Eksodus 19

19
Verbondsluiting by Sinai
1 In die derde maand ná die Israeliete se uittog uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die Sinaiwoestyn aangekom. 2Hulle het van Refidim af weggetrek, in die Sinaiwoestyn aangekom, en in die woestyn kamp opgeslaan. Israel het daar, reg voor die berg, kamp opgeslaan.
3Moses het opgeklim na God, en die Here het van die berg af na hom geroep en gesê: “So moet jy vir die huis van Jakob sê, sodat jy die Israeliete kan inlig, 4‘Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het. 5 As julle dan nou getrou luister na my stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My. 6Vir My sal julle 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees.’ Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra.”
7Moses het gegaan, die oudstes van die volk ontbied, en aan hulle al hierdie woorde wat die Here hom beveel het, voorgehou. 8Die hele volk het eenparig geantwoord; hulle het gesê: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.” Moses het die volk se antwoord na die Here teruggeneem. 9Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan na jou kom in 'n digte wolk, sodat die volk kan hoor wanneer Ek met jou praat en hulle jou dan ook altyd kan vertrou.” Daarop het Moses die antwoord van die volk aan die Here oorgedra.
10Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre. Laat hulle hulle klere was. 11Hulle moet gereed wees op die derde dag, want op die derde dag sal die Here, voor die oë van die hele volk, op die berg Sinai neerdaal. 12 Baken rondom die berg 'n grens vir die volk af en sê vir hulle, ‘Wees versigtig dat julle nie teen die berg opklim, en selfs aan die voet daarvan raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word. 13Geen hand mag aan so iemand raak nie, maar hy moet beslis gestenig of met pyle geskiet word. Of dit nou 'n dier of 'n mens is, hy mag nie bly leef nie. Wanneer daar lank op die •ramshoring geblaas word, mag hulle teen die berg opklim.’ ”
14Moses het van die berg afgekom na die volk. Hy het die volk geheilig, en hulle het hulle klere gewas. 15Hy het vir die volk gesê: “Wees gereed op die derde dag; moenie naby 'n vrou kom nie.”
16 Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderslae en weerlig en 'n swaar wolk oor die berg, en ook die baie harde geluid van 'n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. 17 Moses het die volk uit die kamp uitgelei om God te ontmoet. Hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18Die hele berg Sinai het in rook gestaan, omdat die Here in vuur daarop neergedaal het. Die rook het opgestyg soos rook uit 'n oond. Die hele berg het hewig geskud, 19en die geluid van die ramshoring het algaande baie harder geword. Moses het gepraat, en God het hom met 'n donderslag geantwoord.
20 Toe die Here op die berg Sinai neergedaal het, op die kruin van die berg, het die Here vir Moses na die kruin van die berg geroep, en Moses het opgeklim. 21Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af en waarsku die volk, anders breek hulle deur die grens na die Here om te kyk, en kom daar baie van hulle om. 22Ook die priesters wat gewoonlik die Here nader, moet hulleself heilig, anders slaan die Here hulle uitmekaar.”
23Moses het vir die Here gesê: “Die volk kan nie die berg Sinai uitklim nie, omdat U self ons gewaarsku het, ‘Baken die berg af en verklaar dit heilig.’ ” 24Die Here het hom geantwoord: “Gaan af, en kom dan weer op, jy en Aäron saam met jou. Maar die priesters en die volk moet nie deur die grens breek om na die Here op te klim nie, anders slaan Hy hulle uitmekaar.” 25Moses het toe afgegaan na die volk en dit vir hulle gesê.

Tans Gekies:

Eksodus 19: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid