ESTER 4:1-17

ESTER 4:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Mordegai het uitgevind wat gebeur het. Hy het sy klere geskeur, hy het rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hy het baie hard gehuil. Hy het gegaan tot voor die paleis van die koning, want mense mag nie in die paleis ingegaan het wanneer hulle rouklere gedra het nie. Die Judeërs het begin rou, in elke provinsie, op elke plek waar hulle gelees het oor die besluit van die koning en die wet. Hulle het gevas en hulle het hard gehuil en gekla, en baie Judeërs het rouklere aangetrek en as op hulle koppe gegooi. Die jongmeisies en die amptenare by Ester het vir haar vertel wat Mordegai doen. Die koningin het groot geskrik en sy het vir Mordegai klere gestuur sodat hy sy rouklere kon uittrek. Maar Mordegai wou nie die klere neem nie. Toe roep Ester vir Hatak. Hatak was 'n amptenaar van die koning, en die koning het gesê hy moet vir Ester werk. Ester het vir Hatak gesê hy moet na Mordegai toe gaan en hy moet uitvind wat Mordegai doen en hoekom hy dit doen. Hatak het na Mordegai toe gegaan op die oop stuk grond voor die paleis van die koning, en Mordegai het vir hom vertel wat alles met hom gebeur het. Hy het ook gesê presies hoeveel silwer Haman belowe het om vir die koning se amptenare te gee. Hulle moes dit vir die koning bêre as hy al die Judeërs sal laat doodmaak. Mordegai het vir Hatak een van die briewe gegee wat die koning oral in die stad Susan vir die mense gestuur het. In die briewe het die koning geskryf wat hy besluit het. Mordegai het gesê Hatak moet die brief vir Ester wys en vir haar alles vertel. Hy moet ook vir haar sê sy moet na die koning toe gaan en sy moet vir hom vra dat hy jammer moet wees vir haar mense en dat hy hulle nie moet laat doodmaak nie. Hatak het vir Ester gaan sê wat Mordegai gesê het, en Ester het vir Hatak gesê hy moet vir Mordegai gaan sê: “Al die koning se mense en almal in die provinsies van die koning weet dat enige iemand, 'n man of 'n vrou, net na die koning toe mag gaan op die oop stuk grond binne-in die paleis wanneer die koning hom laat roep. As iemand na die koning toe gaan maar die koning het hom nie geroep nie, dan is daar een wet vir almal: Daardie persoon moet sterf. Hy sal net aanhou lewe as die koning sy goue septer na hom toe uitsteek. Die koning het my nog nie laat roep nie, en vandag is 30 dae klaar verby.” Hulle het vir Mordegai vertel wat Ester gesê het, en toe het Mordegai gesê hulle moet vir Ester antwoord en sê: “Jy moenie dink dat jy vry sal wegkom omdat jy in die koning se huisgesin is nie, jy sal saam met die ander Judeërs sterf. Want as jy regtig wil stilbly in hierdie tyd, dan sal Iemand anders vir die Judeërs help. Hulle sal vry wegkom, maar jy en jou familie sal sterf. Hoekom dink jy het jy koningin geword? Miskien het dit gebeur sodat jy jou volk kan help in so 'n moeilike tyd.” Ester het toe gesê hulle moet vir Mordegai gaan sê: “Jy moet al die Judeërs in die stad Susan laat bymekaarkom en julle moet vas en dink aan my. Julle moet drie dae lank niks eet of drink nie, elke dag en nag. Ek en my jongmeisies sal ook vas, en daarna sal ek na die koning toe gaan. Dit is teen die wet, ek mag dit nie doen nie, maar as ek moet sterf, dan is dit goed.” Mordegai het gegaan en hy het alles gedoen wat Ester gesê het.

ESTER 4:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE Mórdegai verneem alles wat gebeur het, het Mórdegai sy klere geskeur en 'n roukleed aangetrek, en daar was as op sy hoof; en hy het uitgegaan dwarsdeur die stad en hardop en bitter geskreeu. So het hy dan tot voor die poort van die koning gekom; want niemand het met 'n roukleed aan by die poort van die koning mag ingaan nie. En in al die provinsies waar die bevel van die koning en sy wet ook al aankom, was daar groot rou onder die Jode met vas en geween en rouklag; baie het sak en as onder hulle uitgesprei. Toe die meisies van Ester en haar hofdienaars kom en haar dit meedeel, was die koningin baie beangs, en sy het klere gestuur om Mórdegai dit aan te trek en om sy roukleed van hom weg te neem; maar hy het dit nie aangeneem nie. Hierop roep Ester Hatag, een van die hofdienaars van die koning, wat hy in haar diens gestel het, en beveel hom om na Mórdegai te gaan om te verneem wat dit beteken en waarom dit gebeur. En Hatag het uitgegaan na Mórdegai na die stadsplein wat voor die poort van die koning gelê het. Toe deel Mórdegai hom mee alles wat hom oorgekom het, en die juiste bedrag van die silwer wat Haman beloof het om in die skatte van die koning af te weeg as prys vir die Jode om hulle uit te roei. En hy het hom 'n afskrif gegee van die bevelskrif wat in Susan uitgevaardig was om hulle te verdelg, sodat hy dit aan Ester kon wys en haar die saak kon meedeel en haar kon opdra om na die koning te gaan om hom genade te vra en by hom 'n voorspraak te wees vir haar volk. Daarop het Hatag ingegaan en die woorde van Mórdegai aan Ester meegedeel. Toe sê Ester vir Hatag, terwyl sy hom 'n opdrag gee aan Mórdegai: Al die dienaars van die koning en die volk van die provinsies van die koning weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die binneste voorhof ingaan, sonder dat hy geroep is, een en dieselfde wet geld: hy moet gedood word; behalwe wanneer die koning sy goue septer na hom uitsteek, dat hy mag lewe; en ek is nou al dertig dae lank nie geroep om by die koning in te kom nie. En hulle het die woorde van Ester aan Mórdegai meegedeel. Daarop sê Mórdegai dat hulle Ester moes antwoord: Verbeel jou nie dat jy alleen uit al die Jode in die huis van die koning sal vrykom nie. Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie weet of jy nie met die oog op 'n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie? Toe sê Ester dat hulle Mórdegai moes antwoord: Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om. En Mórdegai het heengegaan en gedoen net soos Ester hom opgedra het.

ESTER 4:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hard en bitterlik gekerm. So het hy tot by die poort van die paleis gegaan. Niemand kon met rouklere aan by die poort ingaan nie. In al die provinsies waar die besluit en die proklamasie van die koning bekend geword het, was daar groot smart onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gekerm, en baie het rouklere aangetrek en in die as gaan lê. Toe koningin Ester se kamerpersoneel en haar paleisbeamptes haar van Mordegai kom vertel, was sy baie ontsteld. Sy het vir hom klere gestuur om aan te trek in die plek van sy rouklere, maar hy wou dit nie vat nie. Ester roep toe vir Hatak, een van die koning se paleisbeamptes wat in haar diens was, en beveel hom om na Mordegai toe te gaan en uit te vind wat aangaan en waarom hy so maak. Hatak het na Mordegai toe gegaan op die stadsplein voor die poort van die paleis. Mordegai het hom alles vertel wat gebeur het, selfs van die presiese hoeveelheid silwer wat Haman onderneem het om aan die skatkis van die koning te lewer as hy die Jode mag doodmaak. Hy het ook vir Hatak 'n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is en waarvolgens die Jode doodgemaak moes word. Hatak moes dit aan Ester wys, haar alles vertel en haar versoek om na die koning toe te gaan. Sy moes hom om genade smeek en vir haar volk intree. Hatak is toe terug na Ester toe en het Mordegai se woorde aan haar oorgedra. Sy het toe vir Hatak beveel om vir Mordegai te sê: “Al die amptenare van die koning en die mense in die provinsies van die koning weet dat daar net een wet is vir enigeen, man of vrou, wat na die koning toe in die binneste voorhof gaan as hy nie ontbied is nie: hy word sonder meer doodgemaak. Die enigste uitsondering is dat die koning sy goue septer na so 'n persoon toe uitsteek; dan bly hy lewe. En dit is nou al dertig dae dat ek nie na die koning toe ontbied is nie.” Die boodskap van Ester is aan Mordegai oorgedra, en hy het haar geantwoord: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” Ester het toe vir Mordegai laat weet: “Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” Mordegai is toe weg en het alles gedoen wat Ester hom beveel het.

ESTER 4:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Mordegai uitvind wat alles gebeur het, het hy 'n roukleed aangetrek, met as op sy kop. Hy het uitgegaan, die stad in, en hard en bitterlik geweeklaag. Hy het tot net voor die koningspoort gekom, want niemand met 'n roukleed aan kon by die poort ingaan nie. In al die provinsies en streke waar die besluit en die wet van die koning bekend geword het, was daar groot droefheid onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gerou, en baie het in sak en as gaan lê. Toe Ester se diensmeisies en eunugs haar hiervan kom vertel, is die koningin oorweldig deur angs. Sy het vir Mordegai klere gestuur om aan te trek en sy rouklere te vervang, maar hy het dit nie aanvaar nie. Ester het toe vir Hatag, een van die koning se eunugs wat hy tot haar beskikking gestel het, ontbied. Sy het hom beveel om uit te vind wat aangaan en waarom Mordegai so optree. Hatag het uitgegaan na Mordegai op die stadsplein voor die koningspoort. Mordegai het hom ingelig oor alles wat met hom gebeur het, insluitend die presiese bedrag silwer wat Haman beloof het om aan die skatkis van die koning te betaal vir die uitwissing van die Jode. Hy het ook 'n afskrif van die geskrewe wet wat in Susan uitgevaardig is om die Jode uit te wis, vir Hatag gegee om aan Ester te wys en die inhoud aan haar mee te deel. Hatag moes haar aansê om na die koning te gaan en hom om genade te smeek en te pleit vir haar volk. Hatag het teruggegaan na Ester en Mordegai se boodskap aan haar oorgedra. Ester het Hatag beveel om vir Mordegai te sê: “Al die dienaars van die koning en al die mense van die provinsies van die koning weet dat daar vir enige man of vrou wat na die koning in sy binneste voorhof gaan sonder dat hulle ontbied is, net een reël geld en dit is dat die persoon doodgemaak word. Die enigste uitsondering is wanneer die koning sy goue septer na die persoon uithou en op hierdie manier so iemand se lewe spaar. En ek, ek is nou al dertig dae lank nie na die koning ontbied nie.” Toe Ester se woorde aan Mordegai oorgedra is, het Mordegai haar laat weet: “Moenie dink dat net jy, van al die Jode, sal ontkom omdat jy in die koninklike paleis woon nie. Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van 'n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir 'n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?” Ester het toe vir Mordegai laat weet: “Gaan versamel al die Jode wat hulle in Susan bevind, en vas ter wille van my. Moet drie dae lank, dag en nag, niks eet of drink nie; ook ek en my diensmeisies sal so vas. Daarna sal ek na die koning gaan, al is dit teen die wet. As ek so moet omkom, kom ek so om.” Mordegai het toe weggegaan en gedoen net soos Ester hom beveel het.

ESTER 4:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe Mórdegai alles sien wat gebeur het, het Mórdegai sy klere geskeur en rouklere met as aangetrek en uitgegaan na die midde van die stad en met 'n harde en bitter geskreeu uitgeroep; En hy het selfs voor die poort van die koning gekom, want niemand mag in die poort van die koning ingaan met rouklere nie. En in elke provinsie waar ook al die bevel van die koning en sy bevel gekom het, was daar groot rou onder die Jode, en gevas en geween en geween; en baie het in sak en as gelê. Daarop het Ester se diensmeisies en haar kamerdames gekom en dit vir haar vertel. Toe was die koningin baie bedroef; en sy het klere gestuur om Mórdegai aan te trek en sy roukleed van hom weg te neem, maar hy het dit nie ontvang nie. Toe roep Ester vir Hatag, een van die koning se hofdienaars, wat hy aangestel het om haar te versorg, en het hom 'n bevel aan Mordegai gegee om te weet wat dit was en waarom dit was. Hatak het toe uitgegaan na Mordegai na die straat van die stad wat voor die koning se poort was. En Mórdegai het hom vertel van alles wat met hom gebeur het, en van die som van die geld wat Haman beloof het om aan die koning se skatkamers te betaal vir die Jode om hulle te vernietig. Hy het ook aan hom die afskrif gegee van die skrif van die bevel wat in Susan gegee is om hulle te vernietig, om dit aan Ester te wys en aan haar te verkondig en om haar te bevel dat sy by die koning moet ingaan om te smeek. Aan hom en om voor sy aangesig versoek te rig vir haar volk. En Hatag het gekom en vir Ester die woorde van Mordegai meegedeel. Weer het Ester met Hatag gespreek en hom aan Mórdegai bevel gegee; Al die dienaars van die koning en die mense van die provinsies van die koning weet dat elkeen wat, hetsy man of vrou, na die koning in die binneste voorhof kom, wat nie geroep is nie, daar is een wet van hom om hom dood te maak, behalwe dié na wie die koning die goue septer sal uitsteek, dat hy kan lewe; maar ek is nie geroep om na die koning in te gaan hierdie dertig dae nie. En hulle het aan Mordegai Ester se woorde vertel. Toe het Mórdegai bevel gegee om Ester te antwoord: Moenie by jouself dink dat jy in die huis van die koning sal ontvlug nie, meer as al die Jode. Want as jy in hierdie tyd heeltemal swyg, dan sal daar vergroting en verlossing vir die Jode van 'n ander plek af ontstaan; maar jy en jou vader se huis sal vernietig word; en wie weet of jy vir 'n tyd soos hierdie in die koninkryk gekom het? Daarna het Ester hulle vir Mordegai gesê: Gaan, versamel al die Jode wat in Susan teenwoordig is, en vas vir my, en eet of drink nie drie dae, nag of dag nie. Ek en my diensmeisies sal net so vas; en so sal ek by die koning ingaan, wat nie volgens die wet is nie; en as ek omkom, vergaan ek. Mordegai het toe gegaan en gedoen net soos Ester hom beveel het.

ESTER 4:1-17 Die Boodskap (DB)

Toe Mordegai hoor van alles wat gebeur het, was hy baie hartseer en ontsteld. Hy het begrafnisklere aangetrek en al huilend deur die stad geloop, tot by die ingang van die paleis. Daar het hy bly staan, want volgens die reël kon niemand met begrafnisklere aan daar ingaan nie. Toe die nuus van die koning se opdrag in die provinsies bekend geword het, het die Jode begin treur. Hulle het gevas en gehuil en gekla en baie het met begrafnisklere rondgeloop. Toe koningin Ester se kamerpersoneel en paleisbeamptes vir haar van Mordegai kom vertel, was sy baie omgekrap. Sy het vir hom ander klere gestuur om in die plek van sy begrafnisklere aan trek, maar hy wou nie. Ester laat roep toe een van haar paleisbeamptes met die naam Hatak. Sy stuur hom na Mordegai toe om uit te vind wat aan die gang was en waarom hy begrafnisklere dra. Hatak is toe uit na Mordegai toe waar hy op die binneplein by die ingang van die paleis gestaan het. Mordegai het Hatak in sy vertroue geneem en hom die hele storie vertel. Ook van die groot hoeveelheid geld wat Haman bereid was om die koning te betaal as hy die Jode kon doodmaak. Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die koninklike bevel wat in Susan uitgereik is, wat bepaal het dat die Jode doodgemaak moes word. Mordegai het hom toe gevra om dit na Ester toe te vat en die hele situasie aan haar te verduidelik met die opdrag dat sy na die koning toe moes gaan en by hom moes gaan pleit vir genade vir haar mense. Hatak het dit gedoen. Ester het hom toe weer gestuur met die volgende boodskap vir Mordegai: “Almal weet tog dat daar ’n wet is wat bepaal dat as iemand ongenooid na die koning toe gaan, daardie persoon doodgemaak moet word. Al wanneer jy na die koning toe mag gaan, is wanneer hy sy goue septer na jou toe uitsteek as ’n teken dat hy jou roep. Wat my betref, het die koning my in elk geval ’n maand laas na hom toe laat kom.” Toe Mordegai Ester se boodskap ontvang, het hy haar gewaarsku: “Moenie dink omdat jy in die paleis bly, jy is enigsins veiliger as enige ander Jood nie. As jy in ’n krisistyd soos hierdie stilbly, kom daar dalk van ’n ander kant af hulp vir die Jode. Hulle word dalk gered, maar dan sal jy en jou familie as verraaiers beskou word. Dan sal julle nie meer welkom wees by julle eie mense nie. Wie weet, dalk moes jy juis koningin word om jou volk te help.” Daarop het Ester vir Mordegai laat weet: “Gaan maak al die Jode in Susan bymekaar en vas ter wille van my. Vir drie volle dae moet julle niks eet of drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal dit ook doen. Daarna, al is dit onwettig, sal ek na die koning toe gaan. En as dit dan my einde moet wees, dan is dit goed so.” Mordegai is toe daar weg en het gaan doen wat Ester gevra het.

ESTER 4:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy is in die stad in en het hard en droewig loop en huil. Hy het voor die ingang van die paleis gaan staan. Iemand met rouklere aan was nie toegelaat om deur die hek in te gaan nie. In elke provinsie waar die besluit en opdrag van die koning afgekondig is, was die Jode baie hartseer. Hulle het gevas en gehuil en getreur. Baie het rouklere aangetrek en as oor hulle gegooi. Koningin Ester se diensmeisies en die haremamptenare het haar van Mordegai kom vertel. Sy was baie ontsteld. Sy het vir hom ander klere gestuur om in die plek van sy rouklere aan te trek. Hy het geweier. Ester het vir Hatak laat kom. Hy was een van die koning se haremopsigters wat haar moes oppas. Hy moes by Mordegai gaan uitvind wat aan die gang is en hoekom hy so maak. Hatak gaan toe na Mordegai waar hy op die plein voor die ingang van die koninklike paleis is. Mordegai het hom ingelig oor alles wat gebeur het en van die bedrag wat Haman aangebied het aan die skatkis van die koning om die Jode te kan doodmaak. Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is om hulle uit te roei. Hatak moes dit aan Ester wys en vir haar alles verduidelik. Hy moes by haar aandring om na die koning toe te gaan en by hom om genade te smeek vir haar volk. Hatak het met Mordegai se boodskap na Ester toe teruggegaan. Sy het Hatak weer na Mordegai gestuur om vir hom te sê: “Elke amptenaar van die koning en die volke in die provinsies van die koning weet dat enige man of vrou wat na die koning toe gaan as hulle nie ontbied is nie, volgens voorskrif net daar doodgemaak word, tensy die koning sy goue septer na so ’n persoon toe uitsteek. Dit is nou al 30 dae sedert die koning my laas laat kom het.” Ester se woorde is aan Mordegai oorgedra. Mordegai het haar laat weet: “Moenie vir een oomblik dink dat jy daar in die koning se paleis gaan vrykom van die lot van die ander Jode nie. As jy in hierdie tyd gaan stilbly, gaan uitkoms en redding vir die Jode van ’n ander plek af kom. Jy en jou familie sal dan uitgewis word. Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ’n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!” Ester het hom geantwoord: “Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry bymekaar. Vas ter wille van my. Vir drie dae lank moet julle dag en nag niks eet of drink nie. Ek en my diensmeisies sal net so vas. Al is dit in stryd met die voorskrif sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf.” Mordegai het toe gegaan en alles gedoen wat Ester hom laat weet het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid