EFESIËRS 6:2-4 - Compare All Versions

EFESIËRS 6:2-4 ABA (Bybel vir almal)

In die Ou Testament is geskryf: Jy moet jou ouers respekteer. Dit is die eerste wet waarin die Here ook iets vir ons belowe. Die Here belowe: As jy jou ouers respekteer, dan sal dit goed gaan met jou en jy sal lank lewe op die aarde. Pa's, julle moenie julle kinders kwaad maak nie. Julle moet hulle reg grootmaak, julle moet vir hulle leer wat hulle moet doen en wat hulle nie moet doen nie, soos die Here wil hê.

EFESIËRS 6:2-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met 'n belofte — sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.

EFESIËRS 6:2-4 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Eer jou vader en jou moeder” is 'n baie belangrike gebod. En daar is nog 'n belofte by: “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.

EFESIËRS 6:2-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met 'n belofte, “sodat dit met jou goed mag gaan, en jy 'n lang lewe op aarde sal hê.” En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.

EFESIËRS 6:2-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Eer jou vader en jou moeder; (wat die eerste gebod met belofte is;) Dat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. En, vaders, moenie julle kinders tot toorn verwek nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.

EFESIËRS 6:2-4 DB (Die Boodskap)

Die Skrif sê: “Jy moet jou pa en ma respekteer” - kyk mooi hoe gaan hierdie gebod verder, want dit is die eerste gebod waarin God iets beloof - “sodat dit goed met jou sal gaan en jy ’n lang en gelukkige lewe mag hê.” Vir die pa’s wil ek dit sê: moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree.

EFESIËRS 6:2-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Eer jou vader en jou moeder” is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ’n belofte verbind is: “Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe.” En pa’s, moenie julle kinders so behandel dat hulle verbitterd word nie, maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra.