EKSODUS 19:3-8
EKSODUS 19:3-8 Bybel vir almal (ABA)
Moses het teen die berg opgegaan na God toe. Die Here het van die berg af na Moses geroep en Hy het gesê Moses moet vir die nageslag van Jakob, die Israeliete, sê: “Julle het self gesien wat Ek met die Egiptenaars gedoen het. Ek het julle beskerm en gedra soos 'n arend haar kleintjies op haar vlerke dra. Ek het julle na My toe gebring. As julle nou gehoorsaam is en doen wat Ek sê, en as julle my verbond hou, dan sal julle my eie volk wees, want die hele aarde is Myne. Julle sal die priesters wees oor wie Ek regeer, 'n gewyde volk. Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.” Moses het afgekom van die berg en hy het die leiers van die Israeliete geroep. Hy het alles vir hulle vertel wat die Here vir hom gesê het. Al die mense het saamgestem en gesê: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het.” Moses het vir die Here gaan vertel wat die volk gesê het.
EKSODUS 19:3-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel. En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het. Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring.
EKSODUS 19:3-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep: “So moet jy vir die nageslag van Jakob sê, vir die Israeliete vertel: “ ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, 'n koninkryk wat My as priesters dien, en 'n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.” Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het. Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.” Moses het vir die Here gaan sê wat die volk geantwoord het.
EKSODUS 19:3-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het opgeklim na God, en die HERE het van die berg af na hom geroep en gesê: “So moet jy vir die huis van Jakob sê, sodat jy die Israeliete kan inlig, ‘Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het. As julle dan nou getrou luister na my stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My. Vir My sal julle 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees.’ Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra.” Moses het gegaan, die oudstes van die volk ontbied, en aan hulle al hierdie woorde wat die HERE hom beveel het, voorgehou. Die hele volk het eenparig geantwoord; hulle het gesê: “Alles wat die HERE gesê het, sal ons doen.” Moses het die volk se antwoord na die HERE teruggeneem.
EKSODUS 19:3-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Moses na God opgegaan, en die HERE het hom van die berg af geroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel sê; Julle het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou werklik na my stem luister en my verbond nakom, sal julle vir My 'n eiendomsskat wees bo al die mense, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy tot die kinders van Israel moet spreek. Toe het Moses gekom en die oudstes van die volk geroep en al hierdie woorde wat die HERE hom beveel het, voor hulle aangesig gelê. En die hele volk het saam geantwoord en gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE teruggegee.
EKSODUS 19:3-8 Die Boodskap (DB)
Moses het teen die berg uitgeklim na God toe. Die Here het bo van die berg af met hom gepraat en vir hom gesê: “Jy moet vir die nageslag van Jakob gaan sê, aan die Israeliete hierdie boodskap oordra: ‘Julle het gesien wat Ek met Egipte gemaak het. Ek het julle veilig hier by hierdie berg laat uitkom. Ek was soos ’n arend wat onder haar kuiken vlieg en keer dat hy val wanneer die kuiken leer vlieg. As julle regtig aan My gehoorsaam is en by my ooreenkoms met julle bly, sal julle uit al die volke van die hele aarde my eie persoonlike volk wees. Julle sal ’n volk wees van mense wat vir My offers bring en My dien. Julle sal ’n volk wees wat alles vir My doen.’ Dit is my boodskap wat jy vir die Israeliete moet gaan gee.” Moses het van die berg afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het die Here se boodskap vir hulle gegee. Die hele volk het toe gesê asof hulle almal net met een mond praat: “Ons sal alles doen wat die Here van ons vra.” Moses het teruggegaan en vir die Here gaan sê wat hulle reaksie was.
EKSODUS 19:3-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het teen die berg uitgeklim na God toe. Die HERE het bo van die berg af met hom gepraat en vir hom gesê: “Sê vir die mense van Jakob en vir die volk van Israel die volgende: ‘Julle het gesien wat Ek met die Egiptenaars gemaak het en hoe Ek julle as’t ware op die vlerke van ’n arend opgelig het en hier na My toe gedra het. As julle regtig gehoorsaam is aan My en vashou aan my verbond met julle, sal julle my persoonlike volk wees tussen al die nasies van die wêreld. Die hele wêreld behoort aan My, maar julle sal in besonder die nasie wees wat aan My toegewy is. Julle sal my koninkryk van priesters wees, ’n nasie wat die HERE dien.’ Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.” Moses het toe van die berg af geklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het vir hulle alles vertel wat die HERE hom beveel het. Die volk het toe soos uit een mond gesê: “Ons sal alles doen wat die HERE vir ons gesê het.” Moses het aan die HERE gaan rapporteer hoe die volk op sy opdrag gereageer het.