EKSODUS 6:1-12 - Compare All Versions
EKSODUS 6:1-12 AFR83 (Afrikaans 1983)
God het vir Moses gesê: “Ek is die Here! Ek het aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige, maar my Naam, die Here, het Ek nie aan hulle bekend gemaak nie. Tog het Ek my verbond met hulle gemaak, naamlik om die land Kanaän aan hulle te gee, 'n land waarvan hulle nie burgers was nie. Ek het die gekerm van die Israeliete, wat deur Egipte verkneg word, duidelik gehoor en Ek het aan my verbond gedink. Daarom moet jy vir die Israeliete sê: Ek is die Here. Ek sal julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. Ek sal julle van die verknegting verlos, Ek sal julle vrymaak met mag en met groot reddingsdade. Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry. Ek sal julle bring na die land toe wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dit julle eiendom maak. Ek is die Here.” Dit het Moses toe aan die Israeliete vertel, maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie. Toe sê die Here vir Moses: “Gaan praat met die farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete laat trek uit sy land uit.” Maar Moses sê vir die Here: “Die Israeliete luister nie eens na my nie, hoe sal die farao nog na my luister? Ek praat juis nie maklik nie.” Nogtans het die Here vir Moses en Aäron na die Israeliete en na die farao, die koning van Egipte, toe gestuur met die opdrag om die Israeliete uit Egipte te bevry.
EKSODUS 6:1-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
VERDER het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur 'n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle 'n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit. En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as 'n besitting gee, Ek, die HERE. Moses het toe so met die kinders van Israel gespreek, maar hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Gaan spreek met Farao, die koning van Egipte, dat hy die kinders van Israel uit sy land moet laat uittrek. Maar Moses het voor die aangesig van die HERE gespreek en gesê: As die kinders van Israel na my nie geluister het nie, hoe sal Farao dan na my luister terwyl ek onbesnede van lippe is? Daarop het die HERE met Moses en Aäron gespreek en hulle met 'n boodskap gestuur na die kinders van Israel en na Farao, die koning van Egipte, om die kinders van Israel uit Egipteland uit te lei.
EKSODUS 6:1-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe sê die HERE vir Moses: “Nou gaan jy sien wat Ek met die farao gaan doen. Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan. Hy sal selfs by hulle aandring om pad te gee uit sy land.” Die HERE het verder vir Moses gesê: “Ek is die HERE. Ek het My aan Abraham, Isak en Jakob voorgestel as ‘God die Almagtige’. Hulle het My nie geken as ‘die HERE’ nie. Ek het met hulle ’n ooreenkoms gemaak om die land Kanaän, waarin hulle vir ’n tydjie oorgebly het, vir hulle te gee. Jy kan verseker weet dat Ek gehoor het hoe die mense van Israel kla omdat hulle soos slawe vir die Egiptenaars werk. Ek het onthou van my ooreenkoms met hulle. “Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: ‘Ek is die HERE. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade. Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die HERE julle God, is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het. Ek sal julle laat kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Dit sal julle eie land wees. Ek is die HERE.’” Moses het dit alles net so aan die Israeliete oorgedra. Omdat hulle moedeloos was oor die harde werk, wou hulle nie na Moses luister nie. Die HERE het toe vir Moses gesê: “Gaan praat weer met die koning van Egipte dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.” “Maar, HERE,” het Moses geprotesteer, “die Israeliete luister nie eers na my nie, hoe sal die farao dan na my luister? Ek struikel oor my woorde.”
EKSODUS 6:1-12 DB (Die Boodskap)
Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Ek is die Here. Abraham, Isak en Jakob het gesê Ek is die God wat vreeslik sterk is. Hulle het My die Almagtige genoem. Hulle het My nie ‘die Here’ genoem nie. Ek het ook met hulle ’n ooreenkoms gesluit. Ek het hulle belowe om die land Kanaän, waarin hulle net vir ’n tydjie oorgebly het, uiteindelik vir hulle te gee as hulle eie land. “Ek het ook gehoor hoe die Israeliete kla omdat hulle in Egipte slawewerk moet doen. Ek het onthou dat Ek ’n ooreenkoms met hulle gemaak het. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle wegvat uit Egipte waar julle gedwing word om sonder betaling vir ander te werk. Ek sal julle vrymaak van dié slawewerk. Ek sal julle met groot krag en met wonderlike dinge van julle swaarkry verlos. Ek maak julle my eie volk. Ek is julle God. Julle sal weet en erken dat Ek die Here julle God is wanneer Ek julle die dag wegvat uit Egipte waar julle vir ander moet werk. Ek sal julle bring by die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dié land julle eie land maak. Ek is die Here.’” Moses het al hierdie dinge net so vir die Israeliete gaan vertel. Hulle was egter te moeg en moedeloos van al die harde werk om nog na hom te luister. Die Here het verder ook nog vir Moses gesê: “Gaan sê weer vir die farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.” Moses het egter reguit vir die Here gesê: “Hoe op aarde sal die farao na my luister as die Israeliete nie eens hoor wat ek sê nie? Ek kan nie baie goed praat nie.” Die Here het nogtans weer ’n keer met Moses en Aäron gepraat en hulle weer na die Israeliete en na die koning van Egipte, die farao, toe gestuur om te eis dat hy die Israeliete uit Egipte moet laat wegtrek.
EKSODUS 6:1-12 ABA (Bybel vir almal)
God het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Ek is die Here. Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn en Ek het vir hulle gesê Ek is God die Almagtige. Ek het nie vir hulle gesê my Naam is ‘die Here’ nie. Ek het 'n verbond gemaak met hulle en Ek het belowe om die land Kanaän vir hulle te gee, die land waar hulle vreemdelinge was. Ek het ook gehoor hoe die Israeliete kla omdat die Egiptenaars hulle soos slawe laat werk. En toe het Ek gedink aan my verbond met hulle. Daarom moet jy vir die Israeliete sê dat Ek sê: ‘Ek is die Here, en Ek sal julle help. Julle sal nie meer die Egiptenaars se slawe wees en so hard werk nie. Ek sal die Egiptenaars swaar straf, en vir julle sal Ek vrymaak. Ek sal julle vir My neem. Julle sal my volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is wat julle vrygemaak het van die swaar werk in Egipte. Ek het vir Abraham, Isak en Jakob belowe dat Ek vir hulle 'n land sal gee. Ek sal julle na daardie land neem en Ek sal dit vir julle gee. Dit sal julle land wees. Ek is die Here.’ ” Moses het dit alles vir die Israeliete gaan sê, maar hulle het nie na Moses geluister nie, want hulle was moedeloos oor die swaar werk wat hulle moes doen. Die Here het met Moses gepraat en gesê: “Gaan praat met die farao, die koning van Egipte. Sê vir hom hy moet die Israeliete laat gaan uit sy land.” Maar Moses het vir die Here gesê: “Die Israeliete luister nie na my nie, die farao sal ook nie na my luister nie. Ek praat baie moeilik.” Maar die Here het met Moses en Aäron gepraat en Hy het hulle na die Israeliete toe gestuur, en na die farao toe, die koning van Egipte. Die Here het vir Moses en Aäron gesê hulle moet die Israeliete uit Egipte bring.
EKSODUS 6:1-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
God het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Ek is die HERE. Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam ‘HERE’ het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. Ek het ook my verbond met hulle tot stand gebring, om vir hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle tydelike verblyf waarin hulle •vreemdelinge was. Ek het self ook die gekreun van die Israeliete gehoor, hulle wat deur die Egiptenare verplig word om te werk, en Ek het aan my verbond gedink. “ Daarom, sê vir die Israeliete, ‘Ek is die HERE, en Ek sal julle uitlei, weg van die dwangarbeid van Egipte. Ek sal julle verlos van hulle slawewerk, en Ek sal julle loskoop met 'n uitgestrekte arm en met geweldige oordele. Ek gaan julle as volk vir My neem en Ek sal vir julle 'n God wees. Dan sal julle besef dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei, weg van die dwangarbeid van Egipte. Ek sal julle bring na die land, waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan Abraham, aan Isak, en aan Jakob te gee, en Ek sal dit aan julle as eiendom gee. Ek is die HERE.’ ” Moses het dit toe net so vir die Israeliete gaan sê, maar hulle het nie na Moses geluister nie, omdat hulle neerslagtig was en hard moes werk. Die HERE het toe met Moses gepraat en gesê: “Gaan praat met die farao, die koning van Egipte, sodat hy die Israeliete uit sy land laat gaan.” Maar Moses het voor die HERE gesê: “Kyk, die Israeliete het nie eers na my geluister nie, hoe sal die farao dan na my luister, terwyl my lippe lomp is?” Die HERE het egter met Moses en Aäron gepraat en hulle opdragte gegee oor die Israeliete, en oor die farao, die koning van Egipte, om die Israeliete uit Egipteland te lei.
EKSODUS 6:1-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe sê die HERE vir Moses: Nou sal jy sien wat Ek met Farao sal doen, want met 'n sterke hand sal hy hulle laat trek, en met 'n sterke hand sal hy hulle uit sy land verdryf. En God het met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. En ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn in die Naam van God, die Almagtige, maar deur my Naam JAHWEH is ek nie aan hulle geken nie. En Ek het ook my verbond met hulle opgerig om aan hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle pelgrimstog, waarin hulle vreemdelinge was. En ek het ook die gekerm van die kinders van Israel gehoor, wat die Egiptenaars in slawerny hou; en ek het aan my verbond gedink. Daarom, sê vir die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die laste van die Egiptenaars uit lei, en Ek sal julle uit hulle slawerny verlos, en Ek sal julle verlos met 'n uitgestrekte arm en met groot oordele: En Ek sal julle na My toe neem as 'n volk, en Ek sal vir julle 'n God wees; en julle sal weet dat Ek die HERE julle God is wat julle onder die laste van die Egiptenaars uitlei. En Ek sal julle inbring in die land oor wat Ek gesweer het om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan jou as 'n erfdeel gee: Ek is die HERE. En Moses het so met die kinders van Israel gespreek, maar hulle het nie na Moses geluister nie uit angs van gees en oor wrede slawerny. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Gaan in, spreek met Farao, die koning van Egipte, dat hy die kinders van Israel uit sy land moet laat trek. En Moses het voor die aangesig van die HERE gespreek en gesê: Kyk, die kinders van Israel het na my nie geluister nie; hoe sal Farao dan na my luister, wat onbesnede van lippe is?