EFESIËRS 6:13-23
EFESIËRS 6:13-23 Bybel vir almal (ABA)
Daarom moet julle soos soldate al die klere en wapens gebruik wat God vir julle gee. As julle dit doen, dan sal julle kan veg wanneer die slegte dag kom en die oorlog begin, en wanneer die oorlog verby is, dan sal julle nog staan. Julle moet vas staan. Julle moet die waarheid praat. Dit is soos die belt om 'n soldaat se heupe. Julle moet altyd doen wat reg is. Dit is soos die harnas van 'n soldaat. Julle moet die goeie boodskap ken en glo, die boodskap dat God vir ons vrede gee. Dit is soos 'n soldaat se skoene. Julle moet aanhou om in Christus te glo. Dit is soos wanneer 'n soldaat 'n skild neem om hom te beskerm, dit keer die brandpyle waarmee die duiwel julle wil skiet. God het julle gered en julle moet dit aanvaar. Dit is soos die helm op 'n soldaat se kop. God praat met julle. Ja, die Heilige Gees sê vir julle wat God sê. Dit is soos die swaard waarmee 'n soldaat veg. Julle moet altyd luister na die Heilige Gees en dan moet julle bid, julle moet vir God vra wat julle nodig het. Ja, julle moet altyd gereed wees en aanhou bid vir al God se mense. Julle moet ook vir my bid. Bid dat God die regte woorde vir my sal gee wanneer ek praat. Dan sal ek die goeie boodskap preek, ek sal nie bang wees om dit te doen nie. Niemand het voorheen hierdie boodskap geken nie, maar God het nou vir ons gesê wat dit is. Ek is in die tronk omdat God my gekies het om die goeie boodskap te bring. Julle moet bid dat ek nie bang sal wees nie, maar dat ek die boodskap sal bring soos ek dit moet doen. Tigikus is my liewe vriend en hy werk hard vir die Here. Hy sal ook vir julle alles van my vertel sodat julle kan weet hoe dit met my gaan. Ek stuur hom na julle toe sodat hy vir julle kan vertel hoe dit met my gaan en sodat hy vir julle kan help om nie moedeloos te word nie. God die Vader en die Here Jesus Christus sal vir julle almal vrede gee. Hulle sal vir julle help om lief te wees vir mekaar en om te glo.
EFESIËRS 6:13-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God — terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges en vir my, sodat 'n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak, waarvoor ek 'n gesant is in kettings, sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek soos ek moet spreek. EN dat julle ook my omstandighede kan ken, hoe dit met my gaan, alles sal Tíchikus, die geliefde broeder en getroue dienaar in die Here, julle bekend maak. Ek het hom juis daarvoor na julle gestuur, dat julle ons omstandighede kan ken en hy julle harte kan troos. Vrede vir die broeders en liefde, met geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus!
EFESIËRS 6:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is. Tigikus, die medegelowige wat ek baie liefhet, die getroue dienaar in diens van die Here, sal julle alles vertel, sodat julle ook kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen. Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en, sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem. Vrede vir die broers, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus!
EFESIËRS 6:13-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van •geregtigheid, en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus. Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges. Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak – hiervoor is ek 'n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet. Sodat julle kan weet wat my omstandighede is, en wat ek doen – alles sal Tigikus, die geliefde broer en getroue dienskneg van die Here, julle vertel. Juis hiervoor stuur ek hom na julle, sodat julle van ons omstandighede kan weet, en sodat hy julle harte kan bemoedig. Vrede vir die broers, en liefde en geloof van God die Vader, en van die Here, Jesus •Christus.
EFESIËRS 6:13-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan op, julle lendene omgord met waarheid en met die borswapen van geregtigheid aan; En julle voete is geskoene met die voorbereiding van die evangelie van vrede; Bo alles, neem die skild van geloof waarmee julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die goddelose te blus. En neem die helm van verlossing en die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Bid altyd met alle gebed en smeking in die Gees, en waak daartoe met alle volharding en smeking vir al die heiliges; En vir my, sodat uitspraak aan my gegee kan word, dat ek my mond met vrymoedigheid kan oopmaak, om die verborgenheid van die evangelie bekend te maak, Waarvoor ek 'n gesant is in boeie, sodat ek daarin met vrymoedigheid kan spreek soos ek behoort te spreek. Maar sodat julle ook my sake kan weet en hoe ek dit doen, sal Tigikus, 'n geliefde broer en getroue dienaar in die Here, alles aan julle bekend maak. Wat ek met dieselfde doel na julle gestuur het, sodat julle ons sake kan weet en dat Hy julle harte kan troos. Vrede vir die broeders en liefde met geloof van God die Vader en die Here Jesus Christus.
EFESIËRS 6:13-23 Die Boodskap (DB)
Dit is die klere wat julle moet aantrek om te keer dat die duiwel iets aan julle doen: die waarheid moet jy soos ’n belt om jou middel vasbind. Die wete dat God jou van al jou sondes vrygespreek het, moet soos ’n stuk staal jou bors beskerm. Jy moet altyd gereed wees om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring. Dit moet soos die skoene aan jou voete wees. Dan is daar nog jou geloof. Die intieme verhouding met die Here moet soos ’n skild wees waarmee jy al die giftige aanvalle van die Bose keer en eenkant toe slaan. Jy is nie meer in die kloue van die sonde nie; nee, jy is gered. Dit is soos ’n ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm. Die boodskap van God is soos ’n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer. Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om gedurig vir julle mede-Christene te bid nie. En moenie van my vergeet nie. Bid asseblief vir my dat die Here vir my die regte woorde sal gee wanneer ek met mense oor Hom praat, sodat ek nie bang sal wees om vir mense van Jesus te vertel nie, al verstaan hulle nie altyd alles mooi nie. Al sit ek nou hier in die tronk, het God my aangestel om die goeie nuus aan almal te vertel. Bid tog asseblief dat ek nie bang sal wees om die boodskap so reguit en duidelik te verkondig soos ek moet nie. Ek wil graag hê dat julle moet weet wat hier aangaan en hoe dit met my gaan. Tigikus, my liewe broer en getroue werker vir die Here, sal julle alles vertel. Dit is juis waarom ek hom na julle toe stuur: hy moet vir julle vertel hoe dit met my gaan sodat julle nie meer so bekommerd hoef te wees nie.
EFESIËRS 6:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vasstaan. Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord. Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort. Bid ook vir my, dat wanneer ek moet praat, woorde aan my gegee sal word om met vrymoedigheid die geheime plan van die Goeie Nuus bekend te maak. As ambassadeur van hierdie Goeie Nuus is ek in boeie. Bid dat ek, soos dit hoort, die Goeie Nuus met vrymoedigheid sal verkondig. Tigikus, die geliefde broer, wat die Here getrou dien, sal julle alles vertel sodat julle kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen. Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, dat julle kan weet hoe dit met ons gaan en gerusgestel kan word. Mag God die Vader en die Here Jesus Christus vrede, liefde en geloof vir ons broers en susters gee.