordeel. Maar dan het jy jou lewe gered omdat jy hom gewaarsku het en gedoen het wat Ek jou beveel het. En as goeie mense wat tot nou toe reg geleef en goed gedoen het, ophou om agter My aan te loop en verkeerde dinge begin doen, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie gewaarsku het en hulle gewys het op die gevolge van hulle dade nie, sal hulle as gevolg van hulle dade sterf. Die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal nie tel nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir hulle dood omdat jy hulle nie betyds gewaarsku het nie. Ek sal hulle bloed van jou hande eis. Maar as jy hulle betyds gewaarsku het en hulle draai om van hulle slegte dade en loop agter My aan, sal hulle leef. En jy sal so jou eie lewe red.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid