PREDIKER 5:16-18
PREDIKER 5:16-18 Bybel vir almal (ABA)
Die slegste is dat só iemand sy hele lewe lank in die donker bly. Dit beteken: Hy kry swaar, hy is baie siek en hy is kwaad vir alles. Maar ek het ook iets gesien wat goed is: Dit is lekker om te eet en te drink en goeie dinge te geniet wanneer 'n mens sy hele lewe lank hard werk in hierdie wêreld. Dit is iets wat God vir hom gee. Wanneer God 'n mens ryk laat word en dit goed laat gaan met hom, en die mens kan eet en daarvan gebruik en hy kan die dinge geniet waarvoor hy hard gewerk het, dan is dit 'n present van God.
PREDIKER 5:16-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ook eet hy sy lewe lank in duisternis en het baie ergernis; daarby sy lyding en toorn! Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel. Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit 'n gawe van God.
PREDIKER 5:16-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy slyt die res van sy lewe in die donker, in smart, ellende en bitterheid. Ek het ook iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld. Dit kom 'n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk. God gee aan 'n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is 'n gawe van God.
PREDIKER 5:16-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Selfs al eet hy sy lewe lank in die donker; hy vermeerder net verdriet, sy siekte en die grimmigheid. Kyk, wat ek gesien het, wat goed en mooi is, is om te eet en te drink en te geniet wat goed is by al die inspanning waarmee iemand hom afsloof onder die son gedurende die min lewensdae wat God vir hom gee, want dit is sy beloning; boonop, dit geld vir elke mens aan wie God rykdom en besittings gee en vir wie Hy die geleentheid gee om daarvan te geniet, om dit as sy beloning te ontvang en vrolik te wees by sy inspanning. Dit is 'n gawe van God.
PREDIKER 5:16-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit is ook 'n groot onheil, dat hy in alle opsigte sal gaan soos hy gekom het; en watter baat het hy wat vir die wind gewerk het? En al sy dae eet hy in die duisternis, en hy het baie droefheid en toorn deur sy siekte. Kyk wat ek gesien het: dit is goed en lekker vir iemand om te eet en te drink en die goeie te geniet van al sy arbeid wat hy onder die son verrig al die dae van sy lewe wat God hom gee; want dit is sy deel.
PREDIKER 5:16-18 Die Boodskap (DB)
Bowendien is sy hele lewe ook vol swaarkry, kommer en pyn. Die allerbeste ding wat met ’n mens in sy lewe kan gebeur, is om te eet en te drink en die goeie dinge tussen al die swaarkry deur te geniet. Dit is die mens se enigste erfporsie hier op aarde. Wanneer God die mens rykdom gee en hom boonop toelaat om dit te geniet en hom vreugde tussen al die swaarkry hier op aarde gee, is dit ’n spesiale geskenk van God.
PREDIKER 5:16-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Lewenslank lewe hulle in die duister, in smart, ellende en bitterheid. Maar ek het darem ook iets goeds opgemerk: Dit is goed dat mense lekker eet en wyn drink en hulle werk geniet, wat hulle ook al onder die son doen, gedurende die tydjie wat God hulle laat lewe. Dit is hulle deel op aarde. En as God aan mense rykdom en besittings gee, en die vermoë om dit te geniet, is dit ook ’n geskenk uit sy hand dat ’n mens jou werk geniet en jou deel in die lewe aanvaar.