Ester 9

9
Triomf van die Jode
1 In die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag, moes die wet en bevel van die koning uitgevoer word. Dit was die dag waarvoor die vyande van die Jode gewag het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: Die Jode het diegene wat hulle gehaat het, oorweldig. 2 Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros, om diegene wat hulle ondergang gesoek het, dood te maak. Niemand kon voor hulle stand hou nie, want vrees vir die Jode het al die volke oorval. 3 Al die •hoë amptenare van die provinsies en die satrape, die •streekgoewerneurs en die amptenare wat die koning se sake hanteer, het die Jode gesteun, want vrees vir Mordegai het hulle oorval. 4 Mordegai het immers belangrik geword in die koninklike paleis en berigte oor hom het deur al die provinsies versprei. Ja, die man Mordegai het al hoe magtiger geword. 5Die Jode het op hulle vyande toegeslaan en met die swaard dood en verwoesting gesaai; hulle het met hulle haters gedoen net wat hulle wou. 6 In die vestingstad Susan het die Jode vyfhonderd mense doodgemaak en uitgewis. 7Hulle het ook Parsandata en Dalfon en Aspata 8en Porata en Adalja en Aridata 9en Parmasta en Arisai en Aridai en Wajesata, 10 die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en teenstander van die Jode, doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. 11Die aantal mense wat in die vestingstad Susan doodgemaak is, is nog dieselfde dag aan die koning bekend gemaak.
12 Die koning het vir koningin Ester gesê: “In die vestingstad Susan het die Jode 'n slagting aangerig. Hulle het 500 mense uitgewis, ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nie in die res van die provinsies van die koning gedoen het nie! Wat jy versoek, word aan jou gegee. Wat jy verder wens, sal toegestaan word.” 13 Ester het geantwoord: “As die koning dit goedkeur, gee dan die Jode in Susan die toestemming om môre ook die wet soos vandag uit te voer en laat hulle die tien seuns van Haman aan die paal hang.” 14Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word. 'n Wet is in Susan uitgevaardig en die tien seuns van Haman is gehang. 15 Die Jode wat in Susan was, het weer bymekaargekom op die veertiende dag van die maand Adar. Hulle het nog driehonderd mense in Susan doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. 16 Intussen is die res van die Jode in die koning se provinsies ook bymekaar geroep om hulle lewens te verdedig en verligting te kry van hulle vyande. Hulle het 75 000 van hulle haters doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. 17Dit het alles gebeur op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. 18Die Jode wat in Susan was, het egter bymekaargekom op die dertiende en die veertiende dag. Eers op die vyftiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. 19 Daarom maak die Jode wat in dorpe op die platteland woon, die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle eetgoed aan mekaar stuur.
Instelling van die Purimfees
20Mordegai het hierdie gebeure opgeskryf. Hy het toe briewe gestuur na al die Jode, naby en ver, in al die provinsies van koning Ahasveros, 21 en hulle gelas om elke jaar die veertiende en die vyftiende dag van die maand van Adar te herdenk 22as die dae waarop die Jode bevry is van hulle vyande, as die maand waarin hulle droefheid verander is in blydskap en 'n tyd van rou in 'n tyd van feesviering. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed stuur en aan die armes geskenke uitdeel. 23Die Jode het onderneem om voort te gaan met wat hulle begin het om te doen soos wat Mordegai vir hulle voorgeskryf het. 24 Want Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, die vyand van al die Jode, het beplan om die Jode te vernietig. Hy het deur die Pur, dit is met die lot, beslis dat hulle ontwrig en vernietig moet word. 25 Maar weens Ester se intrede by die koning het hy skriftelik beveel: “Haman se bose plan wat hy teen die Jode bedink het, moet op sy eie kop neerkom.” Toe het hulle hom en sy seuns aan die paal gehang. 26Daarom noem hulle hierdie dae Purim, na die naam Pur. Op grond van al die woorde in hierdie brief en alles wat hulle van die gebeure gesien en beleef het, 27het die Jode dit ingestel en hulle daaraan verbind, hulle en hulle nageslag, en almal wat by hulle aansluit, om nie hierdie twee dae na te laat nie, maar om dit altyd jaarliks, soos dit voorgeskryf is, op die vasgestelde tyd te eerbiedig. 28 Hierdie dae moet onthou en gevier word deur elke volgende generasie, deur elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag onder die Jode nie nagelaat word nie en die herinnering daaraan mag onder hulle nageslagte nie vergete raak nie. 29 Koningin Ester, die dogter van Abigajil, asook Mordegai, die Jood, het met volle gesag hierdie tweede brief geskryf om die Purim te bevestig. 30Die briewe is gestuur aan al die Jode in die 127 provinsies van Ahasveros se koninkryk – woorde van vrede en trou – 31 om hierdie dae van Purim te bevestig op die tye soos wat Mordegai, die Jood, en koningin Ester dit vir hulle vasgestel het, en soos wat hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het volgens die voorskrifte van vas en weeklag. 32'n Bevel van Ester het hierdie voorskrifte van die Purim bevestig en dit is in 'n •boekrol opgeskryf.

Tans Gekies:

Ester 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid