Eksodus 6:1-12

Eksodus 6:1-12 AFR20

God het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Ek is die HERE. Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam ‘HERE’ het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. Ek het ook my verbond met hulle tot stand gebring, om vir hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle tydelike verblyf waarin hulle •vreemdelinge was. Ek het self ook die gekreun van die Israeliete gehoor, hulle wat deur die Egiptenare verplig word om te werk, en Ek het aan my verbond gedink. “ Daarom, sê vir die Israeliete, ‘Ek is die HERE, en Ek sal julle uitlei, weg van die dwangarbeid van Egipte. Ek sal julle verlos van hulle slawewerk, en Ek sal julle loskoop met 'n uitgestrekte arm en met geweldige oordele. Ek gaan julle as volk vir My neem en Ek sal vir julle 'n God wees. Dan sal julle besef dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei, weg van die dwangarbeid van Egipte. Ek sal julle bring na die land, waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan Abraham, aan Isak, en aan Jakob te gee, en Ek sal dit aan julle as eiendom gee. Ek is die HERE.’ ” Moses het dit toe net so vir die Israeliete gaan sê, maar hulle het nie na Moses geluister nie, omdat hulle neerslagtig was en hard moes werk. Die HERE het toe met Moses gepraat en gesê: “Gaan praat met die farao, die koning van Egipte, sodat hy die Israeliete uit sy land laat gaan.” Maar Moses het voor die HERE gesê: “Kyk, die Israeliete het nie eers na my geluister nie, hoe sal die farao dan na my luister, terwyl my lippe lomp is?” Die HERE het egter met Moses en Aäron gepraat en hulle opdragte gegee oor die Israeliete, en oor die farao, die koning van Egipte, om die Israeliete uit Egipteland te lei.

Video vir Eksodus 6:1-12