Ester 4

4
Mordegai se versoek aan Ester
1 Toe Mordegai uitvind wat alles gebeur het, het hy 'n roukleed aangetrek, met as op sy kop. Hy het uitgegaan, die stad in, en hard en bitterlik geweeklaag. 2Hy het tot net voor die koningspoort gekom, want niemand met 'n roukleed aan kon by die poort ingaan nie. 3 In al die provinsies en streke waar die besluit en die wet van die koning bekend geword het, was daar groot droefheid onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gerou, en baie het in sak en as gaan lê. 4Toe Ester se diensmeisies en eunugs haar hiervan kom vertel, is die koningin oorweldig deur angs. Sy het vir Mordegai klere gestuur om aan te trek en sy rouklere te vervang, maar hy het dit nie aanvaar nie. 5Ester het toe vir Hatag, een van die koning se eunugs wat hy tot haar beskikking gestel het, ontbied. Sy het hom beveel om uit te vind wat aangaan en waarom Mordegai so optree. 6Hatag het uitgegaan na Mordegai op die stadsplein voor die koningspoort. 7 Mordegai het hom ingelig oor alles wat met hom gebeur het, insluitend die presiese bedrag silwer wat Haman beloof het om aan die skatkis van die koning te betaal vir die uitwissing van die Jode. 8 Hy het ook 'n afskrif van die geskrewe wet wat in Susan uitgevaardig is om die Jode uit te wis, vir Hatag gegee om aan Ester te wys en die inhoud aan haar mee te deel. Hatag moes haar aansê om na die koning te gaan en hom om genade te smeek en te pleit vir haar volk. 9Hatag het teruggegaan na Ester en Mordegai se boodskap aan haar oorgedra. 10Ester het Hatag beveel om vir Mordegai te sê: 11 “Al die dienaars van die koning en al die mense van die provinsies van die koning weet dat daar vir enige man of vrou wat na die koning in sy binneste voorhof gaan sonder dat hulle ontbied is, net een reël geld en dit is dat die persoon doodgemaak word. Die enigste uitsondering is wanneer die koning sy goue septer na die persoon uithou en op hierdie manier so iemand se lewe spaar. En ek, ek is nou al dertig dae lank nie na die koning ontbied nie.” 12Toe Ester se woorde aan Mordegai oorgedra is, 13het Mordegai haar laat weet: “Moenie dink dat net jy, van al die Jode, sal ontkom omdat jy in die koninklike paleis woon nie. 14 Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van 'n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir 'n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?” 15Ester het toe vir Mordegai laat weet: 16 “Gaan versamel al die Jode wat hulle in Susan bevind, en vas ter wille van my. Moet drie dae lank, dag en nag, niks eet of drink nie; ook ek en my diensmeisies sal so vas. Daarna sal ek na die koning gaan, al is dit teen die wet. As ek so moet omkom, kom ek so om.” 17Mordegai het toe weggegaan en gedoen net soos Ester hom beveel het.

Tans Gekies:

Ester 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid