EKSODUS 4:1-31

EKSODUS 4:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?” Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “'n Kierie,” antwoord Moses. “Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom. Toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang, en Moses het daarvoor padgegee. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.” Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie in sy hand. Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het. “Steek nou jou hand in die vou van jou klere!” Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu. Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.” Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond. Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo. “As hulle jou ná hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.” Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.” Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens 'n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.” Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien. Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen. Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee. Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.” Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.” Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.” In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.” Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op 'n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie. Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun. Ek het vir jou gesê: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak.” Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak. Sippora vat toe 'n klipmes, sny haar seun se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en sê: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Die Here het Moses met rus gelaat net toe sy sê: “bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Dit het betrekking op die besnydenis. Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses in die woestyn tegemoet te gaan. Hy het gegaan en hom by die berg van God aangetref en met 'n soen gegroet. Moses vertel toe vir Aäron van alles waarvoor die Here hom gestuur het, ook van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. Moses en Aäron het gegaan en al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep. Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.

EKSODUS 4:1-31 Bybel vir almal (ABA)

Moses het vir die Here gesê: “Miskien sal die Israeliete my nie glo nie en nie na my luister nie. Hulle sal sê: ‘Die Here het nie aan jou verskyn nie.’ ” Toe sê die Here vir hom: “Wat is in jou hand?” En Moses sê: “'n Kierie.” Die Here sê toe vir hom: “Gooi dit op die grond.” Moses het die kierie op die grond gegooi, en die kierie het in 'n slang verander. Moses het weggespring van die slang. Toe sê die Here vir Moses: “Gryp die slang aan sy stert.” Moses het die slang gegryp, en toe het die slang in sy hand weer in 'n kierie verander. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dit weer doen as jy by die Israeliete kom, sodat hulle kan glo dat die Here aan jou verskyn het. Ek is die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Die Here het ook vir hom gesê: “Sit jou hand voor in jou klere.” Moses het dit gedoen, en toe hy sy hand uittrek, was sy hand melaats, so wit soos sneeu. Die Here sê toe vir hom: “Sit weer jou hand voor in jou klere.” Moses het dit gedoen, en toe hy sy hand uit sy klere haal, was dit gesond, soos sy hele liggaam. Toe sê die Here: “As hulle jou nie glo ná die eerste teken nie, dan sal hulle glo nadat hulle hierdie tweede teken gesien het. As hulle ná hierdie twee tekens nog nie glo nie en nie na jou luister nie, dan moet jy van die water van die Nyl-rivier neem en jy moet dit op die grond uitgooi. Die water wat jy op die grond gooi, sal in bloed verander.” Maar Moses het vir die Here gesê: “Asseblief, Here, ek kan nie goed praat nie. Ek kon nog nooit goed praat nie. Ek kan ook nie beter praat nadat U met my gepraat het nie. Ek praat swaar, my tong sukkel om te praat.” Die Here het vir hom gesê: “Wie het vir die mens 'n mond gegee? Wie maak 'n mens stom of doof? Wie laat hom sien of nie sien nie? Dit is Ek, die Here. Gaan nou, Ek sal jou help om te praat. Ek sal vir jou leer wat om te sê.” Maar Moses het gesê: “Asseblief, Here, stuur iemand anders.” Die Here het toe kwaad geword vir Moses en Hy het gesê: “Die Leviet Aäron is jou broer. Ek weet hy kan goed praat. Hy kom na jou toe, en hy sal bly wees om jou weer te sien. Praat met hom en sê vir hom wat hy moet sê. Ek sal vir jou en vir hom help om te praat en Ek sal vir julle sê wat om te doen. Aäron sal vir die volk sê wat jy vir hulle wil sê. Hy sal praat, en jy moet vir hom sê wat hy moet sê. Jy moet die tekens met hierdie kierie doen. Neem dit saam.” Moses het na sy skoonpa Jetro toe gegaan en hy het vir Jetro gesê: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense toe in Egipte, ek wil sien of hulle nog lewe.” Jetro het vir Moses gesê: “Jy mag gaan.” Die Here het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want die mense wat jou wou doodmaak, is klaar dood.” Moses het sy vrou en sy seuns geneem en hy het hulle op 'n donkie laat ry. Hulle het teruggegaan na Egipte. Moses het die kierie saamgeneem waarmee hy die tekens van God moes doen. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, dan moet jy voor die farao al die tekens doen wat Ek vir jou geleer het. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, en hy sal julle nie laat gaan nie. Dan moet jy vir die farao sê: ‘Die Here sê: Israel is vir My soos 'n oudste seun, en Ek sê vir jou jy moet my seun laat gaan sodat hy My kan dien. As jy hom nie laat gaan nie, dan sal Ek jou oudste seun doodmaak.’ ” Toe Moses-hulle een nag by 'n plek langs die pad geslaap het, het die Here daarnatoe gekom. Hy wou vir Moses doodmaak. Moses se vrou Sippora neem toe 'n klipmes en sy sny haar seun se voorhuid af en sy raak daarmee aan Moses se voete. Sy het vir Moses gesê: “Jy is my man. Hierdie bloed sal jou beskerm.” Toe sy dit sê, het die Here vir Moses gelos en Hy het Moses nie doodgemaak nie. Sippora het gedink aan die besnydenis toe sy dit gesê het. Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet vir Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en hy het Moses by die berg van God gekry en hom gesoen. Moses het vir Aäron alles vertel wat die Here vir hom gesê het om te doen. Hy het vir hom ook vertel van al die tekens wat hy moes doen. Moses en Aäron het al die leiers van die Israeliete bymekaar laat kom. Aäron het vir hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en Moses het die tekens voor hulle gedoen. Die leiers het dit geglo. Hulle het gehoor dat die Here gedink het aan die Israeliete en dat Hy jammer is vir hulle. Toe het hulle gekniel en gebid.

EKSODUS 4:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie? Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: 'n Staf. En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het 'n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het 'n staf in sy hand geword — sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het. En die HERE het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! En Hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees! En as hulle jou nie glo en aan die eerste teken geen gehoor gee nie, dan sal hulle die laaste teken glo. En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word. Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie 'n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê. Maar hy sê: Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur. Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hý goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart. Jy moet dan met hom spreek en die woorde in sy mond lê. En Ék sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen. En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou 'n mond wees en jy vir hom 'n god wees. Neem dan hierdie staf in jou hand waarmee jy die tekens moet doen. TOE gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede. Ook het die HERE vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood. Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op 'n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem. En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe. En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak. Toe neem Sippóra 'n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my 'n bloedbruidegom! En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! — met die oog op die besnydenis. Die HERE het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van God aangetref en hom gesoen. Daarop vertel Moses aan Aäron al die woorde van die HERE waarmee Hy hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het. En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom; en Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk. En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.

EKSODUS 4:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?” Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “'n Kierie,” antwoord Moses. “Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom. Toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang, en Moses het daarvoor padgegee. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.” Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie in sy hand. Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het. “Steek nou jou hand in die vou van jou klere!” Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu. Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.” Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond. Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo. “As hulle jou ná hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.” Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.” Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens 'n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.” Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien. Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen. Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee. Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.” Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.” Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.” In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.” Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op 'n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie. Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun. Ek het vir jou gesê: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak.” Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak. Sippora vat toe 'n klipmes, sny haar seun se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en sê: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Die Here het Moses met rus gelaat net toe sy sê: “bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Dit het betrekking op die besnydenis. Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses in die woestyn tegemoet te gaan. Hy het gegaan en hom by die berg van God aangetref en met 'n soen gegroet. Moses vertel toe vir Aäron van alles waarvoor die Here hom gestuur het, ook van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. Moses en Aäron het gegaan en al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep. Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.

EKSODUS 4:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hierop het Moses geantwoord en gesê: “Maar as die Israeliete my nie glo nie, en hulle nie na my luister nie? As hulle dalk sê, ‘Die HERE het nie aan jou verskyn nie’?” Die HERE sê toe vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” Hy antwoord: “'n Staf.” Die HERE sê: “Gooi dit op die grond!” En toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang! Moses het daarvoor teruggedeins. Die HERE sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert!” Moses het sy hand uitgesteek en dit gegryp. Toe word dit weer 'n staf in sy hand. “Dit is sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.” Die HERE het weer vir hom gesê: “Steek jou hand in die vou van jou kleed. ” Hy druk toe sy hand in die vou, en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! Daarop sê die HERE: “Steek jou hand weer in die vou van jou kleed.” Hy het weer sy hand in die vou gesteek, en toe hy dit uit die vou uittrek, was dit weer soos die res van sy liggaam! “As hulle jou nie glo nie, en nie aandag gee aan die eerste teken nie, sal hulle die laaste teken glo. As dit dalk gebeur dat hulle selfs hierdie twee tekens nie glo nie, en nie na jou stem luister nie, skep dan van die Nyl se water en gooi dit uit op die droë grond. Die water wat jy uit die Nyl geskep het, sal bloed word op die droë grond.” Maar Moses het vir die HERE gesê: “Asseblief, my Heer! Ek is nie 'n man van woorde nie, nie in die verlede nie, en ook nie vandat U met u dienskneg gepraat het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. ” Daarop sê die HERE vir hom: “Wie het 'n mond vir die mens beskik, en wie maak stom of doof, siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou! Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” Maar hy sê: “Asseblief, my Heer! Stuur asseblief iemand anders.” Die toorn van die HERE het teen Moses ontbrand en Hy het gesê: “Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet dat hy welsprekend is. Wat meer is, kyk, hy is op pad om jou te ontmoet; en wanneer hy jou sien, sal sy hart verheug wees. Jy moet met hom praat en die woorde in sy mond lê. Ek sal met jou mond en met sy mond wees. Ek sal julle leer wat julle moet doen. Hy moet namens jou met die volk praat. Dit is hoe dit gaan gebeur – hy sal vir jou 'n mond wees en jy sal vir hom 'n god wees. Hierdie staf moet jy in jou hand neem. Dit is waarmee jy die tekens moet doen.” Moses het toe gegaan, en teruggekeer na Jetro, sy skoonvader, en vir hom gesê: “Ek wil graag gaan en na my volksgenote wat in Egipte is, terugkeer, sodat ek kan sien of hulle nog leef.” Jetro sê toe vir Moses: “Gaan in vrede!” Die HERE het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” Moses neem toe sy vrou en sy seuns, sit hulle op 'n donkie en gaan terug na Egipteland. Moses het die staf van God in sy hand gehad. Die HERE het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, sien toe dat jy al die tekens waartoe Ek jou in staat stel, voor die farao doen. Maar Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. Dan moet jy vir die farao sê, ‘So sê die HERE: “My eersgebore seun is Israel. Ek het vir jou gesê, ‘Laat my seun gaan, sodat hy My kan dien.’ Maar jy het geweier om hom te laat gaan. Kyk, Ek gaan jou eersgebore seun om die lewe bring. ” ’ ” Op pad, by 'n oornagplek, het die HERE op Moses afgekom en wou hom doodmaak. Sippora neem toe 'n vuurklip en sny haar seun se voorhuid af. Sy het Moses se voete aangeraak en gesê: “Jy is vir my 'n bloedbruidegom. ” Die HERE het hom toe met rus gelaat. Dit is toe dat sy “bloedbruidegom” gesê het, met verwysing na die besnydenis. Die HERE het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Hy het gegaan en op hom afgekom by die berg van God, en hom gesoen. Moses het Aäron ingelig oor al die woorde van die HERE, wat hom gestuur het, en oor al die tekens wat Hy hom beveel het. Moses en Aäron het toe gegaan en al die oudstes van die Israeliete byeengebring. Aäron het al die woorde wat die HERE vir Moses gesê het, herhaal. Moses het al die tekens voor die oë van die volk gedoen, en die volk het geglo. Toe hulle hoor dat die HERE aandag gee aan die Israeliete en dat Hy hulle ellende raakgesien het, het hulle gekniel en in aanbidding gebuig.

EKSODUS 4:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe antwoord Moses en sê: Maar kyk, hulle sal my nie glo en na my stem nie luister nie, want hulle sal sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie. Toe sê die HERE vir hom: Wat is dit in jou hand? En hy sê: 'n Pad. En hy sê: Gooi dit op die grond. En hy het dit op die grond gegooi, en dit het 'n slang geword; en Moses het voor dit gevlug. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. En hy het sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het 'n staf in sy hand geword. Sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het. En die HERE het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek, en toe hy dit uithaal, kyk, sy hand was melaats soos sneeu. En hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy steek weer sy hand in sy boesem; en hy het dit uit sy boesem geruk, en kyk, dit het verander soos sy ander vlees. En dit sal gebeur dat as hulle jou nie glo nie, en ook nie luister na die stem van die eerste teken nie, dat hulle die stem van die laaste teken sal glo. En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, moet jy van die water van die rivier neem en dit op die droë grond uitgiet en die waters wat jy weggevoer het, van die rivier sal bloed word op die droë grond. Toe sê Moses vir die HERE: Ag, my Meester, ek is nie welsprekend nie, ook nie tevore of vandat U met U kneg gespreek het nie; maar ek is traag van spraak en 'n stadige tong. Toe sê die HERE vir hom: Wie het die mond van die mens gemaak? of wie maak die stomme of die dowe of die siende of die blinde? het Ek nie die HERE nie? Gaan dan nou, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê. En hy het gesê: My HERE, stuur tog deur die hand van hom wat U sal stuur. Toe het die toorn van die HERE teen Moses ontvlam, en Hy het gesê: Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet hy kan goed praat. En kyk, Hy kom jou tegemoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart. En jy moet met hom spreek en woorde in sy mond lê; en Ek sal met jou mond en met sy mond wees en jou leer wat jy moet doen. En hy sal jou woordvoerder vir die volk wees, en hy sal wees, selfs hy sal vir jou wees in die plek van 'n mond, en jy sal vir hom in die plek van God wees. En jy moet hierdie staf in jou hand neem waarmee jy tekens moet doen. Moses het toe gegaan en na sy skoonvader Jetro teruggekeer en vir hom gesê: Laat my tog gaan en teruggaan na my broers wat in Egipte is, en kyk of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede. Toe sê die HERE vir Moses in Mídian: Gaan, keer terug na Egipte, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood. Toe neem Moses sy vrou en sy seuns en sit hulle op 'n esel, en hy het na Egipteland teruggekeer; en Moses het die staf van God in sy hand geneem. Toe sê die HERE vir Moses: As jy gaan om na Egipte terug te keer, sorg dat jy al daardie wonders doen voor Farao wat Ek in jou hand gegee het; maar Ek sal sy hart verhard, dat hy die volk nie sal laat trek nie. En jy moet vir Farao sê: So spreek die HERE: Israel is my seun, my eersgeborene. En Ek sê vir jou: Laat my seun gaan, dat hy My kan dien; en as jy weier om hom te laat gaan, kyk, Ek sal jou seun, jou eersgeborene, doodmaak. En terwyl hy verbygaan, kom die HERE hom tegemoet en probeer om hom dood te maak. Toe neem Sippora 'n skerp klip en kap die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my 'n bloedman. Toe het hy hom laat gaan; toe sê sy: 'n Bloedman is jy vanweë die besnydenis. Toe sê die HERE vir Aäron: Gaan na die woestyn om Moses te ontmoet. En hy het gegaan en hom op die berg van God ontmoet en hom gesoen. Toe het Moses vir Aäron al die woorde van die HERE vertel wat hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het. En Moses en Aäron het gegaan en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom. En Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE met Moses gespreek het en die tekens gedoen voor die oë van die volk. En die volk het geglo, en toe hulle hoor dat die HERE die kinders van Israel besoek het en dat Hy hulle ellende gesien het, het hulle hul hoofde gebuig en aanbid.

EKSODUS 4:1-31 Die Boodskap (DB)

Moses vra toe vir die Here: “Wat gebeur as hulle my nie glo nie en nie aanvaar wat ek sê nie? Wat gebeur as hulle sê: ‘Jy het nie regtig die Here ontmoet nie’?” Die Here vra hom toe: “Wat het jy daar in jou hand?” Hy antwoord: “Dis ’n stok.” Die Here sê toe: “Gooi dit op die grond neer.” Toe Moses dit op die grond gooi, verander dit in ’n slang. Moses wou weghardloop, maar die Here sê vir hom: “Vang die slang aan sy stert.” Toe Moses die slang aan die stert gryp, het dit weer ’n stok in sy hand geword. Die Here sê: “Hierdie teken sal hulle oortuig dat jy regtig die Here, die God van hulle voorouers, die God van Abraham, Isak en Jakob, ontmoet het.” Die Here het vir Moses ook nog ’n tweede teken gegee. Hy het vir hom gesê: “Steek jou hand in jou klere.” Hy het dit gedoen. Toe hy sy hand uithaal, was dit vol spierwit sere. Die Here sê toe: “Steek weer jou hand in jou klere.” Toe hy dit doen en sy hand weer uittrek, was sy vel soos dit voor die tyd was. Die Here sê toe: “As die eerste teken hulle nie oortuig om jou woord te aanvaar nie, sal hierdie tweede teken dit doen. As hulle selfs na die tweede teken weier om jou te glo en nog steeds nie jou woord wil aanvaar nie, moet jy water uit die Nyl skep en dit op die droë grond uitgooi. Dit sal op die grond in bloed verander.” “Verskoon my, Here,” sê Moses toe vir die Here, “ek was nog nooit goed met woorde nie. Selfs hier waar ons met mekaar praat haak my tong vas as ek iets moet sê.” “Wie,” vra die Here hom toe, “dink jy maak dit vir mense moontlik om te praat? Wat maak dat party mense stom en ander doof is, dat party blind is en ander weer kan sien? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan tog nou Egipte toe. Ek sal jou mond laat praat. Ek sal die regte woorde in jou mond laat kom.” “Asseblief, Here,” sê Moses weer, “stuur liewer iemand anders.” Die Here het toe kwaad geword vir Moses. “Wat van jou broer Aäron wat uit die familie van die Leviete is?” vra die Here. “Ek weet dat hy flink is met die mond. Hy is al klaar op pad om jou te ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien. Beduie vir hom wat hy moet sê. Ek sal julle help om te praat en Ek sal vir julle wys wat julle moet doen. Hy sal in jou plek met die volk praat. Hy sal vir hulle sê wat jy wil hê hulle moet hoor. Hou hierdie stok by jou dat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek vir jou gewys het om die volk te oorreed.” Moses het eers teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het vir hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense in Egipte om te kyk of hulle ooit nog lewe.” “Sekerlik,” het hy gesê, “jy kan gerus maar gaan.” Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.” Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou. Die Here het vir Moses ’n opdrag gegee: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao van die land toe gaan. Jy moet voor hom al die wondertekens doen wat Ek vir jou gegee het om te doen. Ek sal die farao egter hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here sê: Israel is my oudste seun, my seun wat eerste gebore is. Ek het jou laat weet dat jy my seun moet toelaat om te gaan om My in die woestyn te aanbid. Jy het geweier om hom te laat gaan. Ek gaan daarom nou jóú oudste en eerste seun laat doodgaan.’” Die Here het op Moses afgekom waar hy die nag langs die pad geslaap het. Die Here wou hom doodmaak. Sy vrou Sippora vat toe ’n mes wat van klip gemaak was en besny haar seun. Sy gooi toe die velletjie wat sy van haar seun afgesny het voor Moses se voete neer met die woorde: “Jy is my bruidegom. Jy word met bloed beskerm.” Toe sy sê “bruidegom wat met bloed beskerm word” het sy na die besnydenis verwys. Die Here het Moses toe laat staan. Die Here het vir Aäron gesê hy moet vir Moses in die woestyn gaan ontmoet. Hy het toe by die berg van God op hom afgekom. Hy het hom gegroet en hom teen die wang gesoen. Moses vertel toe vir Aäron alles, van hoe die Here hom gestuur het en die wondertekens wat Hy hom gegee het om te doen. Moses en Aäron het toe gegaan en die leiers van Israel bymekaar laat kom. Aäron het vir hulle al die dinge verduidelik wat die Here vir Moses gesê het. Moses het die wondertekens vir hulle gedoen. Die volk het hulle toe geglo. Toe hulle hoor dat die Here die Israeliete gaan help omdat Hy hulle nood raakgesien het, het hulle op hulle knieë geval en tot die Here gebid.

EKSODUS 4:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses het egter bly teëstribbel: “En as hulle my nie glo nie? Hulle sal nie doen wat ek vir hulle sê nie. Hulle sal sommer sê: ‘Jy het nie regtig die HERE ontmoet nie.’” Toe vra die HERE vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” “’n Herderstok,” antwoord Moses. “Gooi dit op die grond neer,” het die HERE vir hom gesê. Hy gooi dit toe op die grond en dit het ’n slang geword. Moses het geskrik en hy wou daarvan weghardloop. Maar die HERE sê vir hom: “Gryp dit aan sy stert!” Toe Moses dit gryp, het dit weer ’n herderstok geword. “Hulle sal hierdie teken glo,” het die HERE vir hom gesê. “Dit sal hulle oortuig dat jy die HERE, die God van hulle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – ontmoet het.” Toe sê die HERE vir Moses: “Sit jou hand onder jou klere in.” Moses het dit gedoen. Toe hy weer sy hand uithaal, was dit spierwit melaats. “Sit nou weer jou hand onder jou klere in,” sê die HERE vir hom. Toe hy sy hand uithaal, was dit so gesond soos die res van sy lyf. “As die eerste teken hulle nie oortuig het om jou woord te glo nie, dan sal hierdie tweede een hulle oorreed,” het die HERE gesê. “As hulle ná hierdie twee tekens nog steeds nie oortuig is om jou woord te aanvaar nie, moet jy water uit die Nylrivier skep en dit op die grond uitgooi. Dit sal in bloed verander.” Moses het by die HERE gepleit: “Ag, Here, ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas.” “Wie gee vir die mens ’n mond?” vra die HERE hom. “Wie maak mense stom of doof? Wie laat hulle sien of maak hulle blind? Is dit nie maar net Ek, die HERE, nie? Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê.” Maar Moses het bly pleit: “Here, stuur asseblief tog iemand anders.” Toe het die HERE Hom vir Moses vererg. “Goed,” het Hy gesê. “Wat van jou broer, Aäron, uit die Leviete? Hy kan tog goed praat. Hy is alreeds op pad om jou te kom ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien. Jy sal vir hom voorsê wat om te sê. Ek sal julle help om te praat en vir julle sê wat moet gebeur. Aäron sal namens jou met die volk praat. Hy sal jou mond wees. Jy sal soos God wees wat vir hom voorsê wat hy moet sê. Maak seker dat jy jou herderstok by jou het sodat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek jou geleer het.” Moses het teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my familie in Egipte. Ek weet nie eers of hulle nog leef nie.” “Jy kan met graagte gaan,” het Jetro vir Moses gesê. Terwyl Moses nog in Midian was, het die HERE vir hom gesê: “Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood.” Moses het toe sy vrou en seuns bymekaargekry, hulle op ’n donkie laat klim en die reis terug na Egipte toe begin. Hy het die herderstok, waaroor God met hom gepraat het, in sy hand gehou. Die HERE het weer vir Moses gesê: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao toe gaan. Doen dan die tekens wat Ek jou geleer het. Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. Dan moet jy vir hom sê: ‘So sê die HERE: Israel is my oudste seun. Ek het jou beveel om my seun toe te laat om te gaan om My te aanbid. Jy het egter geweier om hom te laat gaan; daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.’” Moses en sy gesin het langs die pad oorgeslaap. Die HERE het na Moses toe gekom om hom dood te maak. Sy vrou, Sippora, het ’n skerp mes gevat en haar seun se voorvelletjie daarmee afgesny. Sy het dit teen Moses se geslagsdeel gedruk en vir hom gesê: “Jy is nou my bruidegom wat met bloed beskerm word.” (Toe sy Moses ’n “bruidegom wat met bloed beskerm word” genoem het, het sy na die besnydenis verwys.) Die HERE het hom hierna met rus gelaat. Die HERE het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en Moses by die berg van God teëgekom. Hy het hom omhels. Moses het vir Aäron alles vertel van die opdrag wat die HERE hom gegee het en die tekens wat hy moes doen. Moses en Aäron is toe terug na Egipte waar hulle al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep het. Aäron het vir hulle van alles vertel wat die HERE vir Moses gesê het. Terwyl hulle toekyk, het Moses die tekens gedoen. Die leiers was dadelik oortuig dat die HERE Moses en Aäron gestuur het. Hulle het almal hulle koppe gebuig en op hulle knieë gegaan toe hulle hoor dat die HERE bekommerd is oor Israel en hulle ellende raakgesien het.